Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Swaargewigte lek lippe af vir Parker

Joseph Parker het homself geen guns bewys met sy flou vertoning die afgelope naweek teen Hughie Fury in Engeland nie.

Joseph Parker (links) jaag Hughie Fury in die kryt rond in hul geveg die afgelope naweek in Manchester, Engeland. Foto: Getty Images

Parker het sy swaargewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) suksesvol verdedig deur Fury in Manchester met punte te verslaan.

Dit was egter nie ’n watwonderse vertoning nie en Fury se promotor, Mick Hennessy, sê boonop hy gaan by die WBO oor die uitslag kla.

Twee beoordelaars het die geveg met 118-100 aan Parker toegeken met nog een wat gedink het die geveg was gelykop met 114-114.

Die telkaarte is ietwat van ’n kopkrapper, maar Hennessy het sy geloofwaardigheid met van sy uitsprake laat wankel.

Volgens hom het Fury hom aan ’n jong Muhammad Ali laat dink. Jô!

Kevin Barry, Parker se afrigter, het Fury se vertoning beter opgesom.

“Daar was net een ou wat baklei het en een ou wat probeer oorleef het en jy kan nie die swaargewigtitel wen as jy vir 12 rondes op die agtervoet is en net met ’n paar houe tref nie,” het hy aan Boxing Scene gesê.

Hierdie outjie is een van baie Britse swaargewigboksers wat skielik dink hulle kan die swaargewigkampioen van die wêreld word. Dillian Whyte dink Joseph Parker is “gemors”. Foto: Getty Images

Daar is vooraf verwag Parker sou Fury uit die kryt uit slaan.

Die Nieu-Seelander se gesukkel het nou ’n moontlike kragmeting met Anthony Joshua, die Wêreldboksvereniging, Internasionale Boksfederasie en Internasionale Boksorganisasie se kampioen, in die niet laat verdwyn.

Parker se markwaarde in Brittanje is daarmee heen. Elke tweede Britse swaargewig sien nou vir hom kans. Dillian Whyte het byvoorbeeld getwiet “Parker is gemors”.

Nog twee Britse swaargewigte wat dink hulle is vreeslik goed, Tony Bellew en David Haye, het besluit hulle boks eerder teen mekaar as teen Parker.

Joshua verdedig sy titels op 28 Oktober teen Kubrat Pulev van Bulgarye in Cardiff, Wallis.

Hy behoort baie maklik te wen. Dalk voel hy dan lus om Parker se WBO-titel af te vat, maar die kans is eerder daar dat hy vir ’n geveg sal wag wat die bokswêreld se verbeelding sal aangryp.

So ’n geveg vind juis op 4 November in Brooklyn, Amerika, plaas wanneer Deontay Wilder sy Wêreldboksraad-titel teen Luis (King Kong) Ortiz van Kuba verdedig.

Wie ook al van die twee uitklopkonings wen, sal die ideale teenstander vir Joshua wees.

Meer oor:  Boks  |  Hughie Fury  |  Joseph Parker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.