Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Schurter-hulle los voor in Cape Epic

Daar was ’n bietjie drama, maar min verrassings Maandag in die eerste skof van die Cape Epic.

Nino Schurter kyk oor sy skouer na sy spanmaat, Lars Forster. Hulle neem deel vir die span van Scott-Sram. Foto: Cape Epic | Nick Muzik

Die Switsers Nino Schurter en Lars Forster het met ’n tweede agtereenvolgende skofsege gewys hulle is nie met vakansie in die Boland nie.

Hulle het die eerste skof van die agtdaagse bergfietswedren oor 111 km in en om Hermanus – met die Hemel-en-Aarde-vallei as die fokuspunt – in vier uur 24 minute 4 sekondes gewen.

Die Switsers was ook Sondag bobaas in die proloog.

Manuel Fumic van Duitsland en Henrique Avancini van Brasilië het tweede geëindig in 4:26:56.

’n Groep van vyf ryers het op die eindstreep afgepyl om die derde plek te behaal. Dit was die veterane Karl Platt (41), van Duitsland, en die Oostenryker Alban Lakata (39) wat net-net baas was in 4:28:13.

Schurter-hulle het nou ’n voorsprong van meer as drie minute bo Fumic-hulle.

Dit het nie so voorspoedig gegaan met Jaroslav Kulhavy, die verdedigende kampioen, en sy nuwe spanmaat, Samuel Gaze, nie.

Gaze het geval, sy fiets beskadig en sy valhelm het gebreek. Hulle het tyd ingeboet, maar kon steeds sesde eindig.

Forster en Gaze is een van ’n paar deelnemers wat Maandag hul eerste ware proesel van Epic-aksie gekry het.

Nino Schurter kyk oor sy skouer na sy spanmaat, Lars Forster. Hulle neem deel vir die span van Scott-Sram. Foto: Cape Epic | Nick Muzik
Die Switser Lars Forster trap voor in Maandag se eerste skof. Foto: Cape Epic | Nick Muzik
Die voorste bondel ryers in Maandag se eerste skof. Foto: Cape Epic | Shaun Roy
Henrique Avancini lei die bondel. Foto: Cape Epic | Nick Muzik

“Om saam met Nino te ry is iets besonders. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Hy het net gesê ek moet op sy agterwiel bly,” sê Forster.

Schurter se 2018-deelname is kortgeknip toe sy spanmaat, Matthias Stirnemann, siek geword het en hulle moes onttrek. Hy is honger vir nog glorie nadat hy in 2017 Epic-sukses gesmaak het.

Schurter sê hy en Forster oefen gereeld saam en hy word dikwels ore aangesit.

Die Suid-Afrikaanse paar van Alan Hatherly en Matthew Beers het negende geëindig en sal Dinsdag wil terugslaan. Hulle is die draers van die rooitruie vir die beste ryers van Afrika.

Die voorste ryers het gekla oor ’n lang dag, maar was ook dankbaar dat hulle vroeg uit die vere en op hul fietse was.

Dit het oornag ’n bietjie gereën en die ryers was bra modderig toe hulle by die Hoërskool Hermanus aangekom het.

Die amateur-ryers, wat eers laatmiddag sou klaarmaak, sou weet dit was die begin van ’n lang week.

Soos verlede jaar, het die Deen Annika Langvad ’n oorwinning in die proloog opgevolg met ’n skofsege.

Die verdedigende vrouekampioen het ook ’n nuwe vennoot in die Nederlandse Olimpiese en wêreld-padkampioen Anna van der Breggen.

Hul wentyd was 5:09:11, gerieflik meer as drie minute voor hul naaste teenstanders, Ariane Lüthi en Maja Wloszczowska. Hul tyd in die tweede plek was 5:12:19.

Die Suid-Afrikaner Candice Lill en haar Duitse spanmaat, Adelheid Morath, het derde geëindig in 5:14:31.

Dit is ook die stand van sake in die stryd om die algehele posisie.

Langvad sê die eerste ware skof is altyd taai.

“Daar was baie klimwerk en ek is tevrede dat ons eerste kon klaarmaak.

“Ons het egter nog baie verstellings om te doen,” sê Langvad.

Van der Breggen sê sy het harde rywerk verwag en dit was so. “Dit was ’n lang dag. Dit is spesiaal om die voorloperstrui aan te trek.”

Ook die Pool Wloszczowska sê dit was ’n lang, warm dag in die saal.

“Ek is gelukkig om saam met Ariane te trap. Sy weet hoe om die regte pas te handhaaf.

“Die gaping tussen ons en die voorlopers is nie so groot nie.

“Ons is tevrede met ons tweede plek,” sê Wloszczowska.

Die Suid-Afrikaners Samantha Sanders en Amy McDougall het die skof in die sesde plek voltooi en is die voorste span in die Afrika-afdeling.

Lill en Mcdougall was verlede jaar spanmaats en die wenners in die Afrika-afdeling.

McDougall sê sy is trots om die rooitrui te dra. Daar lê egter nog ’n lang pad voor na Sondag se eindbestemming in die Paarl, sê sy.

  • Dinsdag se tweede skof is van Hermanus oor 86 km na die Oak Valley-landgoed in Elgin. Al is dit ’n relatiewe kort skof, is dit steeds ’n uitdagende een met verskeie sanderige stukke wat sake moeilik kan maak vir die jaers.
Meer oor:  Lars Forster  |  Bergfietsry  |  Hermanus  |  Cape Epic  |  Nino Schurter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.