Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Schwarz het nie in selfde kryt as Fury gehoort nie

Tyson Fury het Tom Schwarz Sondagoggend (SA tyd) in hul boksgeveg in Las Vegas binne net twee rondes verwoes.

Tyson Fury het sy uitstappie in Las Vegas duidelik baie geniet. Foto: AP

So verspot maklik het die Brit met die Duitser afgereken dat hy nie eens uitasem was toe hy direk daarná Aerosmith se liedjie “I Don’t Want to Miss a Thing” vir die skare in die MGM Grand-arena gesing het nie.

Fury het homself duidelik geniet. Hy het in ’n Uncle Sam-uitrusting – soos Apollo Creed in een van die Rocky-flieks – kryt toe gestap terwyl James Brown se “Living in America” oor die luidsprekers gespeel het.

In die eerste ronde het hy liggies rondgedans en Schwarz se wilde houe ontduik.

In die tweede ronde het Fury Schwarz se neus platgeslaan. Toe het hy die Duitser met ’n kombinasie van houe planke toe gestuur. Schwarz het orent gekom, net om weer deur Fury met harde houe geskud te word.

Tom Schwarz sien hoe lyk die bokskryt in die MGM Grand-arena se vloer. Foto: Reuters

Gelukkig het Kenny Bayless, skeidsregter, tussenbeide getree en die geveg stopgesit.

Kom ons wees nou maar eerlik, Schwarz het nie in dieselfde kryt as Fury gehoort nie. Die mense wat die sogenaamde geveg gereël het en diegene wat dit toegelaat het, behoort almal hul kop in skaamte te laat sak.

“Ek was hier om myself te geniet,” het Fury aan ESPN gesê.

Hy het laat deurskemer dat hy voor die einde van die jaar weer in aksie gaan wees voordat hy volgende jaar hoop om weer teen Deontay Wilder, die Wêreldboksraad se kampioen, te boks. Wilder en Fury het verlede jaar gelykop teen mekaar geboks.

Terwyl Fury heel waarskynlik volgende teen nog ’n paloeka gaan boks, kom Wilder oor ’n paar maande teen die gevaarlike Luis Ortiz van Kuba te staan. Hy het Ortiz egter al ’n vorige keer in ’n woeste geveg met ’n tegniese uitklophou in die tiende ronde verslaan. Wilder is nie bang om sy titel teen die bestes op die spel te plaas nie.

Al wat ’n mens verder van Fury se kamstige geveg teen Schwarz kan sê is dat hy darem nie soos Anthony Joshua naam weggegooi het nie. Joshua het mos onlangs sy Wêreldboksvereniging-, Wêreldboksorganisasie-, Internasionale boksfederasie- en Internasionale boksorganisasie-titels teen die potjierol Andy Ruiz verloor.

Meer oor:  Las Vegas  |  Tyson Fury  |  Tom Schwarz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.