Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Slegs 1 vrou op Forbes-lys van 100 rykstes

Barcelona se Argentynse doelskieter Lionel Messi is volgens Forbes se top-100-ranglys die wêreld se beste betaalde sportman met ’n inkomste van $127 miljoen die afgelope 12 maande.

Lionel Messi: $127 miljoen. Foto: Getty Images

Juventus se Portugese doelskieter Cristiano Ronaldo is tweede met $109 miljoen en Paris Saint-Germain se Brasiliaanse doelskieter Neymar in die derde posisie met $105 miljoen.

Verlede jaar se topverdiener, die bokser Floyd Mayweather, is sy plek op die lys kwyt.

Serena Williams (63ste) is die enigste vrou in die top-100 met opbrengste van $29,2 miljoen.

Die tennislegende Roger Federer ($93,4 miljoen) is vyfde, die gholfster Tiger Woods ($63,9 miljoen) elfde en Lewis Hamilton, wenner van vyf Formule Een-wêreldtitels, dertiende met $55 miljoen.

Serena Williams: $29,2 miljoen. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse saketydskrif het die sportlui se verdienste bereken deur hulle prysgeld, salarisse en borgskappe tussen Junie 2018 en Junie 2019, bymekaar te tel.

Die top-100 sluit sportsterre van 25 lande in en hul gekombineerde inkomste van $4 miljard is 5% meer as die vorige jaar, toe Mayweather eerste was met $285 miljoen.

Die Amerikaanse bokser se enigste geveg sedert Augustus 2017 was ’n vertoonwedstryd teen die Japannese skopbokser Tenshin Nasukawa in Desember.

Sportlui moes ’n minimum van $25 miljoen verdien het om vanjaar se lys te haal.

Messi is slegs die tweede sokkerspeler ná Ronaldo om boaan die lys te verskyn en slegs die agtste verskillende sportman in die nr. 1-posisie sedert die ranglys in 1990 begin het. Dit is ook die eerste keer dat sokkerspelers die boonste drie plekke beklee.

Daar is 62 Amerikaners op die lys, met die Amerikaanse basketbalvereniging (NBA) wat die beste verteenwoordig is.

LeBron James van die LA Lakers is die sport se bes betaalde speler met $89 miljoen, terwyl die Golden State Warriors-duo Stephen Curry ($79,8 miljoen) en Kevin Durant ($65,4 miljoen) onderskeidelik die negende en tiende plek beklee.

Manchester United se Paul Pogba is die beste betaalde Engelse Premierliga-speler in die 44ste posisie met $33 miljoen.

* Toptien

1. Lionel Messi $127 m

2. Cristiano Ronaldo $109 m

3. Neymar $105 m

4. Canelo Álvarez $94 m

5. Roger Federer $93,4 m

6. Russell Wilson $89,5 m

7. Aaron Rodgers $89,3 m

8. LeBron James $89 m

9. Stephen Curry $79,8 m

10. Kevin Durant $65,4 m

– Sportredaksie

Meer oor:  Forbes  |  Lionel Messi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.