Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Stings kry ’n tweede keer pak in Pretoria
Tanya von Berg dikteer die senterbaan van die Crinums in Saterdag se Liga-wedstryd teen die Stings in Pretoria. Foto: BackpagePix

Dit was voor dié naweek ondenkbaar om te dink dat die Southern Stings twee keer slae sou kry.

Maar dit is presies wat Saterdagmiddag in Pretoria gebeur het toe die Wes-Kaapse netbalspan sy tweede agtereenvolgende wedstryd in die Nasionale Liga verloor het.

Die Crinums van die Vrystaat was met 53-48 baas omdat hulle ’n eenheid is én die temperament vir die kritieke oomblik het.

Die Jaguars se Anique Grobler op die aanval teen die Fireballs. Foto: Gallo Images

Die Kaapse span daarenteen het die wedstryd – en twee broodnodige punte – deur sy vingers laat glip.

Dít nadat hy Vrydagaand met 50-54 teen die Flames verloor het.

Die Stings was verlede Sondag met vier doele baas in hul eerste ontmoeting met die Vrystaters.

En jy kan maar weet Burta de Kock, die Crinums-afrigter, laat haar nie twee keer vang nie.

Die Crinums is soos ’n keffertjie aan jou broekspyp – hulle laat nie los nie.

Hul sleutelspeler was die immer betroubare Tanya von Berg, wat as die Speler van die Wedstryd aangewys is.

Linda Mouton van die Fireballs (links) rank hoog om ’n doelpoging van Danielle van Zyl van die Jaguars te probeer keer. Foto: Gallo Images

Dié kleinsus van Karla Pretorius is op hulpdoelverdediger en senter ingespan, maar dit was in die senterposisie dat sy in die laaste kwart met ’n onderskep die wedstryd vir haar span gewen het. Dít nadat sy eers ’n rukkie op die plaasvervangersbank gesit het!

Dit is jammer dat Karla en Tanya se ma, Magda Mostert, nie nóg ’n netbaldogter kon oplewer nie, want jitte, albei kan speel!

Die Crinums het 15 keer onderskep teenoor die ses van hul teenstander.

Die kwarttellings was 12-12, 24-26 en 37-38.

Die Protea-verdediger Precious Mthembu van die Kingdom Stars wen Saterdag besit in die wedstryd teen die Sunbirds. Foto: BackpagePix

Die Stings het goed gespeel, maar kon nie enduit beheer behou en die druk weerstaan nie.

’n Moeiliker hekkie wag Sondagmiddag wanneer hulle die Jaguars moet pak.

Die Noord-Gautengers is die verdedigende kampioen. Hulle het nou tien punte ná vyf oorwinnings, nadat hulle Saterdag hul Gautengse derby teen die Fireballs oortuigend met 57-32 gewen het.

In Afdeling B het die Aloes van die Oos-Kaap hul onoorwonne status behou, maar nie voordat hulle kwaai deur die Baobabs van Limpopo uitgedaag is nie. Die telling was 51-48.

Die Baobabs het Vrydagmiddag ook naelskraap met 56-58 teen die Kingdom Stars verloor.

Die Stars van KwaZulu-Natal het Saterdag ’n opwindende wedstryd teen die Sunbirds van Mpumalanga met 45-43 gewen.

Die Aloes speel Sondagoggend teen die Diamonds van die Noord-Kaap wat nog nie kon blink nie. Hulle is nog segeloos.

* Sondag se program (in die Rembrandt-sentrum by die Universiteit van Pretoria): 09:30: Aloes t. Diamonds (SS 4); 11:30: Crinums t. Fireballs (SS 4); 13:30: Stings t. Jaguars; 15:30: Smileys t. Flames.

Meer oor:  Netbal  |  Vrouesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.