Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Spele-uitstel dalk goed vir Rassie se lewer

Vir die kans om sy loopbaan by ’n Olimpiese Spele af te sluit, sal die Suid-Afrikaanse hokkiespeler Rassie Pieterse enigiets doen – selfs vir die volgende 17 maande wegbly van alkohol.

Pieterse, wat al vir jare doelwagter vir die nasionale span speel, vertel die Proteas het ooreengekom om tot ná die Olimpiese Spele weg te bly van alkoholiese verversings. Die aankondiging Dinsdag dat die Spele met ’n jaar uitgestel word, het dus vir hulle ’n ekstra angel in die stert, mits hulle besluit om die verbod te behou.

Rassie Pieterse in aksie teen België. Foto: Getty Images

Maar Pieterse (36) sê dit sal aan hom geen verskil maak as hy vir ’n jaar langer moet nee sê vir bier en hardehout nie. Ná hy en sy spanmaats in 2016 droëbek moes kyk hoe ander spanne Olimpiese hokkie speel (omdat hul status as Afrika-kampioen nie aan Saskok se kwalifiseringsvereistes voldoen het nie), is hy behóórlik uitgehonger vir die Tokio-skouspel. Hy sal sy beplande uittrede met liefde met ’n jaar daarvoor uitstel.

“Soos ek dit in my geestesoog sien eindig my loopbaan by ’n Olimpiese Spele. As ek volgende jaar nog fiks genoeg is vir die Spele en die afrigters en keurders wil my stuur, sal ek 100% toegewyd wees tot die saak.

“Dis my droom om in nog ’n Olimpiese Spele te speel en vir hierdie span om iets by ’n Spele te bereik wat ons nog nooit het nie. Daardie droom brand baie sterk in my.”

Pieterse het ’n rekord-aantal van 162 toetse op sy kerfstok en was by twee Spele (in 2008 en 2012). Hy sê die onsekerheid oor die Spele-datum het die laaste ruk goed aan hom en sy spanmaats geknaag. Nadat Kanada en Australië Maandag gesê het hulle sal nie spanne stuur nie, het hulle egter vermoed die uitstelling is net ’n kwessie van tyd. Die aankondiging het eindelik Dinsdag gekom.

Wat die span se spelpeil betref, is Pieterse optimisties. Hy glo hulle het groot vordering onder hul huidige afrigter, Garreth Ewing, gemaak het.

“As jy kyk hoe ons vaar vandat Garreth oorgevat het, sien jy ons het net gegroei.

“Ons het verskeie mylpale behaal. Ons het die eindstryd van die wêreldreeks-toernooi in Indië gehaal en die Afrikabeker gewen sonder om ’n wedstryd te verloor. Daarby het ons vanjaar ’n goeie reeks teen Amerika gehad waarin ons basies skoonskip gemaak het met ’n groter groep en (met ’n gelykop-uitslag) in die derde toets teen Duitsland gewys ons kan ons man staan teen groot spanne. “Ek dink dis ook mooi om te sien hoe die diepte van die groep gegroei het. Ons praat nie meer net van 18 spelers nie, maar van 46.”

Die onlangse reeks teen Duitsland was veronderstel om Pieterse se laaste tuisreeks te wees, aangesien hy wou aftree. Daar is selfs in die kleedkamer van hom afskeid geneem.

Nou lyk sy pad vorentoe egter heeltemal anders – en hy is opgewonde daaroor.

“Ek het nog genoeg sous in hierdie bene,” sê hy. “Die uitstel van die Spele gee my nou nog ’n bietjie hokkie en ek sien uit daarna. Ek geniet my hokkie nog vrek baie.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Hokkie  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.