Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sportregulasies vang Mthethwa-hulle onkant

Die vlak 3-inperkingsmaatreëls ingevolge waarvan slegs professionele atlete weer sport mag beoefen, het die departement van sport, kuns en kultuur verlede week heeltemal onkant gevang en hy probeer sedertdien alles in sy vermoë om die woord “professioneel” te herdefinieer.

Die minister van sport, Nathi Mthethwa. Foto: Gallo Images

Netwerk24 verneem op goeie gesag van onberispelike bronne dat die departement die nasionale koronavirus-bevelsraad (NCCC) gevra het om eers “sosiale” sport – dus vir amateurs – toe te laat voordat op beroepsport gefokus word.

Die hervatting van sport vir Jan Alleman was die hoof-element van die sportfederasies se voorleggings aan die department in die dae en weke voor die regulasies Donderdag deur Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, afgekondig is.

Uit gesprekke met ’n aantal federasies is dit duidelik dat die departement hard werk om die verwarring wat die regulasies – wat die minister van sport, Nathi Mthethwa, Saterdag op ’n perskonferensie bevestig het, maar wat nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie – op te klaar.

Sy departement het ook Maandag ’n verklaring uitgereik om te vra vir geduld terwyl die regulasies onderteken en gepubliseer word. Dit is nie seker hoe lank dit gaan duur nie.

Maar dit blyk daar is wel selfs binne die departement onsekerheid oor wat toelaatbaar is.

Nadat op Mthethwa se Twitter-rekening gesê is dat “nie-kontaksport beoefen mag word”, is talle sportfederasies Maandag deur navrae van die publiek oorval.

Die twiet wat die gefladder veroorsaak het.

Dié twiet is drie en ’n half uur later aangepas om te spesifiseer dat slegs “nie-kontak- professionele sport” beoefen mag word en sosiale gholf steeds nie toegelaat word nie. Albei twiets was in reaksie op ’n navraag deur ene Thulani Makhubela, wat gevra het: “As mense die hele dag kan oefen, wat is fout daarmee om gholf te speel?”

Nathi Mthetwa se tweede twiet
Drie en 'n half uur later is die omstrede twiet aangepas.

Mthethwa het waarskynlik nie self die twiets gestuur nie, aangesien daar dikwels van dié rekening getwiet word terwyl hy met mediakonferensies besig is. Maar federasie-presidente sê dit het beslis ’n beroering veroorsaak.

“Daar was ’n horde oproepe en boodskappe van mense wat wou weet of hulle nou maar weer mag gaan oefen, want die minister het nie-kontaksport die groen lig gegee. Ons moes net vure doodslaan,” het Kim Pople, die president van Kanovaart Suid-Afrika, gesê.

“Ons wil ons lede so graag tasbare antwoorde gee oor die pad vorentoe, maar ons weet self nie hoe daardie pad lyk nie.

“Ons lede dink ons doen niks om vir hulle duidelikheid te kry nie, maar ons doen die laaste paar weke niks anders nie.

“Ons het van ons kant af strategieë opgestel en ingehandig om uiteen te sit hoe ons die risiko’s in ons sportsoorte sal beperk. Ons het as kollektief aan ’n raamwerk vir die oopmaak van sport gewerk. Nou vra ons dat die departement ons help om duidelikheid aan ons lede te gee.

“Gee die federasies beheer oor die proses om sport weer oop te maak. En stel vir ons reëls voor – ons is gewoond aan reëls, dis waaroor sport gaan.”

Lede se aandrang op meer inligting as wat die federasies kan gee, het die uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika, Richard Glover, genoop om ’n ope brief aan die land se tennisgemeenskap te skryf.

In die komende dae sal ons hard werk om meer vensters, en uiteindelik ook ons geslote deur, oop te maak.
Richard Glover

Daarin verduidelik hy dat TSA ’n omvattende strategie opgestel het om almal veilig te hou en reeds begin het om ’n lys op te stel van klubs wat aan die Covid-19-protokol voldoen.

“Sommige van julle wat hierdie brief lees, moet desperaat terug by die werk kom en kos op die tafel sit. Niks hiervan sal dus vir julle ’n troos wees nie. Maar TSA hou aan baklei vir ons sport. Ons is verbind daartoe om ons klubs so gou as moontlik te heropen en ál ons afrigters terug by die werk te kry.

“Saterdag se aankondiging (deur die minister) wys dat ’n venster oopgemaak is in die kleedkamer en ’n bietjie lig en vars lug besig is om terug te keer. Dis nie genoeg nie, maar dis ’n begin. In die komende dae sal ons hard werk om meer vensters, en uiteindelik ook ons geslote deur, oop te maak,” skryf hy.

Glover se optimisme dat sport se geslote deure kort voor lank oopgemaak kan word, word deur Pople, sowel as Grant Hepburn, die uitvoerende hoof van Golf RSA, Anne Vermaak, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasie, en Jennifer Sawyer, die waarnemende president van Muurbal Suid-Afrika, gedeel.

“Die departement kommunikeer met ons, en dit lyk of hy sy bes doen. In ons gesprekke met die ander federasies is almal optimisties dat dinge binnekort tot ’n punt sal kom,” het Vermaak gesê.

“As jy nie hoop het nie, wat het jy? Ons het beslis hoop dat ons binnekort duidelikheid oor die volgende stap gaan hê,” was Sawyer se slotsom.

“Ten minste weet ons nou ons kan binne 14 dae ná die publikasie van die regulasies toestemming vra om sekere bedrywighede te hervat. Ons weet almal ons gaan terugkeer na ’n ander normaal, maar dan kan ons darem daaraan begin dink om ons deure oop te maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.