Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Skyfskiet is van jongs af in Peter se bloed
KONTREI
Peter Bramley

Peter Bramley het oral in die wêreld met sy skyfskietgeweer gepresteer. Hy het die stoel gery (die grootste eer wat ’n skut te beurt kan val), hy het medaljes in baie lande gewen, maar hy het nooit die sneller getrek wanneer hy na ’n wildsbok of enige ander wilde dier gemik het nie.

Maar hy sou bitter graag seker ’n geweer by hom wou gehad het die dag, so drie weke gelede, toe die geelslang hom aan die arm gebyt het. Hy het by die dood omgedraai, was in die waakeenheid van ’n Bloemfonteinse hospitaal en nou – ’n paar weke ná die voorval – is sy arm nog verbind.

Op hul plaas buite Bloemfontein waar die slang hom gebyt het, gesels Peter en sy vrou, Lexi, nie graag oor die slangstorie nie. Nee wat, daar is lekkerder dinge om oor te praat en die plaas lyk mooi ondanks die droogte. Hulle boer met afrikaners en afrigus – ’n afrikaner-en-angus-kruising. Die plaas is al van voor die Anglo-Boereoorlog af in Lexi se voorsate se besit.

Peter Bramley is ’n Vrystater in murg en been. Hy is op 19 Junie 1965 in Hobhouse gebore en was sy hele skoolloopbaan ’n leerling aan Grey-kollege.

Hy het ’n bietjie rugby en krieket gespeel, maar skyfskiet was van meet af aan die sport vir hom.

Peter was 15 jaar oud toe hy aan sy eerste Suid-Afrikaanse byeenkoms op die Hamilton-skietbaan in Bloemfontein deelgeneem het. Van die grotes van skyfskiet in die land, Bennett en Trevor Musgrave, het daar deelgeneem. “Dit was ook ’n voorreg om in die geselskap te wees van prof. Hennie Rautenbach en Johan Schabort.’’

Peter was deel van die eerste Suid-Afrikaanse span wat ná die isolasiejare weer teen die wêreld se bestes kon meeding. Dit was in 1982 naby die klein dorpie Bisley in Engeland.

Dit is nogal moeilik om in die Engelse toestande te presteer. Daar is altyd wind en die weer wat in ag geneem moet word. Veral wanneer jy oor lang afstande moet skiet, is dit nie maklik nie.

Hoewel die Suid-Afrikaanse skuts aan plaaslike byeenkoms­te deelgeneem het, lol dit tog wanneer jy weer teen die wêreld se bestes moet skiet. “Ons het ’n groot agterstand gehad omdat ons nie internasionaal kon deelneem nie, maar die skuts was gewillig om hard te werk en ons het daardie gaping vinnig laat krimp,’’ sê hy.

Lexi Bramley

Vir Peter was daar in sy loopbaan baie groot hoogtepunte. Die verowering van die staatspresident se trofee in 1992 was een van hulle. Die ander groot hoogtepunt was toe hy in 2000 die Britse ope gewen het. Hy het baie medaljes gewen, maar die een wat uitstaan, was die goue wat hy op die Millenniumfees in Brittanje gewen het. Daar was hy Bisley se groot kampioen en het hy ook die goue kruis ontvang.

Om die staatspresident se groot kampioen te wees en die stoel te ry was ook besonders.

Sy pa, Bill, was vier dekades lank ’n Suid-Afrikaanse kampioenskut­.

Peter sê sy roer het hom na baie plekke geneem. Die besoeke aan Australië twee keer, Engeland, Kanada, Amerika en Maleisië sal altyd hoogtepunte wees.

Peter en Lexi (Alexandra Gradwell) woon op die plaas Holmsdale wat al ’n paar geslagte in haar familie se besit is. Die Gradwells het voor die Anglo-Boereoorlog uit Engeland na Suid-Afrika gekom.

Sy is op 17 Desember 1955 gebore en was ’n leerling aan die Meisieskool Eunice. Sy was ’n begaafde tennisspeler en het onder andere teen Sandra (Reynolds) Price gespeel. San-dra se pa, George, was haar afrigter. Lexi is self ’n Springbokskut.

Sy en Peter is in 2005 getroud. Hulle het nie kinders nie.

Meer oor:  Peter Bramley  |  Skiet  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.