Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Salaris laat Cavendish neus optrek vir Tour

Die Britse fietsryer Mark Cavendish, wat spog met 30 skofseges in die Tour de France, is nie bereid om vir sy huidige salaris aan vanjaar se Tour deel te neem nie.

Cavendish (36), wat vir die Deceuninck-Quick Step-span ry, word deur baie as een van die beste naelryers van alle tye beskou.

Mark Cavendish toe hy die 14de skof van die Tour de France in 2016 gewen het – sy vierde sege in daardie jaar se wedren. Foto: Getty Images

Maar ten spyte van vier skofseges in April in die Turkse fietstoer, ’n wedren wat allermins nie in dieselfde asem as die Tour genoem kan word nie, nader Cavendish se loopbaan ’n einde.

Dit is immers vyf jaar sedert sy laaste skofsege in die Tour, toe hy in 2016 vier keer glorie gebring het vir die Suid-Afrikaanse Dimension Data-span, deesdae bekend as Qhubeka Assos, vir wie hy destyds gery het.

In 2020 het dit maar broekskeur met Cavendish gegaan en sy peil was swak toe hy op Bahrain-McLaren se boeke was.

’n Kontrak van Deceuninck-Quick Step, ’n Belgiese span, het nuwe lewe in sy loopbaan geblaas. Om Cavendish in diens te neem, het die Belge nie ’n fortuin gekos nie.

Mark Cavendish is nie bereid om vir die huidige salaris wat hy verdien aan vanjaar se Tour de France deel te neem nie. Foto: Getty Images

Maar toe vertoon Cavendish effens beter as wat verwag is, en die span se voorste naelryer, Sam Bennett, doen ’n kniebesering op.

Dit beteken dat daar onsekerheid bestaan of Bennett, ’n Ier wat die punteafdeling van 2020 se Tour gewen het, later vandeesmaand sal reg wees wanneer die wêreld se mees prestigeryke fietswedren begin.

Bennett se besering het die ringkoppe van Deceuninck-Quick Step genoop om nuwe planne te maak en die span se baas, Patrick Lefevere, laat besluit om Cavendish te nader.

“Ek het Sondagaand saam met Mark gaan eet en die vraag het opgekom. Wil jy aan nog ’n Grand Tour deelneem?” skryf Lefevere in ’n rubriek in die Vlaamse koerant Het Nieuwsblad.

“Mark het geantwoord: ‘Vir hierdie salaris, nee.’”

Maar Lefevere sê hy begryp Cavendish se standpunt, siende dat daar nie sprake was dat die Brit vir die Tour sou aantree toe hulle sy dienste bekom het nie.

“Vir hom beteken dit om onder druk te ry, en ook dat hy voortdurend deur die media dopgehou gaan word. As hy selfs net naby daaraan kom om te wen, gaan almal dadelik begin praat oor Eddy Merckx se rekord,” sê Lefevere.

Merckx ’n vyfmalige wenner van die Tour, hou met 34 seges die rekord vir die meeste skofseges in dié wedren.

• Vanjaar se Tour begin op 26 Junie in Brest. – Sportredaksie


Meer oor:  Mark Cavendish  |  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.