Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Tatjana in die wolke oor haar silwer

Uiteindelik, ná 46 jaar, het ’n Suid-Afrikaanse vrou die podium van swem se wêreldbyeenkoms Vrydag die eerste keer betree. En ’n mens kry die gevoel Tatjana Schoenmaker gaan nog baie daar staan.

’n Emosionele Tatjana Schoenmaker Vrydag op die podium by die wêreldbyeenkoms, waar sy silwer in die 200-borsslag gewen het.Foto: Getty Images

Schoenmaker het in Gwangju, Suid-Korea gróót geskiedenis gemaak deur die silwermedalje in die 200m-borsslag te verower.

Dis nie iets wat die Olimpiese medaljewenners Penny Heyns of Mariaan Kriel in hul loopbane kon vermag nie.

Schoenmaker het met ’n tyd van 2 minute en 22.52 sekondes agter die verdedigende wêreldkampioen, Rusland se Yuliya Efimova, geëindig.

Efimova (2:20.17) het reeds in die eerste helfte van die ren weggetrek van die res, wat tot ’n katgeveg om die ander twee medaljes gelei het. Daarin het Schoenmaker koning gekraai deur die Kanadees Sydney Pickrem in die pylvak in te haal.

Pickrem was eindelik derde in 2:22.90.

Vir Schoenmaker, wat Donderdag in die halfeindronde ’n nuwe Afrika-rekord van 2:21.79 opgestel het, is haar silwermedalje bevestiging dat sy inderdaad nou onder die room van wêreldswem tel. Sy het in die einste item verlede jaar Statebond-goud gewen, en vroeër vandeesmaand ook Universiteite-wêreldgoud.

“Ek kon voel ek was moeër en minder ontspanne as (Donderdag), en ek het nie die keer my beste tyd geswem nie, maar gelukkig het ek steeds silwer gekry,” het Schoenmaker gesê.

“Ek is vreeslik in my noppies, maar ek was reeds ná die halfeindronde baie gelukkig met hoe my byeenkoms verloop het. Dit sou nie verander het as ek nie ’n medalje gekry het nie.”

Ek wil graag groot sukses in die 100 ook behaal, maar omdat dit korter is kan een swak lengte jou kos.
Tatjana Schoenmaker

Schoenmaker was die eerste keer in haar loopbaan by ’n wêreldbyeenkoms, en het die eindronde van albei haar items – die 200- én 100-borsslag – gehaal.

In die 100-borsslag was sy sesde, maar haar persoonlike beste oor dié afstand sou goed genoeg gewees het vir brons. Sy het Vrydag erken die senuwees het in daardie item aan haar geknaag.

“Ek wil graag groot sukses in die 100 ook behaal, maar omdat dit korter is kan een swak lengte jou kos. Oor 200 meter kan jy jou eie ren beter beheer,” glo sy.

Schoenmaker se mede-Tukkie Kaylene Corbett het saam met haar in die eindronde geswem en hoewel sy agtste geëindig het in 2:26.62 was sy in die wolke oor haar vriendin se sukses.

“Om daar te wees met Tatjana wat ’n silwermedalje wen . . . dis mal! Ek is só opgewonde vir haar,” het die 20-jarige Corbett geborrel.

* Suid-Afrika se laaste kans op ’n medalje in Gwangju is Saterdag in die hande van Chad le Clos, wat in die 100-vlinderslag se eindronde in aksie sal wees.

Le Clos het Vrydag die vierde beste tyd in die halfeindronde opgestel – maar sy vertoning het bitter min aandag getrek. Die Amerikaner Caeleb Dressel het die item heeltemal oorheers met ’n wêreldrekord-vertoning in die tweede halfeind.

Dressel, wat by hierdie wêreldbyeenkoms reeds drie goue medaljes verower het, het die ou wêreldkerf met meer as drie tiendes van ’n sekonde oortref met ’n tyd van 49.50.

Die vorige rekord van 49.82 het net minder as tien jaar gestaan. Dit is in Augustus 2009 opgestel deur Michael Phelps, midde-in die superpak-era.

Dis die tweede keer in drie dae dat een van Phelps se superpak-rekords val. Die 19-jarige Kristof Milak van Hongarye het Woensdag Phelps se ou rekord in die 200-vlinderslag met ’n yslike 0.73 sekondes oortref.

Vir Le Clos, wat eens kon kraai dat hy die laaste man was wat Phelps kon verslaan, moet dit ’n bitter pil wees dat twee jonger mans nou gedoen het wat hy nooit kon nie, deur Phelps se naam in die 50m-swembad uit die rekordboeke te vee.

Le Clos het ’n tyd van 51.40 opgestel. Hy is in sy halfeind, die eerste van die twee, geklop deur Milak (50.95).

Le Clos het sy gedagtes oor sy ren gedeel voor Dressel se rekord-ren, en gesê sy eie tyd was vir hom verstommend stadig.

“Dit was baie stadig, ek weet nie wat gebeur het nie,” het hy gesê. “Vanoggend (in die uitdunne) het dit nie so moeilik gevoel (soos in die halfeindronde) nie, so ek weet nie wat die storie is nie. Maar ek is opgewonde oor die eindronde, ons sal sien wat gebeur.”

Meer oor:  Tatjana Schoenmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.