Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Seer maak sterk, leer Murray in 2019

By ’n Olimpiese Spele is ’n vierde plek gewoonlik die een posisie wat elke atleet tot elke prys wil vermy. Maar vir Richard Murray het sy vierde plek in Rio de Janeiro vier jaar gelede soos ’n oorwinning gevoel.

Ná ’n 2019 vol drama is Richard Murray se visier nou stip gestel op ’n beter 2020, en die Olimpiese podium.

Net vier maande voor dít was dié Kapenaar op sy heel, heel beste, net om sy sleutelbeen in ’n valslag in Australië te breek. Hy was gelukkig om in Rio te wees, sê hy nou, vier jaar later, en dink steeds met trots terug aan sy uitslag.

“Dit het my geleer ’n mens is nie geregtig op enigiets nie. Soms verloop dinge nie soos jy wil hê nie, maar dis steeds in jou hande om die beste te maak van wat jy kry,” sê Murray die afgelope week.

Dié 31-jarige driekamper is nou net vyf maande weg van nog ’n hap aan die Olimpiese appel – en dié keer sal ’n vierde plek sekerlik nie weer so soet smaak nie.

Oor sy drome vir Tokio 2020 draai Murray nie doekies om nie.

“By my eerste Spele was ek 17de en by die tweede een vierde, so nou móét ek my visier op die podium stel,” sê hy.

Daar moet egter nog ’n paar kiloliter water in die see loop voordat die Suid-Afrikaner ook deur die res van die wêreld as ’n podium-aanspraakmaker beskou word.

Agter hom lê ’n nagmerriejaar waarin hy geen faktor op die wêreldverhoog was nie.

Die eerste helfte van 2019 is bederf deur ’n seer enkel wat net nie wou beter raak nie, en waarvoor hy aanvanklik nie ’n verklaring kon kry nie.

Richard Murray beplan vanjaar om minder deel te neem voor die Olimpiese Spele in ’n poging om beserings te vermy. Foto: Verskaf

“Daardie besering het my vir maande gery en ons het nie geweet wat aangaan nie,” sê hy. “Uiteindelik, ná bitter baie frustrasies, is dit gediagnoseer as inflammasie in die haksening, waarskynlik van hardloop in klipperige areas.

“Ek moet vir jou sê, ek val eerder en breek iets as om so lank rond te loop en nie te weet wat presies fout is nie. Aan die begin het dit my nie so erg bekommer nie, ek het gedink ons sal gou uitvind wat fout is en dit regstel. Maar ná vyf maande van wonder begin jy swaar dra daaraan; dit toets jou sielkundig. Ek kan nou terugkyk en sê dit het my sterker gemaak, maar terwyl jy in dit is, is dit baie moeilik.”

Die diagnose van sy haksening-probleem was egter nie die laaste hekkie op Murray se pad nie. In Augustus is hy Tokio toe vir ’n Olimpiese kwalifiseringsren, net om deur ’n virus platgetrek te word en in die hospitaal opgeneem te word.

Twee weke later het die simptome sodanig vererger dat hy aan die Wêreldkampioenskap moes onttrek. Dit het ’n einde gebring aan ’n seisoen waarin hy net sewe keer deelgeneem het en vyf keer buite die top-15 geëindig het.

Richard Murray in 2016 op pad na ’n vierde plek by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: Getty Images

“Dis maar sport,” sê Murray nou gelate oor 2019. “Dis maar hoe die lewe werk.

“Gelukkig het dit alles verlede jaar gebeur, en nie nou, in die Olimpiese jaar nie. Baie mense herinner my daaraan, so ek klou ook daaraan vas dat dit hierdie jaar sekerlik net beter kan gaan,” sê hy met ’n laggie.

Vir 2020 is hy so reg soos ’n roer, beklemtoon Murray. Hy het die jaar afgeskop in Windhoek, waar hy saam met Nederland se nasionale span in Namibië se dun lug gaan oefen het.

Daarna kon hy darem twee en ’n half weke by die huis, in Durbanville, inwerk. Maar hy is reeds Maandag weer op ’n vliegtuig, om sy seisoen volgende naweek by die Wêreldreeks se eerste byeenkoms in Abu Dhabi af te skop.

“Ná verlede jaar se probleme gaan ek vanjaar meer proaktief wees en nie so baie deelneem voor die Spele nie, sodat ek beserings hopelik makliker kan vermy,” sê hy. “Daar is ’n moontlikheid dat dit my laaste Olimpiese Spele kan wees, so ek wil nie vooraf kanse waag nie. Vir eers is my fokus net daarop om weer my ritme te vind en nie te gou my beste peil te bereik nie.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Richard Murray  |  Driekamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.