Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Spele sal ‘Covid-infeksies laat opskiet’
Joeriko Koike, Tokio se goewerneur, en Josjiro Mori, hoof van die Tokio-reëlingskomitee, het dié week vergader oor stappe om die veiligheid van atlete en toeskouers by volgende jaar se Olimpiese Spele te verseker.Foto: Getty Images

Mediese kenners is dit eens dat die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 ’n groot gesondheidsrisiko vir die Japannese publiek gaan inhou.

Organiseerders van dié skouspel in Tokio, sowel as die Japannese regering, skarrel tans om maniere te vind waarmee hulle kan verhoed dat die Spele (weer) deur die Covid-19-pandemie ontspoor word.

Om egter vaste planne voor die einde van vanjaar te verwag sal onrealisties wees.

Verlede maand het die sterftesyfers wat dié virus betref die 500 000-kerf verbygesteek, met meer as 10 miljoen gerapporteerde gevalle waar die virus by mense gediagnoseer is.

Ofskoon Tokio Donderdag 224 nuwe infeksies bevestig het, het Japan sover meestal die rampspoedige gevolge van die pandemie vermy. Dit is juis om dié rede dat wetenskaplikes en medici bekommerd is oor hoe dinge teen Julie in 2021 gaan lyk wanneer die Olimpiese Spele na verwagting eindelik sal plaasvind.

Infeksies sal opvlam as ons volgende jaar met die Olimpiese Spele voortgaan. Daar is geen twyfel daaroor nie.
Daiitsji Morii

“Infeksies sal opvlam as ons volgende jaar met die Olimpiese Spele voortgaan. Daar is geen twyfel daaroor nie,” het Daiitsji Morii, ’n dokter by Osaka se Universiteitshospitaal gesê.

“Die virus is skaars onder beheer noudat ons grense vir buitelanders gesluit is. Met byeenkomste soos die Olimpiese Spele sal die virus sonder twyfel inglip en dit onvermydelik wees dat die getal infeksies opskiet.”

Japan se sukses met betrekking tot die bekamping van die virus is deel van die rede waarom dié voorspellings gemaak word.

’n Nuwe datum vir Tokio se Olimpiese Spele is reeds bepaal. Foto: Getty Images

’n Onlangse ondersoek deur die regering het gewys dat net 0,1% van Tokio se inwoners teenliggaampies vir die koronavirus het. Dít is aansienlik laer as die 14% wat New York in April getoon het en die 7% in Stockholm.

“Baie min mense in Japan het die virus opgedoen en basies almal is daarom kwesbaar,” sê Katsoenori Janagihara, ’n professor by die Universiteit van Nagasaki se fakulteit vir tropiese medisyne en globale gesondheid.

Teenliggaampies help om infeksies teen te werk en wetenskaplikes glo dit help voorkom dat jy ’n tweede keer die infeksie opdoen.

Meer as 100 potensiële teenmiddels word tans ontwikkel, maar kenners glo nie enige van dié middels sal al teen die aanbreek van die Spele in grootmaat vir deelnemers aan die skouspel beskikbaar wees nie.

“Selfs al is ’n teenmiddel teen daardie tyd al ontwikkel, sal dit byna onmoontlik wees om al oor die wêreld heen beskikbaar te wees,” skat Atsoeo Hamada, ’n professor by Tokio se Mediese Universiteitshospitaal.

Selfs al is ’n teenmiddel teen daardie tyd al ontwikkel, sal dit byna onmoontlik wees om al oor die wêreld heen beskikbaar te wees.
Atsoeo Hamada

Verlede maand is ’n opname in Tokio gedoen waar 59% van diegene wat genader is, sê hulle glo die Spele moet gekanselleer of weer uitgestel word.

Josjiro Mori, hoof van die Tokio-reëlingskomitee, het Maandag gesê hy beplan om teen September ’n taakspan saam met die betrokke munisipale owerhede saam te stel.

Mori het in ’n vergadering met Joeriko Koike, die Japannese hoofstad se goewerneur, onder meer die beperking op toeskouers en die siftingsproses vir buitelanders bespreek.

Japan het sover net 20 000 bevestigde gevalle van die virus gehad, met 980 sterftes. – Reuters

Meer oor:  Tokio  |  Japan  |  Covid-19  |  Olimpiese Spele  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.