Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Só vind Proteas nuwe maniere om te oefen

Vyf van die agt Proteas wat vanjaar netbal oorsee speel, het vir eers huiswaarts gekeer.

Karla Pretorius. Foto: Getty Images

Toe die wêreldwye Covid-19-pandemie die sportwêreld in sy spore gestuit het, is Suid-Afrikaners wat oorsee speel, die geleentheid gebied om terug te keer huis toe.

Karla Pretorius en haar man, Werner, het nes geskop buite Brisbane, dus het hulle besluit om daar aan te bly.

Pretorius sal dié seisoen vir Sunshine Coast Lightning in die Australiese Superliga speel.

Ine-Marí Venter het ook verkies om in Brisbane aan te bly. Haar span is die Queensland Firebirds.

Venter het vroeër vandeesweek gesê dinge verander van dag tot dag.

“Ons het vroeër in die week nog in die gimnasium geoefen. Dit was egter gesluit vir die publiek.

“Ons krag- en kondisioneringsafrigter sal vir ons programme gee om tuis te kan oefen,” sê Venter.

Sigi Burger. Foto: Getty Images

Pretorius sê haar span het aan die begin van die week nog hul laaste sessies saam gehad, maar mag nou nie meer in die gimnasium oefen nie.

“Ja, ons sal soos alle atlete nuwe maniere moet vind om fiks te bly, maar dit is haalbaar,” sê Pretorius.

Hulle is nog nie heeltemal so streng ingeperk nie en mag buite op ’n oop veld hardloop en interval-oefeninge doen en ook ’n bietjie fietsry.

“Maar ons is meestal binnenshuis en moet seker maak ons hou aan met ons krag- en kondisioneringsoefeninge.

“Ons sal ons eie gimprogram by die huis moet volg.”

Hul krag- en kondisioneringsafrigter sal vir elkeen ’n program gee, sê Pretorius.

Haar spanmaat Phumza Maweni het verkies om na Kaapstad terug te keer.

Die Protea-doelster Lenize Potgieter kuier by haar gesin in Polokwane en sê sy neem eers ’n blaaskans.

Potgieter sal vanjaar vir die Adelaide Thunderbirds speel.

Haar SA spanmaat daar, Shadine van der Merwe, sê sy oefen in haar agterplaas by haar huis in Pretoria.

Die Australiese Superliga sal waarskynlik eers einde Junie begin.

Die doelskieter Sigi Burger het die wêreld aan die brand gespeel vir London Pulse voordat die Engelse Superliga vir eers gestaak is.

“Ons kon nog vroeër die week “zoom-sessies” saam met Daniel Lavipour, ons krag- en kondisioneringsafrigter, doen en die doelskieters het sessies met die hoofafrigter, Sam Bird, gehad,” sê Burger.

Khanyisa Chawane. Foto: Getty Images

Khanyisa Chawane het ook vroeër vandeesmaand vir haar span, Bath, uitgeblink. Die 24-jarige Chawane is nou terug in Johannesburg en sê om in ’n beperkte ruimte te oefen is nie maklik nie, maar dit “moenie ’n verskoning wees nie”.

Sy sê elke atleet se gesondheid is nou die belangrikste.

“Ons moet nou tuisbly en as jy dalk nie kan oefen nie, is dit orraait.

“Kyk eers na jou gesondheid – fiksheid kan later kom,” sê Chawane aan diegene wat nié nou kan oefen nie.

“Ons span sal vir ons ’n tuisoefenprogram gee en met ons in verbinding bly om te hoor hoe ons daaroor voel en of veranderinge en verbeteringe daaraan nodig is.

“Ek is gelukkig dat ek so iets het,” sê Chawane, wie se span nog onoorwonne is.

Die Engelse Superliga is weens die Covid-19-pandemie opgeskort en sal op die vroegste einde April hervat word.

Zanele Vimbela, wat vir Strathclyde Sirens in Glasgow speel, is ook terug in Suid-Afrika.

Sirens is tans vyfde op die Engelse puntelys.

Meer oor:  Karla Pretorius  |  Fiksheid  |  Netbal  |  Koronavirus  |  Protea-Netbalspan  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.