Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sportlui maak reg om terug oorsee te gaan
Die Springbok Lood de Jager is met ’n spesiale vlug, wat sy klub gereël het, terug Engeland toe. Foto: Getty Images

Met beroepsport wat wêreldwyd beplan om na die speelveld terug te keer, moet talle Suid-Afrikaanse sportlui deur ’n omvattende administratiewe proses gaan om oorsese vlugte te haal.

Selwyn Nathan, die Sonskynreeks se kommissaris, sê daar is ’n proses wat gevolg word om plaaslike gholfspelers en joggies na Amerika en Europa te laat reis, berig Cobus Claassen.

Die Europese reeks het pas aangekondig dat sy eerste toernooi – nadat die Covid-19-pandemie gholf wêreldwyd tot stilstand gebring het – op 22 Julie in Newcastle, Engeland, sal begin. Die Amerikaanse PGA-reeks bied in die tweede week van Junie sy eerste toernooi in drie maande, die Charles Schwab-uitdaagtoernooi, aan.

“Dié reekse moet namens die spelers ’n reispermit by die regering kry deur aan te dui dat hulle en hul joggies ’n noodsaaklike diens bied,” sê Nathan.

“Daar sal spesiale vlugte wees en hulle sal met hul aankoms daar vir twee weke in kwarantyn wees. Baie van ons spelers soos Charl Schwartzel en Branden Grace het egter in Amerika gebly toe die inperking begin het.”

Die Suid-Afrikaanse tennisafrigter John-Laffnie de Jager het Vrydag aan Johann de Jager gesê hy kry “sy papierwerk in orde” en sal dan vir die Amerikaanse ambassade wag om te hoor wanneer ’n vlug na die VSA beskikbaar is.

World Team Tennis (WTT) het vandeesweek die jawoord gekry om sy reeks vanaf 12 Julie by ’n oord in Wes-Virginië te speel. Dit is die eerste beroepstoernooi in Amerika sedert alle tennis weens die virus opgeskort is.

De Jager is die spankaptein van die Springfield Lasers.

Die rugbyspelersagent Gert van der Merwe sê dit is ’n logistieke uitdaging om spelers op ’n vliegtuig te kry gegewe die huidige reisbeperkings.

Die klub het vir ons ’n vlug gereël en ons het Maandag hier in Manchester aangekom.
Lood de Jager

Een van die spelers wat hy verteenwoordig, die Bok-stut Vincent Koch, moet eersdaags by Saracens in Engeland aanmeld.

“Jy moet goedkeuring by die Britse ambassade kry en dan by die Suid-Afrikaanse departement van binnelandse sake. As daardie proses afgehandel is, moet jy hoop en bid daar is ’n vlug beskikbaar,” sê Van der Merwe.

“Die gevaar is dat ’n speler sy kontrak kan verloor as hy nie betyds by sy oorsese klub aanmeld nie, want dit kom neer op kontrakbreuk.”

Die Springbok-slot Lood de Jager, wat vir die Sale Sharks speel, is reeds terug in Engeland.

“Die klub het vir ons ’n vlug gereël en ons het Maandag hier in Manchester aangekom,” sê De Jager.

“Dit was maar ’n storie, maar Sale het gelukkig alles hanteer. Ons moes by die ambassade aanmeld en is toe lughawe toe geneem.”

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Branden Grace het in die VSA agtergebly toe die Amerikaanse PGA-reeks weens die Covid-19-pandemie opgeskort is. Foto: Getty Images

De Jager se Bok-spanmaat Faf de Klerk is ook terug in Engeland.

Die Protea-netbalspelers wat vir Australiese netbalklubs speel, is nog onseker wanneer hulle na Doer Onder kan vertrek, berig Annchen Nel.

Die Australiese regering het vandeesweek toestemming gegee dat Lenize Potgieter, Shadine van der Merwe en Phumza Maweni na hul onderskeie klubs mag terugkeer.

“Die Suid-Afrikaanse en Australiese regerings en die klubs probeer die spelers nou daar kry, hetsy met ’n SAL- of Qantas-vlug,” sê ’n woordvoerder van Netbal Suid-Afrika (NSA).

“Die spelers het net vandeesweek ’n e-pos van hul klubs gekry om te sê dat hulle mag terugkeer.”

Dit is onseker wanneer die Australiese Superliga sal begin.

Maweni speel vir Queensland se Sunshine Coast Lightning en Potgieter en Van der Merwe vir die Thunderbirds van Adelaide.

Meer oor:  Netbal  |  Tennis  |  Lood De Jager  |  Gholf  |  Toetsrugby  |  Superrugby  |  Faf De Klerk  |  Branden Grace
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.