Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Stadsraad vereer bokser met 'dag'

Op dieselfde dag as wat Amerikaanse president, Joe Biden, 20 Januarie as ’n nasionale dag van versoening verklaar het, het die stadsraad van Albuquerque dié dag as “Angelo Leo-dag” geproklameer.

Angelo Leo verlede jaar in Uncasville in Connecticut op pad na sy oorwinning oor Tramaine Williams. Foto: Showtime Boxing

Angelo Leo is ’n bokser van Albuquerque in die Amerikaanse staat Nieu-Mexiko, wat verlede jaar die Wêreldboksorganisasie se junior veergewigtitel gewen het.

Nog net twee boksers van Albuquerque kon daarin slaag om ’n wêreldtitel te wen.

Buiten Leo het Bob Foster in die 1970’s die Wêreldboksraad en die Wêreldboksvereniging se ligswaargewigtitel verower.

Foster het destyds ook twee keer teen die Suid-Afrikaner Pierre Fourie geboks en albei kere gewen, hoewel baie kenners steeds glo dat Fourie in die tweede geveg eintlik beter as hy was.

Nog vier ander boksers van Nieu-Mexiko – Johnny Tapia, Danny Romero, Holly Holm en Austin Trout – was ook al wêreldkampioene.

Volgens PR Newswire het Albuquerque se stadsraad ook in ag geneem dat Leo al sedert sy amateurboksdae verskeie titels gewen het.

Leo was ook die afgelope twee jaar Nieu-Mexiko se Bokser van die Jaar.

Leo kom uit ’n armoedige huis en is deesdae baie betrokke by organisasies wat behoeftige mense in Las Vegas, wat hy tans as basis gebruik, probeer help.

Stephen Fulton glo hy gaan Angelo Leo as die WBO se junior veergewigkampioen onttroon. Foto: Getty Images

Die 26-jarige bokser sal Saterdag sy titel vir die eerste keer verdedig wanneer hy in Uncasville in Connecticut teen sy landgenoot Stephen Fulton te staan kom.

Hulle twee sou verlede jaar in Augustus sake vir die vakante titel uitgespook het, maar Fulton het Covid-19 opgedoen en moes hom onttrek.

Tramaine Williams het toe in sy plek teen Leo geboks en met punte verloor.

Beroepswedders beskou Fulton as die gunsteling om Saterdag te wen.

“Dit maak my net meer vasbeslote om te wen,” het Leo gesê toe hy daarvan te hore gekom het.

Leo is een van daardie boksers wat daarvan hou om die hele tyd vorentoe te kom en baie houe, veral lyfhoue, te plant.

Fulton dink egter nie veel van hom nie.

“Hy het nie my handspoed of my vaardighede nie. Hy hou nie vir my enige gevaar in nie,” het Fulton aan Boxing Scene gesê.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.