
Wanheng Menayothin het nog nooit ’n geveg in die geldkryt verloor nie. Foto: Getty Images
Gaan Swart Vrydag eindelik die dag wees wanneer die wêreldrekordhouer Wanheng Menayothin van Thailand ’n boksgeveg in die geldkryt verloor?
As jy, soos die 35-jarige Menayothin, daarmee kan spog dat jy 54 gevegte as geldbokser gewen het en nog nie een verloor het nie, is dit te verstane dat mense elke keer wonder of jy uiteindelik in jou volgende geveg gaan struikel.
Menayothin, wie se regte naam Chayaphon Moonsri is, verdedig sy strooigewigtitel van die Wêreldboksraad Vrydag in Nakhon Sawan teen sy landgenoot Petchmanee CP Freshmart, wie se regte naam Panya Pradabsri is.
Freshmart het nog net een van sy 35 gevegte verloor en slaan hard genoeg om Menayothin se kakebeen weer behoorlik te toets.
Menayothin was in Oktober verlede jaar laas in aksie toe hy Simpiwe Konkco met punte verslaan het.
Die kampioen was ’n klompie maande gelede kwaai neerslagtig oor die Covid-19-pandemie en het sy uittrede aangekondig.
’n Dag later het sy promotors, Golden Boy Promotions van Oscar de la Hoya, hom oortuig om egter aan te hou baklei.
• In nog ’n geveg Vrydag pak die voormalige middelgewigkampioen van die Internasionale Boksfederasie en Wêreldboksvereniging, Daniel Jacobs van Amerika, sy landgenoot Gabriel Rosado in Hollywood.
“Hy (Rosado) is ’n taai ou, wat gewoonlik ’n goeie vertoning lewer en nie net gaan lê nie. En as hy val, staan hy op,” het Jacobs aan Fight News gesê.
“Daar is niks wat hy (Jacobs) kryt toe bring wat ek nog nie gesien het nie,” was Rosado se reaksie.

Daniel Jacobs, hier besig om Canelo Alvarez te laat steier, boks Vrydag in Hollywood teen Gabriel Rosado. Foto: Getty Images