Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sakkerige sweetpakke ou Saskok-laai
Suid-Afrika se Olimpiese atlete in die sweetpakke wat hulle in die verleentheid gebring het.Foto: Getty Images

Ek het Woensdag amper oor ’n rooi verkeerslig gery toe ek oor die motorradio hoor hoe Saskok (die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee) aan die parlement probeer verduidelik dat dit nie so erg was dat deelnemers aan vanjaar se Olimpiese Spele moes sukkel met klere wat te groot was nie.

Daar was volgens Saskok glo net ’n enkele atleet wat gekla het, as ek reg gehoor het.

Ek was so ontstoke dat ek nie eens behoorlik verder geluister het nie.

Daar was vroeër talle stories in die media én sosiale media oor die fiasko met die Suid-Afrikaanse span se klere.

Dit was ook nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse sportlui op ’n Spele met oorgroot sweetpakke moes sukkel nie.

Ek sal weet, want ek het óók oorgroot klere wat deur Saskok gereël is.

Om te sê dat ek opgewonde en oorweldig was by die blote gedagte om agt jaar gelede aan die Olimpiese Spele in Beijing deel te neem, is om dit sagkens te stel.

Maar ’n deel van dié euforie het net so vinnig soos die oortrokke Beijingse weer in hitte van meer as 40°C verdwyn.

Die egpaar Mike en Elvira Wood in 2008, toe hulle Suid-Afrika op die Olimpiese Spele in Beijing verteenwoordig het. Foto: Gallo Images

As ek reg onthou, het ons voor ons vertrek na Beijing een sweetpak van Sedgars en ons formele klere gekry met die belofte dat ons die res daar sou ontvang.

In Daegu, Suid-Korea, het die wenkbroue gelig toe ons ons klere, wat deur Mizuno geborg is, gekry het. Ons wou weet of dit die regte klere was nog voor ons die pakkies oopgemaak het.

Die kleure daarvan het veel eerder herinner aan dié van Brasilië as Suid-Afrika: helder liggroen en neon geel.

Die meeste van die klere was ook hopeloos te groot. Atlete het probeer uitruil, maar ’n kleremaker is inderhaas gekry om van die vroue s’n kleiner te maak.

My man, Mike, se klere het gepas omdat hy ses voet in sy sokkies staan, maar ’n mens kan nou nog duidelik sien hoe myne kleiner gemaak is.

Daar was ook ’n bohaai oor die vrouehokkiespan se klere omdat hulle glad nie kortbroekies gekry het om onder hul rompies te dra nie. Hulle moes inderhaas Daegu se strate invaar om betyds broekies te kry.

En dan praat ek nie eens van die “kombersbroeke” nie. Ek het hulle nie meer nie, maar het wel my sweetpak vir koue winters in Suid-Afrika gehou.

Dit is van só ’n dik materiaal gemaak dat dit jou aan ’n besondere ongemaklike en warm kombers herinner het wat jy nie juis in die bedompige Chinese hitte kon dra nie.

Chad le Clos het amper verdrink in sy oorgroot sweetpak.Foto: Gallo Images

Ons was gelukkig – daar was absoluut niks fout met ons skermklere nie.

Maar ons het self daarvoor betaal. Saskok wou nie vir ons nuwe klere kry nie. Daar is weens veiligheidsredes baie spesifieke spesifikasies vir dié klere, so enige borg kon nie sommer net genader word nie.

Mense sal seker vra hoekom sportlui klere moet kry.

Saskok wil hê almal moet dieselfde lyk, net soos dit maar die geval met al die spanne is.

Jy moet die heeltyd dieselfde lyk; of jy nou deelneem, oefen of net na die eetsaal stap.

As jy dus in warm somerweer twee keer ’n dag oefen, moet jy heelwat klere hê. Die drie T-hemde en kortbroeke wat ons in Beijing gekry het, was nie genoeg nie.

Van die ander klere was bloot onprakties. Ons formele uitrustings het bestaan uit pakke van suiwer wol, langmou- hemde met ’n serpie en hoëhak-enkelstewels.

Die ander keuse was die wit “pajamas” wat die span tydens die openingseremonie gedra het en wat só deurgeskyn het dit nie eens snaaks was nie. O ja, met groen Crocs daarby. Besonder sportief.

Elvira Wood

Ek het gelukkig van my klere saamgeneem wat ons ’n jaar vroeër vir die Afrika-Spele in Algiers, Algerië gekry het.

Dit is Sedgars-klere wat in Suid-Afrika vervaardig is.

Dit was die regte kleur. Donker groen, goud en wit.

Dit is mooi en duursaam. Ek dra al meer as agt jaar lank van my sweetpakke en hulle lyk nog net so mooi as op die dag wat ek hulle gekry het.

Boonop pas dit.

Wanneer gaan Saskok sy kop uit die sand haal en erken hy sukkel al jare lank om sy spanne behoorlik uit te rus? Hoekom ondersteun hy nie ons eie Suid-Afrikaanse maatskappye nie?

Hou op om ons atlete soos die weeskinders van Afrika te laat lyk wanneer ons by die Spele opdaag.

Ons is almal so geweldig trots om ons land daar te verteenwoordig.

Dit is nou vier jaar voor die volgende Spele in Tokio. Kry ’n nuwe Suid-Afrikaanse ontwerper en laat ons net soveel goue opmerkings kry oor hoe goed ons deelnemers lyk as wat ons op vanjaar se Spele medaljes verower het.

* Elvira Wood het in 2008 Suid-Afrika in die sabel-skermitem op die Olimpiese Spele in Beijing, China, verteenwoordig. Sy en haar man, Mike, was die tweede Suid-Afrikaanse egpaar wat aan dieselfde Spele deelgeneem het. Sy is nou ’n sakejoernalis by Netwerk24.

Meer oor:  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.