Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sportvrou van die Jaar word porno-ster

Verona van de Leur is op 16-jarige ouderdom as Nederland se Sportvrou van die Jaar aangewys, maar vandag is die 35-jarige voormalige gimnastiekkampioen in die pornografiebedryf betrokke.

Verona van de Leur in aksie op die Wêreldkampioenskappe in 2006. Foto: Getty Images

Van de Leur was 14 toe sy twee junior Europese medaljes verower het en haar aansien as ’n gedugte gimnas het twee jaar later die hoogte ingeskiet toe sy vyf medaljes op die Europese Kampioenskap, drie by die Wêreldbeker en ’n silwer op die Wêreldkampioenskap gewen het.

Sy is destyds in 2002 as Nederland se Sportvrou van die Jaar aangewys, maar saam met die sukses moes sy haar staal vir groter verwagtinge, druk en negatiewe kwessies wat haar verdienste en prysgeld betref.

“Dit is soos ’n geskenk wanneer jy ’n medalje wen as jy agt of nege jaar oud is. Almal is trots, jou ouers, vriende en grootouers. Jy is spesiaal op ’n ander manier, so dit is altyd ’n goeie gevoel,” sê Van de Leur in ’n onderhoud met CNN.

“Soos sake vorder en jy vir die eerste keer op die podium staan, begin die druk oplaai.

Van de Leur was ’n topgimnas voordat haar persoonlike lewe in duie gestort het. Foto: AP

“Wanneer jy nie op die podium staan nie, ontvang jy al die haat en moet jy hoor jy is nie goed genoeg nie. Toe begin dit ’n obsessie raak, nie net vir my nie, maar vir almal rondom my.

“Jy kry borge en kontrakte en dit is ’n groot ding vir almal. Dan moet jy almal tevrede stel.”

Van de Leur is in Gouda gebore en het in ’n liefdevolle huis grootgeword waar haar ouers en suster haar van vyfjarige ouderdom in haar gimnastiekloopbaan ondersteun het.

Haar ouers het na haar finansies en kontrakte omgesien terwyl sy hard aan die werk was om haar droom te bewaarheid om vir die Olimpiese Spele in 2004 te kwalifiseer.

Van de Leur se opmars is egter gestuit toe ’n besering haar hoop verydel het om die Spele in Athene te maak, voordat sy later besef het haar pa het $6 200 van haar geld in Las Vegas weggedobbel.

Van de Leur, wat verlede jaar haar boek, Simply Verona, uitgereik het, sê: “My ouers het my bankkaart gehad en na my finansies omgesien. Vir my het niks verander nie. Ek was in dieselfde skool, ek het aanhou oefen, maar ek het geweet my ouers se lewe het verbeter.

“Daar was uiteraard minder druk op hulle wat finansies betref, maar ek het nie veel van die geld gesien nie.

“Ek het jaarliks tienduisende euro verdien en selfs toe ek beseer was, het hulle my in my loopbaan bygestaan voordat ek uitgetree het.”

Sy het die sport in 2008 vaarwel geroep en kort daarna haar ouers gedagvaar.

“Ek dink ek het in die laaste jaar van my loopbaan vir geld begin vra, maar ek het nie duidelike antwoorde gekry nie. Ek het maar net gedink: ‘Goed, dit is my pa, hy weet wat hy doen en ek wil nie by ’n argument betrokke raak nie.’

“My ouers wou nie my uittrede aanvaar nie en ek en my pa het vasgesit. Hy het allerhande verskonings gehad, maar toe ek die state nagaan, het ek besef daar is groot fout en al die geld wat ek verdien het, is bestee.

“Geld was ’n groot dryfveer vir hulle, maar nie vir my nie. Jy vind baie uit van mense se karakter sodra geld betrokke is. Ek het nie meer geweet wie my eie ouers was nie.

“Was ek steeds jul dogter, of was my bankrekening al wat saak gemaak het? Jy voel op ’n manier gebruik.

“Ek het van die begin van die hofsaak af besef ek het alles verloor en dat geld nie my ouers gaan terugbring nie.”

Die hof het ná ’n uitgerekte saak beslis Van de Leur se pa moet $100 000 in paaiemente aan haar terugbetaal. Dit is 11 jaar sedert sy kontak met haar ouers gehad het en haar lewe het in daardie tyd aanhou ontrafel.

Van de Leur se geld het voordat die hof in haar guns beslis het vinnig opgeraak en sy en haar kêrel het vir twee jaar in haar motor gewoon.

Sy het kos gesteel om te oorleef en selfs ’n paartjie wat ontrou was met €1 000 afgedreig.

Van de Leur het vir twee jaar in haar motor gebly voordat sy tronk toe is. Foto: The Sun

“Ons was werkloos en het van dag tot dag gelewe. Die winter was die ergste, jy het nie eens geweet of jy die volgende dag gaan wakker word nie.

“Ons het in supermarkte geëet as iets gratis was, andersins moes ons eenvoudig kos steel. Ek is nie trots daarop nie.

“Die paartjie wat ontrou was . . . Ek was net besig om foto’s te neem en toe gebeur dit reg voor my. Ek het die vrou gekonfronteer en toe sy my vra of ek haar afdreig, het ek op geld aangedring.

“Ons het die geld nodig gehad en al het ons niks ontvang nie, het ek gedink dit is gedane sake.

“Maar sy het my beskrywing en nommerplaat by die polisie aangegee en ek is in hegtenis geneem.”

Van de Leur het 72 dae in die tronk deurgebring. Toe sy vrygelaat is, het sy ’n kans gekry om ’n nuwe blaadjie om te slaan: Sy is deur ’n maatskappy genader om haar by die pornografiebedryf aan te sluit.

“Pornografie betaal baie beter as gimnastiek, so ek en my kêrel het ooreengekom om die kans aan te gryp. Ek beskou dit eintlik nie as ’n besluit nie, maar as ’n geleentheid.

“Ek het voorheen baie erger dinge beleef, soos om dakloos en honger te wees, so dit was ’n groot stap. Ek het uiteraard as kind nie gedink dit is iets wat ek eendag wil doen nie, maar ek het nie omgegee nie.

“Dit was nie meer vir my nodig om my familie en vriende se goedkeuring na te jaag nie. Die mense rondom my het my aanvaar vir wie ek is en my keuses.

“Ek het aanvanklik as ’n webkamera-meisie gewerk. Twee of drie maande later het ek en my kêrel ons eie besigheid begin en ons het slegs saam met mekaar gewerk.

“Hy is my fotograaf en akteur. Dit was vir my ’n groot verligting, andersins sou ek nie in die bedryf gewerk het nie. Ons het albei op die strate geleef, so ons het dieselfde swaarkry ervaar.”

Van de Leur het in 2019 kortstondig na gimnastiek teruggekeer toe sy as ’n analis vir die Nederlandse media op die Wêreldkampioenskappe in Stuttgart gewerk het, maar sy het voor die einde van die byeenkoms reeds huiswaarts gekeer.

“Ek geniet my werk.”

Sy en haar kêrel is ná 14 jaar steeds saam.

Die voorblad van Van de Leur se boek, ‘Simply Verona’.

– Sportredaksie

Meer oor:  Pornoster  |  Gimnastiek  |  Verona Van De Leur  |  Pornografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.