Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Saoedi-Arabië is dalk nuwe boksmekka

Saoedi-Arabië gaan nog by Las Vegas oorneem as die mees gesogte plek waar groot boksgevegte aangebied word.

Altans, dit is wat die Britse promotor Eddie Hearn glo. Hy is die promotor van die naweek se groot swaargewigtitelgeveg tussen Andy Ruiz van Mexiko en Anthony Joshua van Brittanje in dié land in die Midde-Ooste.

Andy Ruiz verdedig hierdie naweek sy swaargewigtitels teen Anthony Joshua in Saoedi-Arabië. Foto: Getty Images

Ruiz verdedig Saterdag in Dirijah sy titels van die Wêreldboksvereniging (WBV), Wêreldboksorganisasie (WBO), Internasionale Boksfederasie (IBF) en Internasionale Boksorganisasie (IBO) teen Joshua.

Dirijah is noordwes van Saoedi-Arabië se hoofstad, Riaad, geleë.

“Elke bokser en elke bestuurder wil hier veg. (Manny) Pacquiao en Canelo (Alvarez) gaan hierheen kom. Daar is sprake van (Floyd) Mayweather wat hier gaan boks. Almal wil ’n deel van die aksie hê,” het Hearn aan The Guardian gesê.

“Die plan is om Saoedi-Arabië die tuiste van mega-boksgevegte te maak.”

Wat dan van Madison Square Garden in New York, of die groot casino’s in Las Vegas en Atlantic City en die O2- en Wembley-arenas in Londen?

In hierdie stadium neem Dirijah vir eers net sy plek in as een van vreemde plekke waar swaargewigkampioene al hul titels gaan verdedig het.

Hoewel dit nie vreeslik baie gebeur nie, is dit niks nuuts nie. Deur die jare is daar wel ’n paar sulke gevegte wat uitstaan wanneer ’n mens deur die rekords gaan.

John L. Sullivan van Amerika het al in 1888 sy titel teen die Engelsman Charlie Mitchell in Chantilly, Frankryk, verdedig.

Hasim Rahman het Lennox Lewis in 2001 in Brakpan uitgeslaan. Foto: Getty Images

In 1915 het Jess Willard vir Jack Johnson in Havana, Kuba, uitgeslaan en Primo Carnera was in 1933 in Rome teen Paulino Uzucdun van Spanje baas.

Hoewel Rome en Havana groot stede is, is dit nie as gesogte plekke waar beroepswaargewigboksers hul titels verdedig bekend nie.

Kubaanse boksers is vir jare nie toegelaat om vir geld te boks nie en swaargewig- Italiaanse boksers van formaat is dun gesaai.

Francesco Damiani het wel in 1989 die WBO-titel gewen en het dit toe in die Italiaanse stad Cesena teen Daniel Netto van Argentinië gaan verdedig.

Jimmy Ellis het sy WBV-titel in 1968 behou toe hy Floyd Patterson in Stockholm met punte oor 15 rondes verslaan het.

Gedurende die sogenaamde goue era van swaargewigboks was daar sommer ’n hele paar interessante uitstappies.

Dit het begin met George Foreman wat vir Joe Frazier in Januarie 1973 binne twee rondes in Kingston, Jamaika, verwoes het.

’n Paar maande later het Groot George vir José Roman in Tokio in die eerste ronde platgeslaan. Tokio het later ’n meer gewilde bestemming vir swaargewigte geword, maar toe was dit nog iets snaaks.

In 1974 het Foreman eers vir Ken Norton in Caracas, Venezuela, gaan uitslaan en toe word hy self in Kinshasa, Zaïre, deur Muhammad Ali uitgeslaan.

Ali het ook graag gereis en het in 1975 vir Joe Bugner in Kuala Lumpur, Maleisië, gepak. Ali was dalk bietjie vlugvoos, want hy het gesukkel om die Engelsman met punte te klop.

’n Plakkaat wat die beroemde “Rumble in the Jungle” tussen Muhammad Ali en George Foreman adverteer.Foto: Getty Images

In dieselfde jaar het Ali egter na Manila in die Filippyne gevlieg om daar met Frazier te gaan afreken.

Ali was goed met rympies en slagspreuke en het sy geveg in Zaïre “the Rumble in the Jungle” gedoop en het na sy geveg in Manila as “the Thrilla in Manila” verwys.

Suid-Afrika is self – weens sy destydse beleid van apartheid – op ’n tyd as ’n vreemde plek vir ’n geveg vir die swaargewigtitel van die wêreld beskou.

Gerrie Coetzee het wel in 1979 teen John Tate op Loftus Versfeld in Pretoria geveg.

Coetzee het dié geveg, asook die twee in 1980 en 1984 by Sun City teen onderskeidelik Mike Weaver en Greg Page verloor.

Brakpan, van alle plekke, het in 2001 ook skielik meer bekend geword toe Hasim Rahman vir Lennox Lewis by Carnival City uitgeslaan het om die kampioen te word.

Toe die Klitschko-broers van Oekraïne, Wladimir en Vitali, die swaargewigtoneel begin oorheers het, het hulle Duitsland as basis gebruik.

Wladimir Klitschko het sy WBO-titel in 2002 in Stuttgart, Duitsland, teen Frans Botha verdedig. Foto: Getty Images

Toe was dit later nie meer snaaks om titelgevegte in plekke soos Mannheim, Kiel en Düsseldorf te sien nie. In 1995 was dit egter nogal ’n storie toe Frans Botha die IBF-titel in Stuttgart teen Axel Schulz gewen het.

Nie een van hierdie plekke waar daar een of dalk ’n paar keer om die swaargewigtitel geveg is, kon hom as die mekka van swaargewigtitelgevegte vestig nie.

Dis onwaarskynlik dat die een of ander stad in Saoedi-Arabië dit nou gaan doen.

Maar die geveg hierdie naweek daar beteken wel dat daar ’n nuwe rolspeler op die mark is.

Diegene wat titelgevegte in plekke soos Las Vegas, New York en Londen wil aanbied, sal nou moet rekening hou met die geld wat uit Saoedi-Arabië voor die boksers se neus gewaai gaan word.

Bronne: The Ultimate Encyclopedia of Boxing – Harry Mullan; boxrec.com

Meer oor:  Boks  |  Andy Ruiz  |  Saoedi-Arabië  |  Anthony Joshua
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.