Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Snormanne se dramatiese boksgeveg

Dit was een van die opwindendste Suid-Afrikaanse swaargewig-titelgevegte tot nog toe, die dag toe Pierre Coetzer en Bennie Knoetze mekaar gepak het.

“Dit was nogal rof,” vertel Coetzer (59) hierdie week oor sy legendariese kragmeting met Knoetze in 1984.

Bennie Knoetze in 1986 in aksie teen Siza Makathini by die Crown-myn se skouterrein in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Knoetze (61) het ’n paar dae tevore in die Oos-Vrystaat gesterf toe ’n motoris hom van sy bromponie afgestamp het.

Coetzer noem dat hy ook vroeër met Bennie se ouer broer Kallie – self ’n voormalige bokser – gesels het.

“Hy hanteer dit maar swaar. Hy was baie lief vir sy broer. Bennie was regtig ’n baie nice ou. Ek weet mense sê altyd ’n ou was nice as hy dood is, maar Bennie was regtig ’n nice ou,” sê Coetzer.

Bennie Knoetze en Pierre Coetzer is lank deur Alan Toweel afgerig. Agter links is Knoetze en Coetzer en voor links is Kosie van Vuuren en Toweel.

Coetzer gesels graag oor sy kragmeting destyds met Bennie. Al het Bennie verloor, het hy bygedra tot een van die klassieke kragmetings in die plaaslike boksgeskiedenis.

“Robbie Williams wou daardie tyd afstand van sy titel doen. En hy het gesê hy sal ophou boks as hy teen my moes boks, maar hy sal aanhou boks as hy teen Bennie moes boks,” vertel Coetzer.

Coetzer was die belowende jong vegter met net 11 gevegte agter sy blad, terwyl Bennie, wat twee jaar ouer was, toe reeds 22 gevegte in die beroepskryt gehad het.

Albei was polisiemanne en het groot snorre gehad. Die geveg het op 22 November 1984 in Ellispark se tennis-stadion in Johannesburg plaasgevind.

Daar was so ’n bietjie byt in die aanloop tot die geveg, dalk was dit waarom Knoetze soos ’n woedende renoster uit sy hoek gestorm het.

“Toe hy daar uitstorm, het ek die fout gemaak om te retireer. In daai stadium het ek maar min ondervinding gehad. Bennie was nogal vaardig en het goeie hande gehad en het hard geslaan,” onthou Coetzer.

Bennie Knoetze en Pierre Coetzer het ná hul geveg in 1984 kollegas geword. Hier kuier hulle saam ’n paar ander vriende. Knoetze is naaslinks en Coetzer naasregs.

Knoetze het van die begin af kwaai ingeklim. Hy was so oorywerig, dat hy selfs ’n keer gestruikel het en op die krytvloer beland het.

Teen die einde van die eerste ronde het Coetzer reeds ’n sny onder sy een oog gehad.

Toe die tweede ronde begin, het Knoetze die skeidsregter, Jules van de Hoogen, omtrent uit die pad gestoot om by Coetzer uit te kom.

Hoewel Coetzer in die ronde beter begin terugbaklei het, was dit Knoetze se groot ronde. Hy het Coetzer twee keer platgeslaan. Toe die klok vir die einde van die ronde lui, het Coetzer dronkerig op bewerige bene na sy hoek toe gesweef-stap.

“Hy was ’n hotklou en dis nie so maklik om teen ’n hotklou te boks nie. Hy het my baie met sy reguit-regter raakgeslaan,” sê Coetzer.

Teen die tyd dat die derde ronde begin het, het Coetzer besef dat hy iets moes doen, anders gaan hy die grootste drag slae van sy lewe kry.

“Ek het besef ek kan nie net weghardloop nie. Ek moes iets doen. Ek dink ek het hom toe so half per ongeluk met twee goeie houe getref,” vertel hy met sy tong in sy kies.

Bennie Knoetze saam met nog ’n voormalige bokser, Dingaan Thobela, ’n paar jaar gelede. Foto: Instagram | Jeff Ellis

Daardie derde ronde was woes. Coetzer is maar net beskeie. Die manne het mekaar om die beurt op die agtervoet gehad.

Die een oomblik het dit nog gelyk asof Coetzer in die moeilikheid was en toe kry hy skielik die oorhand met ’n paar skoon houe.

Die kryt het geskud toe Knoetze gesig ondertoe vloer toe val. Hy het dapper orent gekom, maar Van der Hoogen het gesien daar was geen manier dat hy kon voortveg nie en het die geveg beëindig.

Kort ná die geveg het die mense wat Coetzer se boksloopbaan bestuur het, besluit dat hy van afrigter moes verwissel.

“Ek is in daardie stadium deur Andries Steyn afgerig. Bennie is deur Alan Toweel afgerig. En hier besluit my bestuurders ek moet ook deur Alan Toweel afgerig word!”

Volgens Coetzer was daar die eerste paar weke ’n paar “wilde skermsessies” tussen hom en Knoetze in die gimnasium en moes Toweel soms net keer of die manne slaan mekaar se koppe van hul lywe af.

Pierre Coetzer in 1992 in aksie teen Riddick Bowe in Las Vegas. Foto: Getty Images

Omtrent ’n maand ná hul groot geveg, het Coetzer egter ’n oorplasing van die Polisiekollege in Pretoria, waar hy ’n fiksheidsinstrukteur was, na die Baie Belangrike Persone-beskermingseenheid gekry.

“Daar beland ek toe saam met Bennie by die VIP-eenheid in John Vorster-plein in Johannesburg en ons deel ’n kantoor,” vertel Coetzer.

Pierre Coetzer lewer deesdae soms ook kommentaar by plaaslike boksgevegte. Foto: Gallo Images

Hulle het gou goeie vriende geword en het vir ’n paar jaar lekker saamgewerk.

“Ek kan omtrent nie onthou dat ek Bennie ooit buite die kryt kwaad of aggressief gesien het nie,” sê Coetzer.

Knoetze het hom selfs omgepraat om so tussen die boksery weer ’n bietjie rugby te speel.

“Bennie was ’n baie goeie rugbyspeler en hy het vir Polisie se eerste span flank gespeel,” vertel Coetzer. “Ek was nie so goed soos hy nie en het meer vir die tweede span slot of agtsteman gespeel.”

Knoetze sou eindelik aan 28 gevegte in die beroepskryt deelneem. Behalwe vir Coetzer, het hy net teen Johnny du Plooy en die Amerikaner Mike Koranicki verloor.

Van sy beste oorwinnings was oor, onder andere, Sammy Scaff, Leroy Boone, Steve Zouski, Robbie Williams en Siza Makathini.

Coetzer het voortgegaan om een van die land se beroemdste swaargewigboksers tot nog tow te word en het met onderskeiding teen kampioene soos George Foreman en Riddick Bowe baklei.

* Kyk hier na die geveg tussen Coetzer en Knoetze: 

Meer oor:  Alan Toweel  |  Boks  |  Bennie Knoetze  |  Pierre Coetzer  |  Oos-Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.