Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sainz seëvier op somber dag by Dakar
Die Portugese motorfietsjaer Paulo Gonçalves (Hero) ry Sondag in sneltrajek 7 oor ’n sandduin. Hy het hom later geval en noodlottige beserings opgedoen. Foto: Reuters

Die Dakar-veldtydren is Sondag geskud deur die dood van ’n motorfietsjaer, maar die res van die deelnemers het nogtans die dag se sneltrajek voltooi.

’n Somber atmosfeer het by die tentkamp by Wadi Al Dawasir geheers ná die dood van die 40-jarige Dakar-veteraan Paulo Gonçalves van Portugal, wat Sondagoggend halfpad deur sneltrajek 7, wat 546 km lank is, geval het en noodlottig beseer is.

Die ren is vroeër die oggend in ’n koel Riaad hervat ná Saterdag se rusdag. Die roete van altesaam 741 km na Wadi Al Dawasir was die langste tot dusver.

Die Spanjaarde Carlos Sainz en Lucas Cruz (Mini) op pad na hul skofoorwinning. Hulle is ook die algehele voorlopers. Foto: AP

Daar was weer ’n strawwe stryd in die motorafdeling. Die Spaanse dubbele wêreldtydrenkampioen Carlos Sainz was die wenner in sy Mini-buisraammotor. Dit was sy derde sneltrajek-oorwinning uit die sewe tot dusver en het sy algehele voorsprong verstewig.

Die Toyota Gazoo-renspan se 2019-Dakar-kampioen, Nasser Al-Attiyah, was die tweede vinnigste in sy veel swaarder Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux, met die Franse Dakar-koning, Stéphane Peterhansel, derde in nog ’n Mini.

Die res van die Toyota Hilux-kwartet – Bernhard ten Brinke (4de), Yazeed Al Rajhi (5de), Fernando Alonso (6de) en Suid-Afrika se Giniel de Villiers (7de), was volgende. Ten Brinke, Alonso en De Villiers is almal deel van die Toyota Gazoo-renspan.

“Dit was ’n baie vinnige en baie hartseer sneltrajek vandag,” het De Villiers op Twitter gesê. “Ons meegevoel met die familie van Paulo Gonçalves. Rus in vrede.”

Nog ’n Suid-Afrikaanse verbintenis is die Franse jaer Matthieu Serradori, wat tot ’n uiteindelike 20ste algeheel herstel het nadat hy sy SA geboude Century-Chevrolet-buisraammotor uit die sand moes grawe – iets wat die tweewiel-aangedrewe Mini’s tot dusver vrygespring het.

Die Suid-Afrikaanse private jaer Hennie de Klerk en sy navigator, Johann Smalberger, het hul Nissan Navara in ’n skitterende 26ste plek oor die wenstreep gestuur. Hul Red-Lined-spanmaats Thomas Bell en Patrick McMurren was 36ste.

Giniel de Villiers aan die stuur van sy Toyota Hilux. Foto: Verskaf

Wat die algehele stand van sake betref, is Sainz tien minute voor Al-Attiyah, met Peterhansel derde, gevolg deur Al Rajhi en Orlando Terranova (Mini). De Villiers het tot sesde opgeskuif, met Ten Brinke nou sewende algeheel. Alonso, wat verlede week meer as drie uur verloor het nadat hy ’n rots getref en ’n wiel afgery het, is nou 15de algeheel.

Die afdeling vir motorfietse is uiteindelik deur die Honda-jaer Kevin Benavides gewen. Sy tyd is aangepas nadat hy bykans ’n uur by die beseerde Gonçalves deurgebring het. Joan Berrada was tweede, gevolg deur die KTM-jaers Matthias Walkner (Oostenryk) en Luciano Benavides (Argentinië), sowel as Ricky Brabec (VSA) en José Ignacio Cornejo Flormino (Chili) op nog twee Hondas. Die Australiër Toby Price was sewende nadat sy tyd ook aangepas is, met Pablo Quintanilla van Chili (Husqvarna) agtste.

Die KTM-jaer Ross Branch van Botswana was 16de, terwyl die twee SA vrouejaers, Taye Perry en Kirsten Landman, onderskeidelik 51ste en 59ste was.

Die Suid-Afrikaner Stuart Gregory, wat op eie houtjie in die Malle Moto-klas jaag en saans self sy motorfiets moet versien, was 68ste met Graeme Sharp van Zimbabwe 85ste.

Nasser Al-Attiyah (Toyota Gazoo) in die sewende sneltrajek. Foto: Verskaf

Maandag se roete neem die deelnemers op ’n sirkelroete van 477 km om Wadi Al Dawasir. Die roete, wat uit bykans 60% sand bestaan, strek aanvanklik suidwaarts met nog berge van tot 1 000 m hoog met diep skeurvalleie, wat waarskynlik puik foto’s in die kleurvolle landskap met swart klippe en wit sand sal oplewer. Die roete sluit ’n reguit stuk sand van sowat 40 km in, waar die topjaers die lepel sal plattrap en dié met senuwees van staal waarskynlik eers sal lig wanneer hulle deur is.

Die wedren eindig Vrydag.

Meer oor:  Giniel De Villiers  |  Dakar  |  Carlos Sainz  |  Motorsport  |  Paulo Goncalves
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.