Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Schurter soek Cape Epic-titel terug

Die Suid-Afrikaanse bergfietsryer Gert Heyns sal volgende week net soveel druk ervaar soos ’n Superrugby-afrigter.

Verlede jaar se Suid-Afrikaanse marathonkampioen bevind hom in die Cape Epic-wedren in groot geselskap saam met drie Switsers.

Hy en sy spanmaat van DSV-SCOTT-SRAM, Andri Frischknecht, se uitsluitlike doel is om Nino Schurter en Lars Forster van die Scott-SRAM-span te ondersteun sodat hulle op 24 Maart op die wennerspodium sal staan.

Samuel Gaze wen Woensdagaand die Songo-kampioenewedren wat jaarliks in Kayamandi, Stellenbosch, beslis word. Nino Schurter, wat agter hom ry, was tweede en Simon Andreassen derde. Anna van der Breggen was die voorste vrou, gevolg deur Nadine Rieder en Annika Langvad. Foto: Michal Cervený

Schurter, die wêreldkampioen én Olimpiese kampioen in veldrenne, het net een doel voor oë: om die titel terug te wen. Hy en Matthis Stirnemann het in 2017 koning gekraai, maar ’n infeksie wat Stirnemann verlede jaar opgedoen het, het hul veldtog beëindig.

Nadat Frischknecht die laaste tyd deur ’n maagkiem opgekeil is, het Schurter van spanmaat verwissel.

“Dit is die beste moontlike span waarmee ons nou kan wen,” sê Schurter Donderdag in Kaapstad.

Dit sal Forster, 2018 se Europese kampioen, se Epic-debuut wees.

Heyns sê hy het in 2014 ook ter ondersteuning van Schurter gery en dit is ’n groot voorreg.

Hy en Frischknecht sal die eerste keer saamry en hulle moet hul eie ambisies opsy skuif om Schurter-hulle die beste moontlike wenkans te gee.

Die 16de Epic begin Sondag met ’n proloog in Kaapstad met die eerste volwaardige skof wat Maandag oor 112 km buite Hermanus beslis word.

Ook 2018 se kampioen, Jaroslav Kulhavy, het ’n nuwe vennoot in die Nieu-Seelander Samuel Gaze.

Die 34-jarige Kulhavy (Investec-Songo-Specialized) mik na sy vierde titel. Gaze is ’n voormalige o.23-wêreldkampioen en het verlede Sondag die Kaapstad-fietstoer gewen. Dit sal sy debuut wees.

’n Span wat baie mense opgewonde maak is die Suid-Afrikaanse paar van Alan Hatherly en Matthew Beers.

Dié span van Specialized Foundation moet Kulhavy-hulle ondersteun, maar kan dalk net verras.

Hatherly en Beers is vriende en oefenmaats. As Suid-Afrikaners is hulle groot aanspraakmakers op die gesogte rooitrui as die voorste ryers van Afrika. Matthys Beukes en Julian Jessop (PYGA Euro Steel) was verlede jaar die wenners van dié afdeling.

Die vrouekampioen, Annika Langvad, het die gedugte Nederlandse padryer Anna van der Breggen in haar kamp.

Die Deen was verlede jaar bobaas saam met Kate Courtney van Amerika.

Langvad kan geskiedenis maak deur die eerste vrou te word wat vyf titels wen.

Suid-Afrika se hoop is gevestig op Samantha Sanders en Amy McDougall (Dormakaba) en Theresa Ralph en Sarah Hill (Galileo Risk).

* Die proloog oor 21 km (met ’n klim van 600 m) begin en eindig by die Universiteit van Kaapstad.

Die elite vroue spring weg vanaf 10:40 en die mans vanaf 11:45.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.