Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Stoltz wil weer doele by Fast5 inryg

Drie Proteas kry Saterdag waardevolle slypkans vir netbal se Fast5-wêreldtoernooi wat eersdaags in Australië beslis word.

Vyf Suid-Afrikaners is as oorsese netbalspelers genooi om hul slag te wys by die Britse Fast5-toernooi, wat Saterdag in Londen beslis word.

Drie van hulle sal Suid-Afrika op 27 en 28 Oktober in Melbourne verteenwoordig. Hulle is Renske Stoltz, Sigi Burger en Shadine van der Merwe.

Die Protea-doelskieter Renske Stoltz hoop om Saterdag doele van ver en naby vir haar Engelse klubspan in te rol.Foto: Getty Images

Die drietal kom sommer uit die staanspoor teen mekaar te staan wanneer hul spanne mekaar Saterdag in die eerste wedstryd die stryd aansê. Stoltz is weer in aksie vir Loughborough Lightning terwyl Burger en Van der Merwe vir Surrey Storm sal uitdraf.

Maryka Holtzhausen en Phumza Maweni speel vir Severn Stars.

Agt van Engeland se Superliga-klubspanne neem deel aan dié opwindende, korter formaat van die spel.

In Fast5 is daar net vyf spelers op die baan – doel en hulpdoel, verdediger en hulpdoelverdediger en ’n senter.

In die Londense toernooi kan ’n doel of hulpdoel vyf punte vir haar span verdien as sy van buite die doelsirkel suksesvol is. Op die buitenste rand van die doelsirkel is ’n doel twee punte werd en dan is daar die gewone doel wat een punt tel.

Holtzhausen en Stoltz is bekend daarvoor dat hulle dié langes kan sink.

Stoltz het verlede jaar ’n skitterende toernooi gehad en is as die Speler van die Toernooi aangewys. Sy het Vrydag gesê sy sien baie uit na die toernooi, want sy is gaande oor Fast5.

“Dit is lekker, opwindend en onvoorspelbaar. Dit herinner my weer daaraan hoekom ek netbal speel.

“Ek is dankbaar dat ek weer vir Loughborough Lightning kan speel,” sê die Gautenger.

Sy sê verlede jaar was ’n hoogtepunt in haar netballoopbaan.

“Dit sal lekker wees om weer te kan wen of om onder die voorste vier spanne te kan eindig. Dit is ook goeie voorbereiding vir die Wêreldtoernooi. Die wedstryde sal wys waar ek nog kan verbeter.

“Ek voel tans goed oor my spelpeil. Ons het Donderdagaand oefenwedstryde gespeel en dit het goed gegaan,” sê Stoltz.

Die 24-jarige doelskieter sê sy geniet weer haar netbal. “Ek het vir ’n tyd vergeet waaroor dit gaan en te veel op buitefaktore gefokus. Ek fokus nou op dit wat op die baan gebeur en wat ek kan beheer,” sê Stoltz.

Meer oor:  Netbal  |  Londen  |  Fast5
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.