Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
'Gee ons geld om te transformeer'

Help ons met finansiering en geriewe en ons help graag om sport te transformeer.

So het twee van Suid-Afrika se nasionale sportfederasies Donderdag gereageer nadat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, vroeër die dag gesê het Suid-Afrika se Olimpiese span in Tokio is nie verteenwoordigend van die land se demografie nie en transformasie in sport moet versnel word.

Ander federasies het egter gesê daar sal altyd druk op die regering wees om meer te doen, en mense moet in gedagte hou die regering moet tientalle federasies finansier.

Mthethwa meen transformasie is in verskeie sportsoorte (insluitend rugby en krieket) nie waar dit moet wees nie en dat op én van die veld af meer getransformeer moet word.

“Selfs voordat die Olimpiese span weg is, het ons gevra (dat federasies transformasie moet versnel),” het Mthethwa op ’n nuuskonferensie gesê.

Mense sê ons moenie politiek by sport inbring nie. Ja, maar ons moet die nalatenskap van politiek in sport hanteer. Die nalatenskap van apartheid.
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur

“ ’n Span wat Suid-Afrika verteenwoordig, moet ook sy demografie verteenwoordig.

“Mense sê ons moenie politiek by sport inbring nie. Ja, maar ons moet die nalatenskap van politiek in sport hanteer. Die nalatenskap van apartheid.”

Alan Fritz, president van Swem Suid-Afrika (SSA), het gesê hy stem saam dat transformasie in swem nie is waar dit moet wees nie. Sy organisasie wil dit graag verander. Hulle het egter nie die geld of geriewe om swemmers oral in die land te help ontwikkel nie.

“Dit kos miljoene rande om ’n atleet van amateurvlak tot by die Olimpiese Spele te kry,” het Fritz gesê.

“Daarby kort ons meer swembaddens en ander geriewe om swemmers se talente te ontgin.

“Vandalisme by ons bestaande geriewe is ook ’n groot probleem. En munisipale regerings se onvermoë om munisipale swembaddens in stand te hou, het ’n negatiewe effek op ons transformasieteikens,” sê hy.

Daar was juis vroeër vanjaar ’n voorbeeld van die klippe wat gebrekkige instandhouding in SSA se pad rol, toe die nasionale swemkampioenskap en Olimpiese proewe van Durban se Kingspark-stadion (waar dit gewoonlik plaasvind) na Gqeberha geskuif moes word. Die Kingspark-stadion het ’n lekkende dak en stukkende verwarmers gehad wat nie betyds herstel is nie.

Sport speel ’n belangrike rol in die breër spektrum van transformasie. Dit hou kinders van die strate af en dit beveg dwelm- en drankmisbruik.
SSA

Fritz sê SSA het die regering reeds gevra om meer in sport as geheel te belê.

“Sport speel ’n belangrike rol in die breër spektrum van transformasie. Dit hou kinders van die strate af en dit beveg dwelm- en drankmisbruik. Die regering kan beslis meer doen om dit te transformeer,” sê hy.

Marissa Langeni, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging (SAHV), het ook Donderdag gesê die gebrek aan geriewe en die instandhouding daarvan het ’n negatiewe effek op transformasieteikens.

Sy sê daar is beslis ruimte vir verbetering in die regering se benadering tot transformasie.

“Daar moet veral beter na ons skole gekyk word. Ons sit met 25 000 skole in die land, maar net 10% daarvan het sportprogramme. Ons kort dringend bykomende hulpbronne by skole om te help met transformasie,” sê sy.

Mthethwa het op die mediakonferensie gesê sy departement fokus wel op skole om sport op daardie vlak te bevorder en te ontwikkel. “Ons is in gesprek met die departement van onderwys hieroor.”

Volgens die minister het die Olimpiese span in Tokio nie na wense gevaar nie.

Gimnastiek Suid-Afrika (GSA) en Atletiek Suid-Afrika (ASA) sê hulle het begrip vir die regering.

Donny Jurgens, president van GSA, het Donderdag gesê hulle glo nie dat hulle afhanklik van die regering moet wees om transformasie in dié sportsoort te laat gebeur nie.

“Ons glo ons moet in vennootskap met hulle en die private sektor wees om ons teikens te behaal. Ons het goed gevaar ten opsigte van transformasie. Ons maak die beste van ons beskikbare hulpbronne. Twee van ons gimnaste (Caitlin Rooskrantz en Naveen Daries) het vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer, en albei is vroue van kleur. Hulle het ook goeie bystand van die departement van sport ontvang,” sê hy.

Hy erken egter die regering kan help met meer geriewe vir gimnastiek. “Daar sal altyd druk wees op die regering om meer te doen,” sê hy.

Sifiso Cele, woordvoerder van ASA, het Donderdag gesê aangesien transformasie ’n deurlopende program is, “kan die finansiële ondersteuning van die regering nooit genoeg wees nie”.

Hy sê ASA waardeer dit wat hulle van die regering ontvang. “Ons is egter in konstante dialoog met die regering oor hierdie onderwerp en oor ander maniere van deurlopende ondersteuning om beter resultate in transformasie te behaal. Ons moet in gedagte hou dat die regering te doen het met meer as 80 federasies wat almal finansiering nodig het,” sê hy.

Mthethwa het ook Donderdag gesê die Olimpiese span in Tokio het nie na wense gevaar nie.

“Ons sal daarna kyk wanneer hulle (die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee, oftewel Saskok) terug in die land is,” sê hy.

Hy sê Suid-Afrika se medaljewenners op die Olimpiese Spele sal ’n finansiële bonus ontvang, maar het nie gesê hoeveel dit sal wees nie.

“Ons moet hulle vergoed vir hul goeie prestasies. Dit sal ook geld vir Paralimpiese atlete wat medaljes verower,” sê Mthethwa.

Daar was tot dusver net twee Suid-Afrikaanse medaljewenners by die Tokio-Spele: die borsslag-swemmer Tatjana Schoenmaker (goud en silwer) en die branderryer Bianca Buitendag (silwer).

Netwerk24 het Mthethwa se kantoor Donderdag met verdere vrae oor sy opmerkings oor transformasie genader en wag steeds vir ’n reaksie.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Transformasie  |  Sport  |  Finansiering  |  Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.