
LeBron James is een van die bekendste sportpersoonlikhede ter wêreld. Foto: Getty Images
’n Skaars LeBron James-sportkaartjie is opgeveil vir $1,8 miljoen (R29,7 miljoen) – ’n bedrag wat die vorige rekord vir ’n soortgelyke item byna verdubbel.
CNN berig die kaartjie is van die LA Lakers-staatmaker in sy eerste seisoen in 2003-’04 toe hy vir die Cleveland Cavaliers gespeel het. Daar was glo slegs 23 vervaardig en is volgens die afslaers in ’n “ongeskonde toestand”.
Die 35-jarige basketbal-ster, ’n 16-malige NBA All-Star-speler en wenner van vier Most Valuable Player-pryse, jaag tans sy vierde NBA-titel na.
Die NBA-seisoen is weens die Covid-19-pandemie op 11 Maart opgeskort en hervat op 30 Julie waar die oorblywende wedstryde almal by Disney World in Florida beslis sal word. Die Lakers is boaan hulle afdeling.
Die veiling by Goldin Auctions het die vorige rekord van $923 000 vir ’n sportkaartjie verpletter. ’n Aanhanger het in Mei daardie bedrag opgedok vir ’n kaartjie van die Los Angeles Angels-bofbalster Mike Trout.
Die James-kaartjie, wat deur Upper Deck vervaardig was, is geteken en bevat ook ’n deel van een van sy Cavaliers-truie.
– Sportredaksie