Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Suid-Afrika se vlag wapper hoog’

Suid-Afrika se vlag het hoog gewapper.

So het Aleck Skosana, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Sondagoggend gesê nadat die Kaapstad-marathon vir die eerste keer sedert 2013 ’n Suid-Afrikaanse wenner opgelewer het.

Die toeskouers was baie opgewonde toe die Suid-Afrikaner Stephen Mokoka Sondagoggend die eindstreep in die Kaapstad-marathon oorsteek. Foto: Jaco Marais

Stephen Mokoka (33), ’n boorling van Mafikeng, het boonop ’n nuwe byeenkomsrekord opgestel. Sy wentyd was 2 uur 8 minute 31 sekondes.

Hy het in sy eerste marathon op Suid-Afrikaanse bodem nie minder nie as vier Keniane stof in die oë geskop.

Hy is die eerste Suid-Afrikaanse wenner sedert die marathon in 2014 ’n heeltemal nuwe baadjie gekry het.

Mokoka se oorwinning is ’n groot pluimpie vir Elana Meyer, ’n wedloop-ambassadeur, wat hom oorreed het om hier te hardloop.

Hy het in 2017 die marathon in Sjanghai gewen en kon dus besluit het om weer in November daar aan te tree.

Dit was ’n vrugbare besluit want Mokoka het die prysgeld van R265 000 gewen, asook ’n bonus van R100 000 as ’n atleet van Suid-Afrika.

Helalia Johannes van Namibië wen die vrouewedloop.Foto: Jaco Marais

Die organiseerders en borge sal dit met ’n glimlag betaal want Mokoka se prestasie is puik blootstelling vir die marathon, die enigste marathon in Afrika wat goue status van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) geniet.

Ook die vrouewenner, Helalia Johannes, het die byeenkomsrekord verbeter. Die 38-jarige Namibiër het in 2:29:28 eerste oor die wenstreep gehardloop en die vorige rekord van 2:30:20 (van 2015) met 52 sekondes verbeter.

Mokoka is nou die SA marathon- en halfmarathonkampioen.

Die Kaapstad-marathon sal tot 2020 dien as die nasionale kampioenskappe.

Mokoka het in Julie vanjaar die SA halfmarathon in Port Elizabeth in 61:44 gewen.

“Dit is ’n skitterdag, ’n puik opset en byeenkoms.

“Dit is groots vir ’n SA deelnemer om ’n wedloop met goue status in Suid-Afrika te kan wen,” sê Skosana.

Ook Gert Oosthuizen, adjunkminister van sport, was daar om Mokoka se prestasie te aanskou.

Die Keniane Albert Korir (2:09:02) en Philemon Kacherian (2:09:13) het onderskeidelik tweede en derde geëindig.

Die elite-atlete het in perfekte, koel toestande weggespring.

Die mans se pas was uit die staanspoor blitsvinnig.

“Ná 6 km het dinge gestabiliseer.

“Daarna het ons ’n wind van voor gekry, en bietjie gesukkel. Ná die halfpadmerk het ons weer die pas versnel,” sê Mokoka.

Die voorste atlete het die halfpadmerk in Rondebosch in 1:04:18 bereik.

“Ek is baie tevrede met hoe alles verloop het,” sê Mokoka.

“Dit was taai, maar ek het dit geniet.

“As ons nie ’n bietjie wind gehad het nie, kon ons vinniger gehardloop het.”

Die langasem, wat Pretoria as sy basis gebruik, sê dit is fantasties om plaaslike ondersteuning te kan geniet en nie bekommerd te wees oor reis en tydsverskille nie.

Mokoka se vrou, Zintle, het haar man tuis op TV dopgehou. Hul eersteling word binne dae verwag.

Die Stellenbosser Nolene Conrad is die SA vrouekampioen. Sy was in die agtste plek die eerste Suid-Afrikaanse vrou in 2:34:39.

Sy het ’n nuwe persoonlike beste tyd opgestel. Haar vorige beste tyd in die marathon was 2:35:21, wat sy in 2017 in Valencia, Spanje, opgestel het.

Johannes, vanjaar se Statebondkampioen, sê dit is fantasties om in haar buurland te kan hardloop.

Sy was in 2017 ’n pasaangeër en het eindelik tweede geëindig.

Johannes sê sy wou vanjaar bitter graag wen.

“Ek sal graag wil terugkom as ek weer genooi word,” sê sy.

Uitslae

Marathon

Mans

1. Stephen Mokoka (SA) 2:08:31

2. Albert Korir (Kenia) 2:09:02

3. Philemon Kacherian (Kenia) 2:09:13

4. Kipsang Kipkemoi (Kenia) 2:09:21

5. Nicholas Rotich (Kenia) 2:12:39

6. Benedict Moeng (SA) 2:12:53

7. Kenneth Limo (Kenia) 2:13:20

8. Negash Duki Abebe (Ethiopië) 2:13:41

9. Munyaradzi Jari (Zimbabwe) 2:14:02

10. Desmond Mokgobu (SA) 2:14:13.

Vroue

1. Helalia Johannes (Namibië) 2:29:28

2. Failuna Matanga (Tanzanië) 2:30:00

3. Urge Sokoka Diro (Ethiopië) 2:30: 31

4. Ayantu Gemechu Abdi (Ethiopië) 2:31:33

5. Askale Alemayehu Adula (Ethiopië) 2:31:34

6. Ellie Pashley (Australië) 2:31:52

7. Neheng Khatala (Lesotho) 2:33:41

8. Nolene Conrad (SA) 2:34:39

9. Almaz Fekade (Ethiopië) 2:35:43

10. Bizunesh Tesema (SA) 2:37:35.

10 km

1. Lesiba Precious Mashele 29:10.

2. Irvette van Zyl 32:48.

Veldwedloop 22 km

1. Givemore Mudzinganyama 1:32.07

2. Bianca Tarboton 1:46.01.

Veldwedloop 12 km

1. Admire Rushika 50:09

2. Leanda du Bruyn in 1:03.22.

Meer oor:  Stephen Mokoka  |  Kaapstad-Marathon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.