Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Schumi gaan sy pa se renmotor bestuur
Michael Schumacher in 2004 in sy F2004-renmotor, terwyl sy Ferrari-span oor sy sewende F1-wêreldtitel op Hockenheim juig. Foto: Getty Images
Michael Schumacher vier sy titel, die laaste in sy uiters suksesvolle loopbaan in motorsport. Foto: Getty Images

Die renmotor waarmee Michael Schumacher sy rekord sewende Formule Een-wêreldtitel in 2004 beklink het, keer volgende maand terug na die Hockenheim Ring-baan met sy seun, Mick, agter die stuur.

Stuff berig F1-beamptes het Maandag bevestig dat Mick sy pa se Ferrari F2004-renmotor op die Duitse Grand Prix – wat van 27 tot 28 Julie gehou word – in ’n vertoning om die baan gaan bestuur.

Mick, wat vanjaar vir die Prema Racing-span in die F2 meeding en ook by Ferrari se renjaer-akademie betrokke is, sal die motor bestuur voor Saterdag se kwalifiseringsronde en weer voor die renjaer-parade in die aanloop tot Sondag se wedren.

“Ek dink dit is ’n groot ding om hierdie motor op Hockenheim te bestuur,” sê die 20-jarige Duitser.

“Ek sal agter die stuur sit in een van die kragtigste renmotors in die F1-geskiedenis. Ek kry ’n groot glimlag op my gesig.”

Sy pa het 91 van sy F1-seges op Hockenheim behaal, terwyl Mick verlede jaar die Europese F3-titel op dié renbaan in die Rynvallei beklink het.

Michael Schumacher se seun, Mick. Foto: Getty Images

“Dit sal ’n emosionele oomblik wees om Mick te sien agter die stuur van ’n renmotor wat met soveel wonderlike herinneringe verbind word,” sê Ross Brawn, F1 se besturende direkteur.

“Die F2004 is ’n fantastiese motor, met 15 seges en albei titels in ’n seisoen wat as die kroon in ’n goue tydperk beskou word.”

Baie min inligting is bekend oor die 50-jarige Michael Schumacher se gesondheid sedert hy in Desember 2013 ernstige breinbeserings in ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen het.

’n Nuwe dokumentêre program Schumacher, wat oor sy lewe handel, word in Desember in Duitssprekende lande uitgereik.

Schumacher is met die toestemming van die motorsportikoon se vrou, Corinna, asook ander familielede soos sy seun gemaak.

In die dokumentêr is glo eksklusiewe onderhoude met familielede en vriende.

In Schumacher word ook besonderhede oor die ski-ongeluk, sy suksesvolle loopbaan en sy unieke leefstyl verskaf.

– Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Mick Schumacher  |  Motorsport  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.