Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Serena klop Caster as beste sportvrou

Die legendariese Amerikaanse tennisspeler Serena Williams het Dinsdagaand stof in die oë geskop van Suid-Afrika se ster-atleet Caster Semenya.

Williams is in Monaco deur die Laureus-stigting as die Sportvrou van die Jaar aangewys.

Semenya was een van die ses sportvroue wat vir die spogprys benoem is.

Die Switserse tennismaestro Roger Federer nadat hy deur die Laureus-stigting as die Sportman van die Jaar vereer is. Foto: Getty Images
Roger Federer ontvang sy trofee vir die Terugkeer van die Jaar van Boris Becker. Federer het verlede jaar sy vyfde Australiese Ope- en agtste Wimbledon-titel verower. Hy het die laaste deel van 2016 weens ’n kniebesering misgeloop, maar sy pad teruggeveg. Foto: Getty Images
Caster Semenya vroeër Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Monaco. Foto: Getty Images
Prinses Charlene en prins Albert II van Monaco was die gasheer en -vrou vir die Laureus-sporttoekennings. Foto: Getty Images
Die Britse akteur Benedict Cumberbatch en die Britse TV-persoonlikheid Kate Abdo was die aanbieders. Abo se skrapse rok het die oë laat rek. Foto: Getty Images

Nog ’n tennisspeler, die Spanjaard Garbine Muguruza, was ook ’n benoemde.

Die Amerikaanse naelloper Allyson Felix, die Amerikaanse swemmer Katie Ledecky en die Amerikaanse Alpynse skiër Mikaela Shiffrin was die ander benoemdes.

Williams het verlede jaar op 35-jarige ouderdom haar suster Venus geklop om die Australiese Ope-titel vir die sewende keer te wen – ’n rekord in die Ope era.

Belangriker egter, is dat dit haar 23ste Grand Slam-titel was. Sy het só die Duitse legende Steffi Graf se rekord van 22 titels oortref.

Williams het ook weer die nommereen-posisie op die wêreldranglys ingeneem.

Sy het in April bekend gemaak sy is swanger en het in September geboorte gegee aan haar eersteling.

Dit is die vierde keer dat Williams met dié gesogte Laureus-prys vereer is.

Sy het nie die geleentheid bygewoon nie.

Die Switserse tennismaestro Roger Federer is vereer as die Sportman van die Jaar.

Hy is ook vereer vir die “Terugkeer van die Jaar”.

Die ander benoemdes was Rafael Nadal (tennis), Lewis Hamilton (motorsport), Chris Froome (fietsry), Mo Farah (atletiek) en Cristiano Ronaldo (sokker).

Die voormalige Amerikaanse atleet Edwin Moses het die toekenning gekry vir sy Lewenslange Prestasies. Moses was ook die eerste voorsitter van die Laureus Wêreldsportakademie.


Ander toekennings:

Deurbraak van die Jaar: Sergio Garcia (Spanje, gholf).

Span van die Jaar: Mercedes-AMG Petronas (motorsport).

Inspirasie van die Jaar: J.J. Watt vir sy geldinsamelingspogings nadat Houston verwoes is deur orkaan Harvey.

Akademie se Uitstaande Prestasie: Francesco Totti (Italië, sokker). Hy en die Walliese sokkerspeler Ryan Giggs is toegelaat tot die Laureus-akademie.

Gestremde sportman: Marcel Hug (Switserland, rolstoel-atleet).

Aksie-sportman van die Jaar: Armel Le Cléac'h (Frankryk, seil).

Beste sportoomblik van die Jaar: Die Brasiliaanse sokkerklub Chapecoense se terugvegpoging nadat feitlik die hele span in 'n vliegongeluk uitgewis is. Sportondersteuners wêreldwyd het vir dié prys gestem. 

– Sportredaksie

Meer oor:  Serena Williams  |  Roger Federer  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.