Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Seiljagvaart van Kaap na St. Helena hervat

Die Kaap-na-St. Helena-seiljagwedvaart word vanjaar ná vier jaar hervat en 15 seiljagte sal Woensdag in Tafelbaai wegspring.

Die bemanningslede van Rotary Scout is van links Rory Rochat (skipper), Joshua Jackson, Ewan Blamire, Kyle Sasman, Wendy Sorour, Kerryn Bosch, Tyla Gill en Peter Bosch (skipper). Foto: Alec Smith

Aan boord van die seiljagte sal bemanningslede van agt tot 70 jaar oud wees.

Die vaart word deur die Royal Cape-seiljagklub, St. Helena-toerisme en -seiljagklub asook Wesgro aangebied.

Die skippers sal hul seile Woensdag om 14:00 in Tafelbaai span en die jagte sal die afgesonderde St. Helena na verwagting binne nege tot 15 dae bereik.

Joshua en James Herne (skipper) staan by hul seiljag, Carpe Diem, in die Royal Cape-seiljagklub. James se vrou, Hannah, en hul twee ander kinders sal hulle by Herne en sy seun aansluit voordat hulle as gesin na St. Helena sal vaar. Die Herne-gesin woon op die eiland. Foto: Alec Smith

St. Helena is in die Suidelike Oseaan geleë en is sowat 2 000 km wes van Namibië en Angola, en sowat 4 000 km oos van Rio de Janeiro.

Dit was tot verlede jaar net per see toeganklik, maar die eiland spog nou met ’n klein lughawe, wat weer belangstelling in die wedvaart laat opvlam het.

Vir seiljagvaarders is dit die opwindendste en langste wedvaart op die 2018-’19-kalender.

Die drierompskuit Banjo (voor) wat die vaart in 2012 en 2014 gewen het. Dit het toe as die Goewerneursbeker bekend gestaan. Foto: Alec Smith

Die deelnemers sal tien dae lank net die see om hulle sien en net die geselskap van diegene aan boord hê.

Sommige van die seiljagvaarders het al tevore geseil na St. Helena, maar vir baie is dit ’n eerste.

Rotary Scout het agt bemanningslede terwyl Dale Kushner alleen op Yolo sal seil.

Die skippers van Rotary Scout, Peter Bosch en Rory Rochat, het ses Padvinders (Scouts) as bemanningslede, wat almal sestien jaar of jonger is. Hulle is Kerryn Bosch, Tyla Gill, Wendy Sorour, Ewan Blamire, Joshua Jackson en Kyle Sasman.

James Herne en sy gesin, almal van St. Helena, sal die Suid-Afrikaanse spanne op hul seiljag Carpe Diem die stryd aansê.

Hilary Ackermann van die Royal Cape-klub sê die wedvaart is meer ontspanne as die mededingende wedvaarte.

Die seiljagte is tussen 10 en 17 meter lank. Die vloot sluit hom in 12 eenrompskuite en een drierompskuit asook twee katamarans by die vaart aan.

Seiljagte in die omgewing van St. Helena. Foto: Ed Thorpe

Skipper Kevin Webb is optimisties dat sy jag, Banjo (’n drierompskuit van 9,5 m), die eindstreep ’n derde keer as die wenner sal oorsteek. Hy beoog om dit binne nege dae te vermag.

Die seiljagvaarders sal Nuwejaarsdag op hul bote deurbring.

Sommige van die deelnemers sal ná die wedvaart na Kaapstad terugvlieg en ander sal die terugvaart meemaak. Nege van die jagte sal op die vragskip MV Helena vervoer word.

* Volg die bote op www.xtra-link.com. Nuus oor die wedvaart sal op www.capetosthelena.co.za bygewerk word.

Die pragtige, afgesonderde eiland van St. Helena. Foto: Ed Thorpe

Meer oor:  Kaap  |  Seiljag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.