Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Proteas: Stryd verloor, harte gewen

Dit is voorwaar jammer dat dit nog nie moontlik is om die kennis en ervaring van een persoon op ’n stokkie te laai en na die geheue van ’n ander oor te dra nie.

Want as dit was, sou Suid-Afrikaanse netbal vanoggend aansienlik minder hartseer gewees het daaroor dat hulle vanaand vir goed moet afskeid neem van die afrigter Norma Plummer.

Erin Burger
Alles of niks?.?.?.?DIe Protea-veteraan Erin Burger (regs) doen gister haar allerbes om die bal uit die hande van die Aussie Sarah Klau te hou. Foto: Reuters

Ná vier jaar en 49 toetse onder die afrigting van Plummer het die Suid-Afrikaanse netbalspan gister so byna die grootste opskudding in die geskiedenis van Wêreldbeker-netbal gelewer, toe hulle met net twee doele (55-53) teen die wêreldkampioen, Australië, verloor het.

Dit is so dat die Australiese afrigter ’n verswakte span op die baan gestoot het, al het sy dit gister driftig ontken. Enige Aussie-span sonder sy kaptein, Caitlin Bassett, Steph Wood en Kelsey Browne het nie dieselfde byt nie.

Maar dit moet nietemin nie die glans wegneem van ’n werklik uitmuntende Protea-vertoning nie. Veral die doelverdediger, Karla Pretorius, die kaptein, Bongi Msomi, en die plaasvervanger-vleuel, Khanyisa Chawane, het deurgaans hul lywe op die spel geplaas, en soos elke ander Suid-Afrikaner wat op die baan was, geweier om hulle aan hul buiteperd-status te steur.

Daar was ’n stadium dat die telbord inderdaad ook aangedui het dat hulle “die swakker span” op die baan was. Die Proteas het halftyd ingegaan met ’n agterstand van 23-31 ná ’n tweede kwart waarin hulle sewe keer op skouspelagtige wyse die bal gesteel het, net om deur dwase foute weer besit af te staan.

Dit het ook nie gehelp dat die hulpdoel, Maryka Holtzhausen, in die eerste twee kwarte huiwerig was om doelpaal toe te mik nie. Dit het haar doelmaat, Le­nize Potgieter, onder enorme druk geplaas.

Ek handig die vaandel aan die spelers om self vorentoe te dra.

Dit was egter einste Holtzhausen se kopskuif met rustyd wat die katalisator vir die Suid-Afrikaners se terugvegpoging was. In die tweede helfte was sy aansienlik gretiger om ’n bydrae in die doelsirkel te lewer. Die wete dat hulle nou op albei doelskieters kon staatmaak, het die hele span nuwe energie op die aanval gegee.

In daardie tweede helfte het die Proteas soos ware wêreldbrekers gelyk en uiteindelik ses doele meer as die Aussies aangeteken. ’n Iedere een van hulle was kookwater en het gewys dat dié span nou vol sterre is wat nie net met die planeet se bestes kan saampraat nie, maar hulle met tye ook kan oorskadu.

Dis jammer dat “met tye” nie “altyd” is nie – want dit was gister die verskil tussen wen en verloor. Vaardig, dapper en kreatief soos die Proteas deesdae is, is hulle nog nie almal bestand teen senuwees nie. Hul ondergang gister was die sekondes – ja, blote sekondes – waarin paniek, bottervingers of swak besluite hul momentum gebreek het.

Maar ondanks die nederlaag kan SA netbal baie positiewes uit dié wedstryd en die toernooi as geheel neem.

Niemand kan betwis dat die Proteas hul plek in die halfeindronde verdien het nie. Dat Suid-Afrika genoeg talent het om een van wêreldnetbal se grotes te word, is nou onteenseglik bewys, en ’n mens mag droom van ’n baie blink toekoms.

Die groot vraag is of die Proteas wel sonder die besielende Plummer op dié opwaartse kurwe kan bly. Wanneer Suid-Afrika vanmiddag in die bronsmedalje-wedstryd teen Engeland te staan kom, sal dit haar 50ste en laaste aan die stuur van sake wees. Op 74 het dié Aussie-legende uiteindelik besluit om af te tree.

“Ek handig ná vandag die vaandel oor aan die spelers om dit self vorentoe te dra,” het ’n duidelik teleurgestelde Plummer ná die wedstryd gesê.

“Ek is regtig trots daarop dat ons die wêreld se nr. 1-span so hard kon laat werk.

“Toe die spelers eers hul voete gevind het, was hulle uitstekend. Onder druk het ons die bal ’n paar keer nie na die regte plekke gegooi nie, en daar was heelwat foute, maar dis maar netbal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.