Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Schumacher se droom verpletter
Michael Schumacher se droom was glo om sy seun, Mick, na die kruin van F1 te help. Foto: Getty Images

Michael Schumacher se voormalige bestuurder sê dié motorsportlegende het “in die geheim beplan” om sy seun, Mick, se loopbaan te bestuur voor sy ski-ongeluk.

Willi Weber sê in ’n onderhoud met die Duitse webtuiste motorsport-total.com die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen was gretig om sy seun onder sy vlerk te neem.

Willy Weber saam met Michael in Julie 2009. Foto: Getty Images

Die 50-jarige Schumacher, wat aan die einde van 2012 vir ’n tweede keer uit F1 getree het, is uiteindelik by Mercedes deur Lewis Hamilton, wenner van vyf wêreldtitels, vervang.

Volgens Weber wou Schumacher “sy seun by F1 betrokke kry en hom selfs bestuur op ’n soortgelyke wyse as wat ek sy loopbaan bestuur het”.

Weber was vir jare Schumacher se bestuurder en word wyd beskou as ’n sleutelfiguur in die Duitser se F1-sukses.

Sabine Kehm, Schumacher se jarelange mediabeampte, het later by hom oorgeneem en bestuur benewens Michael se sake ook dié van Mick.

Volgens Weber was die ski-ongeluk op 29 Desember 2013 waarin Schumacher snr. ernstige breinbeserings opgedoen het die einde van die Schumachers se planne vir ’n pa-seun-span in F1.

“Dit sou ’n wonderlike storie gewees het,” sê Weber.

“Michael sou mal wees daaroor. Hy het destyds reeds Mick se potensiaal raakgesien. Hy het voordat Mick 14 was ’n paar van sy stelrenne bygewoon en het geglo sy seun sou eendag F1-status behaal.”

Mick Schumacher (20) is in 2018 as Europese F3-kampioen gekroon en ding vanjaar mee in die F2-reeks.

Mick Schumacher is op koers vir ’n loopbaan in F1. Foto: Getty Images

Hy het vroeër vandeesmaand aan suksesvolle F1-toetssessies in Bahrein deelgeneem, waar hy Ferrari se SF90-motor en ’n Alfa Romeo-F1-renmotor bestuur het.

“Mick het altyd gedink omdat hy Michael se seun is moet hy dieselfde prestasies as sy pa behaal en dit het natuurlik ’n groot las op die seun se skouers geplaas,” sê Weber.

“Michael sou ’n uitstekende bestuurder gewees het danksy al sy ervaring in F1. Hy het geweet watter spanne hy kon nader en hoe die binnekringe werk omdat hy baie jare se ondervinding opgedoen het.

“Dit was sy grootste ambisie.”

Corinna, Michael Schumacher se vrou. Foto: Getty Images

Die 77-jarige Weber sê hy het maande lank “gely soos ’n hond” ná Schumacher se ski-ongeluk.

“My grootste wens is vir Michael om sou gou moontlik weer op sy voete te kom sodat ek hom kan ’n drukkie kan gee,” sê hy.

Weber erken hy het geen kontak met die Schumacher-gesin nie en pak die skuld daarvoor op Kehm.

“Sy het my verhouding met hulle deur die media vernietig.”

– Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Mick Schumacher  |  Motorsport  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.