Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Sukkelende Froome tree wel aan vir Tour

Ondanks sy gebrekkige peil die afgelope paar maande, sal die Britse fietsryer Chris Froome wel vanjaar sy staal in die Tour de France toon.

Israel Start-Up Nation (ISN), die span vir wie Froome (36), ’n viermalige wenner van dié prestigeryke fietsren, ry, het Dinsdag aangekondig dat die Keniaan van geboorte vir vanjaar se Tour sal aantree.

Chris Froome se gebrekkige peil sedert sy terugkeer ná ’n ongeluk het baie mense laat wonder of hy wel vanjaar vir die Tour de France sal aantree. Foto: Getty Images

Die Tour begin op 26 Junie in die Franse kusdorp Brest en dit sal die eerste keer sedert 2018 wees dat Froome weer deelneem.

Sedert die Brit se terugkeer ná ’n ongeluk in 2019 in Frankryk – waar hy ernstige beserings opgedoen het en sy loopbaan in die weegskaal was – het hy gesukkel om sy beste peil te herwin.

Toe hy in 2020 weg is by Ineos Grenadiers om by ISN aan te sluit, het hy dit duidelik gestel dat hy ’n vyfde Tour-sege in sy visier het.

Maar soos die seisoen gevorder het, het dit al hoe duideliker geword dat hy beslis nie ’n aanspraakmaker op die geeltrui in die Tour gaan wees nie.

Hy kon onlangs slegs 47ste in die Critérium du Dauphiné eindig en het voor dit 96ste in die Tour de Romandie klaargemaak.

Chris Froome toe hy die Tour de France in 2017 gewen het. Foto: Getty Images

Froome het kort gelede erken dat ’n sege hom nie vanjaar in die Tour beskore gaan wees nie. Dít het al hoe meer vrae laat ontstaan of hy hoegenaamd in ISN se span ingesluit gaan word.

Maar Rik Verbrugghe, spanbestuurder van ISN, sê in ’n verklaring jy vind nie iemand van Froome se stoffasie agter elke bos nie.

“Chris gaan vanjaar ons padkaptein in die Tour de France wees. As ’n viermalige wenner (van die Tour) kan sy waarde nie onderskat word nie,” sê Verbrugghe.

Froome, wat ook drie ander Grand Tours-seges – die Giro d’Italia (2018) en die Vuelta a España (2011 en 2017) – op sy kerfstok het, lek behoorlik sy lippe af vir die Tour.

“Dit was ’n moeisame reis sedert my ongeluk in die Critérium du Dauphiné in 2019, maar die Tour was een van die dinge wat my die meeste gemotiveer het,” sê Froome.

ISN het vroeër aangekondig dat die Kanadees Michael Woods die span se aanslag om die algehele titel sal lei en ook om skofseges sal meeding.

Meer oor:  Tour De France  |  Chris Froome  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.