Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sportlui . . . en die groot soek na liefde

Valentynsdag. Ooee, die liefde. Dis nie maklik nie, veral nie as jy ’n sportman of sportvrou is en jou liefie stel nie in sport belang nie.

Dalk is dit waarom sportmense soms eerder met mekaar trou, want hulle verstaan mekaar se lewens.

Tortelduifies . . . Laila Ali en Curtis Conway. Foto: Getty Images

Kyk maar na die voormalige tennis-sterre Andre Agassi en Steffi Graff. Dit lyk of dinge tussen hulle nog werk, of hoe?

Dan weer, dis nie te sê dinge gaan noodwendig uitwerk as twee sporthelde by mekaar uitkom nie.

Vat nou maar vir Chris Evert. In die 1970’s was dié Amerikaanse vrou omtrent die wêreld se gunsteling-tennisspeler.

Jimmy Connors, ook ’n top-tennisspeler van Amerika, het omtrent kop verloor toe hy in haar vasloop.

Nie lank nie, toe is hulle verloof.

Nie lank nie, toe is hulle uitmekaar.

Nie lank nie, toe trou Chrissie met die Britse tennisspeler John Lloyd.

Nie lank nie, toe skei hulle.

Nie lank nie, toe trou Chrissie met die ski-kampioen Andy Mill.

Nie lank nie, toe skei hulle.

Nie lank nie, toe trou Chrissie met die Australiese gholfheld Greg Norman.

Nie lank nie, toe skei hulle.

So, dis nie te sê dinge gaan in ’n huwelik tussen twee sportsterre werk nie.

Hulle was ook eens op ’n tyd tortelduifies . . . Chris Evert en Greg Norman. Foto: Getty Images

Sover werk dinge nog tussen die voormalige bokser Laila Ali en die voormalige Amerikaanse voetbalspeler Curtis Conway.

Curtis, wat deesdae ’n voetbal-ontleder op TV is, is geskei en het drie kinders uit ’n vorige huwelik. Hy en Laila het saam twee kinders.

Ek weet as jy geld het en jy het mag en jy het al hierdie ja-broers om jou, dan het jy nie altyd daardie een persoon wat jou eenkant toe kan vat en vir jou reguit vertel jy maak nou droog nie.

Laila het in haar jong dae ’n paar keer met die gereg gebots. Sy was ’n winkeldief en was ook al in die moeilikheid oor kredietkaartbedrog.

Laila het begin bykom toe sy begin boks het. Dié dogter van die bokslegende Muhammad Ali het soveel geld met haar vuiste gemaak dat sy alle lus verloor het om iets te gaps.

“My familie kom eerste,” het Laila al baie keer gesê.

Laila Ali wys die akteur Tommy Davidson wat sy wil doen met outjies wat hul vroue slaan. Foto: Getty Images

Laila is ook op rekord dat sy self haar huis skoonmaak en self vir haar man en kinders kosmaak.

Kykers van die televisieprogram Chopped: All Stars sal weet dat Laila sowaar haar storie in ’n kombuis ken. Sy was al ’n gas op dié program en het toe gewys dat sy meer op ’n stoof kan doen as net ’n eier kook.

Laila het blykbaar ook ’n hart van goud. Daar in 2009 rond het die voormalige rofstoeier Hulk Hogan aan erge depressie gely.

Die ou grote met die gekleurde hare en hangsnor het dit oorweeg om sy eie lewe te neem. Toe bel Laila hom. En sy pluk vir hom uit daardie donker put en nie lank nie, toe glimlag ou Hulk weer baie mooi met sy blink winkeltande.

So ’n klompie jare gelede was die bokser Floyd Mayweather mos in die nuus toe hy sy eks verrinneweer het.

Dit het Laila nogal ontstel.

“Daar was al tye dat ek wou uitreik na hom (Mayweather) en met hom gesels, want ek sien die seuntjie al is hy ’n volwasse man, ek sien die gebreekte mens,” het Laila aan CBS Sports gesê.

“Ek weet as jy geld het en jy het mag en jy het al hierdie ja-broers om jou, dan het jy nie altyd daardie een persoon wat jou eenkant toe kan vat en vir jou reguit vertel jy maak nou droog nie.”

Laila het dit duidelik gemaak dat sy Mayweather nie haat nie.

“Ek hou net nie van hoe hy optree nie. Ek hou nie van hoe hy mense behandel nie. En ek hou beslis nie daarvan dat hy vroue slaan nie, want dit is lafhartig . . . hy het iemand nodig wat hom weer op die regte pad kan sit.”

Laila Ali op haar aggressiewe beste. Foto: Getty Images

As ’n ou so na Laila luister, dink jy dalk dat haar eie man maar in sy spore moet trap. Hy was miskien ’n voetbalspeler, maar sy was die super-middelgewig- en die ligswaargewigbokskampioen van die wêreld.

Sy was onoorwonne ná 24 gevegte waarvan sy 21 met uitklophoue gewen het.

Haar laaste geveg was, terloops, in 2007 by Emperors Palace in Kempton Park, waar sy Gwendolyn O’ Neil met ’n tegniese uitklophou in die eerste ronde vernietig het.

Sedertdien het Laila – wanneer sy nie huis skoonmaak of kosmaak vir haar man en kinders nie – in verskeie televisieprogramme, soos Dancing with the Stars, opgeduik.

Deur die jare het verskeie promotors haar weer na die kryt probeer teruglok.

Ja, lag maar lekker, Floyd Mayweather . . . Laila Ali weet waar jy is! Foto: Getty Images

Verlede maand was dit die Britse promotor Eddie Hearn se beurt. Hy wil hê sy moet terugkeer en ’n geveg teen die 24-jarige Claressa Shields.

“Ai tog, ek is al 42 jaar oud, iemand sal my regtig baie geld moet aanbied voordat ek weer in die kryt sal klim,” het Laila gesê.

Sy noem toe bedrae van $5 miljoen of $10 miljoen.

En Claressa sien dadelik haar kans, sy stel toe voor die wenner kry $10 miljoen en die verloorder $5 miljoen.

Maar Laila is duidelik nie lus vir ’n come-back nie.

Haar eie pa, Muhammad, se patetiese come-back is dalk nog te vars in haar geheue.

En dalk wil haar man ook nie vir die paar maande wat sy vir so ’n geveg moet oefen, die huis skoonmaak en die kos kook nie . . .

  • Bronne: CBC Sports; nickiswift.com; boxrec.com; ibtimes.com; badlefthook.com; USA Today.
Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.