Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Minister: Méér transformasie nodig

Suid-Afrikaanse sport is nog nie ernstig genoeg oor transformasie nie.

Só sê Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, in ’n verklaring wat Saterdag uitgereik is nadat hy Vrydag met Happy Ntshingila, die voorsitter van die Eminent Persons’ Group (EPG), vergader het.

Nathi Mthethwa (links), minister van sport, kuns en kultuursake, langs Siya Kolisi ná die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in 2019. Foto: Gallo Images

Die EPG stel jaarliks ’n verslag saam wat die mate waartoe Suid-Afrikaanse sportliggame transformasie fasiliteer, monitor.

Luidens Mthethwa, wat oor die bevindinge in die 2019-’20-verslag praat, is daar steeds rede tot kommer wat die stand van transformasie in sport betref.

“Min. Mthethwa is bekommerd dat te min van die EPG-span se aanbevelings in werking gestel word, en sal selfs sover gaan as om toepassingsmeganismes, insluitend die moontlike gebruik van wetgewende instrumente, voor te stel om te verseker dat alle transformasie-teikens behaal word,” sê die departement van sport, kuns en kultuursake.

“Die verslag wys daarop dat meer as 50% van die geouditeerde federasies hul transformasie-teikens behaal het.

“Swart mense en vroue is onderverteenwoordig in elke sfeer van Suid-Afrikaanse sport.”

Luidens die departement beoefen minder as 10% van die sowat 25 000 skole in die land sport, wat ’n drastiese verbetering vereis.

“Die minister het sy kommer uitgespreek oor die leierskap wat deurlopend die ontwikkeling van transformasie in sport in die land minag,” lui die verklaring.

“Hy sê ’n dringende fundamentele gesprek is nodig oor die herskepping van sport in die land, waarvan transformasie ’n groot deel sal behels.”

Mthethwa sê ’n groter fokus is nodig om talent in townships en landelike gebiede te identifiseer.

Baie Suid-Afrikaners het bitter herinneringe aan die EPG-verslag nadat dit juis dié dokument was wat in 2016 daartoe gelei het dat Fikile Mbalula, wat toe sportminister was, rugby, krieket en atletiek in die land verbied het om enige groot internasionale byeenkomste aan te bied nadat hy ontevrede was met die behaalde transformasie-teikens. – Sportredaksie

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Epg  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.