Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Kommissie bevind: 'Raad werk in onetiese stelsel'
Saskok se Gideon Sam oor kole gehaal

Saskok se raad is disfunksioneel en oorsien al jare lank ’n onetiese, ondeursigtige stelsel waarin geen aanspreeklikheid geld nie.

In Gideon Sam het die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee boonop ’n diktatoriale president wie se bestuurstyl onvanpas is vir ’n openbare instelling soos Saskok.

Die Saskok-president, Gideon Sam.Foto’S: Gallo Images
Regter Ralph Zulman.

Dít tel onder die bevindings vervat in die Zulman-kommissie se opsommende verslag na aanleiding van sy openbare verhoor by Ellispark vroeër vanjaar.

Regter Ralph Zulman, die oud-krieketbaas Ali Bacher en arbeidsprokureur Shamima Gaibie is laat verlede jaar deur die nasionale departement van sport en ontspanning getaak om Saskok te ondersoek nadat dissiplinêre optrede teen die voormalige uitvoerende hoof Tubby Reddy, finansiële hoof Vinesh Maharaj en kantoorbestuurder Jean Kelly ’n katnes van ongerymdhede oopgekrap het.

Reddy, Maharaj en Kelly is almal aan die begin van die jaar deur Saskok afgedank.

Reddy se appèl teen sy ontslag sal na verwagting aanstaande maand deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KBVA) aangehoor word. Die ander twee het hul by hul lot berus.

Die Zulman-kommissie het in Februarie en Maart geskrewe en mondelinge getuienis van meer as 30 persone ontvang.

Die verrotting in die Olimpiese liggaam begin volgens die verslag by Sam, wat:

  • geweier en/of gefaal het om raadslede te raadpleeg voordat hy besluite namens Saskok gemaak en in werking gestel het;
  • geweier en/of gefaal het om Saskok-beleid te volg oor die aanstelling van diensverskaffers – dikwels teen ’n “astronomiese koste vir Saskok”; en
  • voordele vir raadslede goedgekeur het wat ingedruis het teen Saskok-beleid.

Die verslag sê voorts:

  • Sam se leierskapstyl is “hoogs onvanpas vir ’n openbare instelling soos Saskok”.
  • Sy eensydige benadering tot die bestuur van Saskok is “byna diktatoriaal” van aard, nie deursigtig nie en druis in teen die basiese beginsels van verantwoordbaarheid.
  • Die Saskok-president se leierskap in die oorweging van die uitkoms van interne ondersoeke was gebrekkig en het tot onreëlmatighede gelei.
  • Sy teenwoordigheid in talle rade laat kommerwekkende vrae ontstaan oor konflik van belange.

Reddy, wat in Januarie afgedank is nadat hy skuldig bevind is aan twee klagte van seksuele teistering en ’n menigte klagtes van korrupsie en oneerlikheid, is ook nie kritiek gespaar in die Zulman-verslag nie.

Hy word veral oor die kole gehaal vir sy bande met SS Griffin, ’n sekerheidsmaatskappy wat hy as Saskok-grootbaas aangestel het om personeellede te ondersoek, en wat ’n verslag saamgestel het wat Sam en ander swartgesmeer het.

Die Zulman-kommissie het bevind dat Reddy se “manipulering van die Griffin-verslag en voorlegging daarvan aan die minister (van sport) strydig met Saskok-beleid, oneties en oneerlik was en neerkom op bedrieglike wanvoorstelling”.

Reddy word ook deur die kommissie gekap omdat hyself en Vlugbal Suid-Afrika (waarvan hy steeds ere-president is) SS Griffin betaal het, terwyl hulle gevra is om werk vir Saskok te doen.

Maharaj word deur die kommissie beskuldig van korrupsie omdat hy persoonlike sake met ’n Saskok-diensverskaffer gedoen het. Dit is een van die redes waarom hy afgedank is.

Die Zulman-kommissie was by magte om aanbevelings te maak, maar dít is nie afdwingbaar nie.

Aanbevelings:
  • Die poste van president, rekenmeester en prokureur moet beklee word deur persone wat nie geaffilieer is aan enige ander sportliggaam nie en deur ’n onafhanklike komitee aangestel word.
  • Saskok-raadslede moet afstand doen van hul lidmaatskap van ander sportliggame wanneer hulle verkies word.
  • Raadslede moet geldelike kommissie wat hulle van ander organisasies ontvang, verklaar.
  • Daar moet verseker word dat besluite geneem word binne ’n stelsel van deursigtigheid en verantwoordbaarheid.
  • ’n Volledige en deeglike finansiële oudit van die laaste vyf jaar moet gedoen word.

Meer oor:  Gideon Sam  |  Raad  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.