Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Skaakboks nommerpas vir kleurryke Terry
Skaakboks! Dymer Agasaryan en Terry Marsh. Net hierna het die vuiste geklap! Foto: Getty Images

Jy moet dalk ’n bietjie nadink voor jy Terry Marsh ’n “dom bokser” noem.

As jy dit doen, nooi hy jou dalk net uit vir ’n potjie skaak of hy daag jou uit vir ’n debat. Dan slaan hy jou bloedneus!

Marsh, nou 62 jaar oud, is lag-lag een van die mees kleurryke boksers van sy generasie.

Wie anders kan daarop aanspraak maak dat hy 28 jaar ná sy uittrede as wêreldbokskampioen ’n “wêreld-skaakbokskampioen” kon word?

Skaakboks? Dalk is dié bisar sport nie aan jou bekend nie.

Dymer Agasarayan lyk maar verslae ná sy skaakboks-nederlaag teen Terry Marsh. Foto: Getty Images

Dit werk só – ’n geveg kan tot 11 rondes duur. Jy begin deur vir ’n ronde teen jou teenstander skaak te speel. Dan boks julle. Dan speel julle weer skaak, en so aan.

Jy kan ’n geveg wen as jy jou teenstander in skaakmat sit of hom uitslaan, of as hy oorgee. Jy kan ook met punte wen.

Die idee kom van die Fransman Enki Bilal se strokiesboek Froid Equateur, waarin ouens eers teen mekaar boks (’n hele geveg) en direk daarna teen mekaar skaak speel.

Terry Marsh toe hy die IBF se superliggewigampioen was. Foto: Getty Images

’n Nederlandse kunstenaar Lepe Rubingh het die idee aangepas en die eerste groot skaakboks-byeenkoms is in 2003 in Berlyn, Duitsland, gehou.

Daar is vandag selfs ’n skaakboks-vereniging in ons land.

Dalk was die boksskrywer Frank McGhee heldersiende toe hy in 1988 in sy boek England’s Boxing Heroes die volgende oor Marsh geskryf het: “Vir hom was boks skaak met kneusplekke en hoe minder hy daarvan versamel het, hoe beter.”

McGhee haal Marsh ook aan waar hy oor boks en skaak filosofies raak: “Die teorie is dieselfde. Jy soek jou teenstander se swakpunte en jy vernietig sy sterkpunte.”

So, toe Marsh nou die dag hoor van iets soos skaakboks, toe kon hy homself nie keer nie.

Al was hy in 2015 reeds 56 jaar oud, het hy aan dié aardige sport begin deelneem.

En dieselfde jaar word hy toe ook ’n weer wêreldkampioen toe hy die 23-jarige Dymer Agasaryan van Armenië met punte verslaan.

“Hy was ’n sterk ou, vol spiere. Ek het hom toe maar probeer moeg maak,” het Marsh sy strategie verduidelik.

“Ek moes dit seker nie op my ouderdom gewaag het nie, maar die ding het my gefassineer. Wie wen, die goeie skaakspeler of die goeie bokser?”

Marsh het as jong seun reeds begin skaak speel en boks.

Ná skool het hy ’n Britse seesoldaat geword en toe sluit hy by die brandweer aan.

Hy het ook vir geld begin boks, maar was nie baie gewild nie, omdat hy nie baie hard kon slaan nie.

Tog het hy aanhou wen en hy het in 1987 die Internasionale Boksfederasie se superliggewigkampioen geword toe hy die Amerikaner Joe Manley met ’n tegniese uitklophou in die tiende ronde verslaan het.

“Omdat ek nie baie hard kon slaan nie, het ek seker gemaak ek moker Joe nog ’n keer terwyl hy klaar besig was om krytvloer toe te gaan,” het Marsh vertel.

Terry Marsh doen ’n agteroor flik-flak ná ’n oorwinning in die bokskryt. Foto: Getty Images

Hy het sy titel net een keer verdedig, toe hy Akio Kameda van Japan ook in 1987 in Londen se Royal Albert-saal met ’n tegniese uitklophou in die sewende ronde verslaan het.

Marsh het onthul dat hy ’n epilepsielyer is en het sy uittrede aangekondig. Hy was onoorwonne in 26 gevegte.

Twee jaar later is Marsh vir poging tot moord tronk toe gestuur.

Hy en die promotor Frank Warren het lank ’n vete gehad en toe ’n gemaskerde man een aand vir Warren twee keer met ’n .22 pistool in die bors skiet, het die polisie vir Marsh aangekeer.

“Ek was onskuldig! Maar ek is vir 11 maande in die tronk aangehou,” het Marsh gekla.

Terwyl sy regsmense hom uit die tronk probeer kry het, het hy vele avonture beleef. Een dag was sy selmaat siekerig en Marsh het aangebied om vir hom sy bord kos te gaan haal.

Op pad terug na die sel het Marsh en ’n bewaarder stry gekry. Dinge ruk hand uit en die bewaarders wou Marsh gryp, maar hy hardloop na sy sel, trek al sy klere uit en smeer homself vol baba-olie. Toe kon niemand hom vasvat nie!

Terry Marsh (middel) saam met Akio Kameda (links) ná Marsh se laaste beroepsboksgeveg in 1987. Daar word nie aangedui wie die man regs was nie. Foto: Getty Images

Toe Marsh uit die tronk kom, het sy kop politiek toe begin staan. Reeds as beroepsboker het hy ’n debat oor “Moet boks verban word of nie” teen professore van die Britse mediese vereniging by die Universiteit van Cambridge gewen.

In 2010 het hy besluit om sy naam na “None of the above X” te verander. Hy het dit gedoen omdat daar nie op Britse stembriewe ’n “None of the above”-opsie was nie.

In 2010 het 125 mense vir hom gestem en in 2015 was daar 253 wat gedink het hy moet parlement toe gaan.

In 2017 het X, soos ons Marsh dan maar voortaan sal noem, met ’n stembrief probeer huis toe gaan. Toe die kiesbeampte hom probeer keer, het X hom met die knie tussen die bene gekap.

X het een jaar ook sommer Italiaans leer praat, omdat hy ’n bietjie verveeld was. En hy het ’n outobiografie getiteld Undefeated geskryf.

“Ek was die uitgewer, die skrywer – noem dit, ek het dit gedoen. Dit was ’n opdraande stryd. Die een ding wat ek nie gedoen het nie, was om die boek te proeflees,” het X met ’n glimlag erken toe resensente hom oor sy taalgebruik uitgetrap het.

• Bronne: England’s Boxing Heroes – Frank McGhee; standard.co.uk; britishboxers.co.uk; rulesofsport.com; hannibalboxing.com; ringsidereport.com

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.