Michael Schumacher se seun, Mick, het die motorsportwêreld aan sy voete, maar die tiener sukkel steeds met die werklikheid van sy pa se gesondheid.

Mick Schumacher sukkel glo met die werklikheid van sy pa se gesondheidstoestand. Foto: Getty Images
Mick is in Oktober gekroon as Formule Drie se nuwe Europese kampioen, ’n sege wat hy aan sy pa opgedra het, en daar word nou selfs gepraat van ’n loopbaan vir hom in Formule Een.
Sy eerste F3-titel beteken hy het gekwalifiseer vir die FIA se super-lisensie, wat ’n voorvereiste is vir die sprong na F1.
Mick is in Maart 1999 gebore, die jaar voordat sy pa die eerste van sy vyf agtereenvolgende F1-wêreldtitels verower het vir Ferrari.
Schumacher se gesin en familievriende is deurlopend suinig met nuus oor die motorsportlegende se toestand sedert hy op 29 Desember 2013 in ’n ski-ongeluk in Meribel in die Franse Alpe kritieke kopbeserings opgedoen het.
Hy het twee breinoperasies ondergaan en daar word bespiegel dat hy sedert hy in Junie 2014 uit ’n mediese koma van ses maande lank ontwaak het, bedlêend in sy huis in Switserland is.
Mick word weens sy enorme talent gereeld met sy ikoniese pa vergelyk en Stuff berig hy is in sy skik daarmee.
“Om eerlik te wees maak dit my baie gelukkig,” sê Mick.
“Soos ek al voorheen gesê het, hy is my held, ek kyk op na hom.”

Michael Schumacher spreek die media toe voor die Brasiliaanse Grand Prix in Oktober 2006. Foto: Getty Images
Die 19-jarige Mick word hoog aangeskryf in die motorsportwêreld en kenners meen dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy in sy pa se F1-wielspore volg.
Schumacher jr. se naam word verbind met ’n skuif na verskeie F1-spanne vir 2019, maar weens sy jong ouderdom blyk dit hy sal vir eers geduldig sy deugde in F2 skaaf tot en met 2020.
Mick se vriend en mederenjaer, Nicklas Nielsen, bied ’n skaars insig oor hoe die jonger Schumacher sy pa se gesondheidstoestand hanteer.
“Mick sê nie hy is hartseer oor sy pa nie. Hy sê net soms dat dit baie moeilik is,” sê Nielsen.
Hy bevestig uiteraard dat Mick baie privaat is oor sy pa se toestand.
“Dit is heeltemal geslote en hulle (Schumacher-familie) praat nie daaroor nie. Ek neem nog ’n bietjie aan stelrenne deel saam met Ralf Schumacher en sy span en niemand praat daaroor nie,” sê Nielsen.
“Dit mag dalk wees dat Michael aan die herstel is en eers weer in die openbaar sal verskyn wanneer hy sy rehabilitasie volkome voltooi het. Maar dit is moeilik om te spekuleer wat aangaan.”
Schumacher se vrou, Corinna, het onlangs haar stilte in ’n brief verbreek deur aanhangers te bedank vir hul ondersteuning gedurende wat sy as ’n “moeilike tydperk” beskryf.
“Dit is goed om so baie gawe wense en mooi boodskappe te ontvang, dit is goeie ondersteuning vir ons gesin. Ons weet almal Michael is ’n vegter en sal nie opgee nie,” sê sy in die brief.
– Sportredaksie