As die Olimpiese Spele wel later vanjaar plaasvind, sal die swemmer Tatjana Schoenmaker se naam een van die eerstes wees wat op die lys van Suid-Afrikaanse medalje-gunstelinge neergeskryf gaan word.

Tatjana Schoenmaker se spoedwerk het vrugte afgewerp toe sy op ’n onlangse swemkamp in Stellenbosch ’n Afrika-rekord oortref het. Foto: Reg Caldecott
Nadat die Tuks-blits verlede maand nóg ’n rekord by haar reeds lywige versameling gevoeg het, kan dié moontlikheid nie meer ontken word nie.
Schoenmaker het op Swem Suid-Afrika se “evalueringskamp” in Stellenbosch ’n nuwe Afrika-rekord van 1 minuut, 05.89 sekondes in die 100 m-borsslag opgestel, en sodoende bewys dat daar op die Olimpiese Spele met haar rekening gehou sal moet word.
Die 23-jarige Pretorianer het byna ’n halfsekonde van haar vorige beste (1:06.32) gesnoei en lag-lag die Olimpiese vereiste van 1:07.07 behaal.
In die afgelope vyf jaar kon net vyf vroue vinniger as Schoenmaker se nuwe Afrika-rekord swem. Dis ’n tyd wat goed genoeg sou wees vir brons op die Wêreldbyeenkoms van 2019 in Suid-Korea en die vierde plek op die vorige Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro.
Schoenmaker het twee jaar gelede in Suid-Korea sesde in die 100-borsslag geëindig en silwer in die 200-borsslag verower. In laasgenoemde nommer het sy die Afrika-rekord verlede jaar twee keer oortref en haar persoonlike beste van 2:21.79 sou in 2016 goed genoeg vir Olimpiese silwer gewees het.
Rocco Meiring, Schoenmaker se afrigter, het in ’n TuksSport-verklaring gesê hul primêre fokus vir Tokio is die 200-borsslag.
“Ons het die laaste paar weke op spoed gefokus en dis waarom sy so ’n vinnige tyd in die 100 m opgestel het,” het hy gesê. “In die opbou tot aanstaande maand se Olimpiese proewe in die Baai sal ons daarop konsentreer om haar eindspoed oor 200 m te verbeter.
“Die probleem is dat dit op lang termyn teenproduktief kan wees om intensief vir die 100 én 200 te oefen. Maar Tatjana moet vinniger as 1:06 wees oor 100 meter (om ’n faktor in die 200-borsslag te wees). Alles gaan nou oor marginale verbetering.”
Meiring het gesê hy en Schoenmaker se doel is gereelde tye van onder 2:21, wat haar stewig in die wedloop vir Olimpiese glorie sal plaas.