Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Stryd vir regte ‘belangriker as titels’

Lewis Hamilton sê hy’s trotser op die veldtog wat hy vir gelyke regte en diversiteit voer as die groot Formule Een-mylpaal wat Sondag in die Turkse Grand Prix vir hom wink.

Die 35-jarige Mercedes-jaer sal Michael Schumacher se rekord van sewe wêreldtitels ewenaar as sy spanmaat, Valtteri Bottas, daarin misluk om minstens agt kampioenskapspunte meer as hy in te samel in dié wedren.

Lewis Hamilton kan Sondag in Turkye Michael Schumacher se rekord vir die meeste Formule Een-wêreldtitels ewenaar. Foto: AP

“Om ’n wêreldkampioenskap te wen, is ’n baie persoonlike ding en dit beïnvloed nie noodwendig ander mense se lewens nie,” het Hamilton aan verslaggewers by die Istanbul Park-renbaan gesê.

“Iets waarop ek baie trotser is, is hoe ek poog om mense se lewensomstandighede wêreldwyd te verbeter. Dís vir my die heel belangrikste ding.”

Hamilton sê nietemin hy sal “ongelooflik trots” wees om gelyk te trek met “ ’n ikoon soos Michael” en dit sou nooit by hom opgekom het dat hy ook sewe wêreldtitels so kon wen nie.

Dié Brit, wat onlangs Schumacher se rekord vir die meeste Grand Prix-seges oortref het en nou met 93 spog, sê vir hom was dit vanjaar belangrik om meer te leer en bewus te wees van wat om hom aangaan in die wêreld. Hy beskou dit as ’n belangrike persoonlike groeiproses.

Hamilton sê hy hoop hy kan veral by kinders die boodskap tuisbring dat jy “groter moet droom as wat jy dink jy kan en dat jy niemand toelaat om vir jou te sê dis nie moontlik nie”.

Ek dink wat dít vir ’n mens sê, dat jy bereid moet wees om kanse te waag, doen wat jy dink is reg vir jou en nie andere moet toelaat om jou voor te skryf nie.

Toe Schumacher sy sewende wêreldtitel in 2004 beklink het, het baie kenners gemeen die Duitser se rekord sal nooit geëwenaar word nie.

Hamilton erken sy mikpunt was nooit om dít te vermag nie en dat hy eerder gehoop het om ook drie wêreldtitels te wen, soos wat sy held as kind, wyle Ayrton Senna, destyds gedoen het.

Destyds, toe Hamilton McLaren verlaat het en hom by Mercedes aangesluit het as die einste Schumacher se plaasvervanger, was daar baie mense wat dit as ’n swak loopbaanskuif bestempel het. Hamilton het hulle sedertdien egter keer op keer verkeerd bewys.

“Ek het geweet dit was die regte skuif, maar het ek geweet ons sou ses wêreldtitels wen? Nee,” het Hamilton gesê.

“Ek dink wat dít vir ’n mens sê, dat jy bereid moet wees om kanse te waag, doen wat jy dink is reg vir jou en nie andere moet toelaat om jou voor te skryf nie.”

Wat die Turkse Grand Prix betref, sê Hamilton hy gaan dit nie anders as vorige wedrenne benader nie.

“Dis vir my net nog ’n wedren. Waarom verander aan ’n resep wat tot nou toe vir my gewerk het,” het hy gesê.

TV: Sondag se Grand Prix is om 12:05 regstreeks op SS Grandstand (201) en SS Motorsport (215).

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Formule Een
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.