Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Spele wag, maar Caitlin nie in sak en as

As die eetgewoontes van die mense van Wuhan nie die hele wêreld op sy kop gekeer het nie, sou Caitlin Rooskrantz die afgelope week die eerste Suid-Afrikaanse gimnas in 16 jaar geword het wat haar land by die Olimpiese Spele verteenwoordig het.

Maar as is natuurlik verbrande hout.

’n Glimlaggende Caitlin Rooskrantz in die gimnasium in Johannesburg, waar sy vir jare gesweet het om haarself in ’n Olimpiese gimnas te omskep. Foto: Verskaf

As dié jongeling nie haar pa as 8-jarige aan die dood afgestaan het nie, sou sy haarself sodanig in gimnastiek ingewerp het dat sy nou die land se beste is?

As sy nie vir jare deur beserings gery is nie, sou sy die geduld en hardnekkigheid gehad het om enige struikelblok trompop te loop?

Omdat ‘as’ vir die 18-jarige Rooskrantz net nog ’n woord is, het sy nie in sak en as gaan sit toe sy vroeër vanjaar hoor haar Olimpiese droom word met ’n jaar uitgestel nie. Eerder as om daaroor te sit en tob, sal sy steeds Sondag die roetine wat sy in Tokio op die ongelyke brug wou doen, uitvoer. Danksy die hulp van Sanlam, sal dit ook regstreeks op die internet uitgesaai word.

“Dit was ’n reuse teleurstelling vir ons almal – myself, my afrigter, my familie, álmal – toe die Olimpiese Spele vroeër vanjaar uitgestel is, want ek het letterlik my hele jaar rondom dit beplan,” sê Rooskrantz die afgelope week.

“Ek het verlede jaar matriek geskryf en hierdie jaar oop gehou sodat al my energie na my voorbereiding vir die Spele kon gaan. En dan skielik sit jy en dink, wat nou? Waarmee vul ek nou my dae?

“Maar toe het Sanlam my genader en gevra of ek nie steeds een van my Olimpiese roetines wou doen nie, om mense daarbuite te inspireer en steeds die kans te gee om een van hul eie aan te spoor. Dis iets waaroor ek nie eens twee keer gedink het nie – hier was iets om voor gemotiveerd te bly en op te fokus.”

Ek het verlede jaar matriek geskryf en hierdie jaar oop gehou sodat al my energie na my voorbereiding vir die Spele kon gaan.

Rooskrantz sê die ongelyke brug is haar gunsteling, en daarom het sy gekies om daardie roetine te doen, eerder as dié op die balk, die vloer of die perd.

“Ja, ek is nie nou daar nie, maar dit beteken eenvoudig ek moes ’n ander plan maak. Dit waarin ons nou is, is niemand van ons se plan nie, maar dis ook nie die einde van my droom nie. Ek sal steeds aanstaande jaar my kans kry – ek weier om te dink die Spele kan dalk heeltemal gekanselleer word – en dan sou ek nog ’n jaar ekstra gehad het om beter te raak,” sê Rooskrantz.

Die jong Johannesburger se gimnastiek-reis het begin toe sy 6 jaar oud was, omdat “my ouers nie met my kon huis hou nie”.

“Ek was een van daardie kinders wat nooit stilgesit het nie – my ouers kon nie waag om hul oë van my te haal nie,” sê sy.

“Dan het ek van ’n bank af gerol, dan van ’n bed af gespring . . . Op die ou einde het iemand aanbeveel hulle skryf my in vir Monkeynastix, sodat ek net van al die energie kon ontslae raak. Ons het natuurlik nie geweet ek sou soos ’n vis in water daar wees nie.”

Dit het blitsig duidelik geraak dat dié woelwater gemaak was vir gimnastiek. Uiteindelik het sy ’n plek gevind waar sy kon spring en hop soveel sy wou – en iets waaraan sy ure van haar dag wou spandeer.

“Gimnastiek het my gekies,” sê sy nou.

Maar toe sy 8 jaar oud was, het die gimnasium vir haar meer geword as net ’n speelplek – dit het verander in haar toevlug.

“My pa is oorlede toe ek 8 was, en ek het gesukkel om te verstaan hoekom dit met ons moes gebeur,” sê sy.

“Maar in die gimnasium kon ek my emosies daaroor uitdruk en anders kanaliseer. Dit was ’n verskriklike tragedie, maar dit was ook die eerste keer wat ek gesien het hoeveel sterker jy kan word as jy die donker tye oorleef.”

Ek weet dit maak van my ’n rolmodel vir jonger gimnaste.

Dit was ’n les wat Rooskrantz veral moes onthou nadat sy in 2017 ’n ernstige kniebesering opgedoen het, wat haar vir meer as ses maande buite aksie gehou het.

“In my sport is jy nooit meer as twee weke in Desember af nie, so om so lank te moes stilsit was vrek moeilik,” sê sy.

“En toe kon ek boonop nie in 2018 Statebondspele toe gaan nie, wat my eerste gróót droom was. Dit was ’n bitter pil om te sluk.”

Terselfdertyd was dit ook die petrol wat die Olimpiese vuur binne haar aan die gang gehou het.

“Vir so lank as wat ek kan onthou is ek nie iemand wat moed opgee nie. Ek het hierdie dryf in my. As ek iets wil doen, dóén ek dit. As ek iets wil hê, maak ek seker ek kry dit,” sê sy.

“Dit was dieselfde daarmee. Daar was tye wat ek getwyfel het in myself, maar ek het dit elke keer afgeskud en myself herinner aan hoe ver ek reeds gekom het. En dat daar meer was om te bereik.”

Vir daardie geloof is Rooskrantz mildelik beloon, toe sy verlede jaar in Hongarye die eerste Suid-Afrikaner ooit geword het wat ’n goue medalje by ’n Wêreldbyeenkoms wen op die ongelyke brug.

Kort daarna is sy Duitsland toe, om te probeer kwalifiseer vir die Olimpiese Spele. En weer het alles vir haar in plek geval.

“Die laaste 15 jaar het daar net Suid-Afrikaanse gimnaste deur Afrika gekwalifiseer, en is hulle nie gestuur na die Spele nie. Ek is die eerste een in al daardie jare wat internasionaal gekwalifiseer het,” sê Rooskrantz.

“Ek weet dit maak van my ’n rolmodel vir jonger gimnaste. Ek het natuurlik as kind opgekyk na ons senior gimnaste, maar dit het so half vergesog gevoel om te droom van die Olimpiese Spele, want ons het niemand wat ons ken daarheen sien gaan nie.

“En tog het ek altyd gevoel, dróóm dit in elk geval. Droom groot, moenie terugdeins en dink dis onmoontlik nie. Want dit is nie.”

* Rooskrantz se roetine sal Sondagoggend vanaf 10:00 regstreeks uitgesaai word op www.nowisthetimetoplan.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.