Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Saskok gaan ‘verander’, maar hoe?

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, en die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) gee toe dat dié organisasie dringend moet hervorm, maar is vaag oor hóé dit vermag gaan word.

Barry Hendricks, vise-president van Saskok. Foto: Gallo Images

Mthethwa en Barry Hendricks, vise-president van Saskok, het die media Maandagaand toegespreek nadat hulle vergader het met ’n komitee wat moet sorg dat aanbevelings deur die Zulman-kommissie nagekom word.

Die Zulman-kommissie het aan die begin van 2018 ondersoek ingestel na die doen en late van Saskok se ringkoppe en bevind dat die organisasie “disfunksioneel” was, geld gemors het en ook nie aan die regering se vereistes voldoen nie.

Regter Ralph Zulman, die oud-krieketbaas Ali Bacher en die arbeidsprokureur Shamima Gaibie is gevra om ondersoek in te stel na Saskok se sake nadat die Olimpiese liggaam se uitvoerende hoof, Tubby Reddy, en finansiële hoof, Vinesh Maharaj, in Januarie 2018 weens finansiële ongerymdhede afgedank is.

Mthethwa en Hendricks sê dat daar ooreengekom is dat verandering nodig is op grond van die aanbevelings van die Zulman-verslag, maar toe hulle oor dié veranderinge gepols is, was daar geen duidelikheid oor wat bespreek is nie.

Mthethwa het daarop gesinspeel dat Saskok binnekort verskeie nuwe gesigte sal hê wat in beheer van sake sal wees, maar oor wie dié persone moontlik kan wees, of watter posisies hulle sal beklee, was daar ook geen antwoord nie.

“Dinge moet verander, wat beteken dat daar nuwe gesigte moet wees,” het Mthethwa gesê.

“Ons wil sien dat Saskok gebaseer op die aanbevelings van Zulman vorentoe beweeg.”

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Gallo Images

Mthethwa het bygevoeg dat hulle aandag aan die negatiwiteit rondom Saskok wil gee.

“Ons moet prosesse bespoedig. Teen die tyd dat die algemene jaarvergadering op 23 November gehou word, moet die lede van die vergadering ingelig oor die nakomingskomitee se instruksies wees.”

Gideon Sam, die huidige president van Saskok, tree in Desember af, wat beteken dat dié liggaam ’n nuwe leier sal kry.

Saskok sal volgende jaar in Maart sy algemene verkiesing hou nadat dit oorspronklik in November 2020 sou wees.

Hendricks het ook die term “verandering” vrylik rondgegooi sonder om daaroor uit te brei.

“Verandering is dringend nodig,” het hy gesê.

“Dis wat ons lede en die publiek verwag. Dis ook in pas met die aanbevelings van die Zulman-verslag. Hoe vinniger daar verandering is, hoe beter sal dit vir ons wees. Ons steun die minister en sal seker maak dat die veranderinge vinnig gebeur.”

Toe die Zulman-verslag uitgereik is, was een van die bekommernisse dat dit met die Internasionale Komitee (IOK) se handves oor politieke inmenging sou bots.

Een van die voorstelle was dat Saskok se voorsitter onafhanklik moet wees sonder enige affiliasie met enige sportliggaam, terwyl dié persoon ook deur ’n onafhanklike komitee aangestel moet word.

Saskok het egter nie saamgestem nie en gesê dat die president deur die algemene vergadering aangewys moet word.

Hendricks meen egter dat daar geen konflik met die IOK se handves is nie en dat hulle aan die vereistes voldoen.

In terme van die tydlyn het ons die algemene jaarvergadering in November waar talle kwessies aandag moet kry.

“In terme van die tydlyn het ons die algemene jaarvergadering in November waar talle kwessies aandag moet kry.

“Heelparty dinge het al verander as daar na die Zulman-verslag gekyk word.”

“Daar was sekere bedryfskwessies wat aandag moes geniet en ons werk daaraan in terme van ons finansies. Selfs al is dit (die finansiële situasie) nie goed nie, maak ons seker dat ons aan die verwagtinge voldoen. Ander kwessies neem langer, soos veranderinge aan ons grondwet.”

Hy het bygevoeg dat daar wel ’n aspek van onafhanklikheid is wat binne die organisasie beoog word.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Nathi Mthethwa  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.