Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Tatjana mors 2 keer op 1 dag met rekord

Die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap het Woensdag op sy eerste dag reeds vir opwinding gesorg en Tatjana Schoenmaker was ongetwyfeld die groot uitblinker in die Newton Park-swembad in Gqeberha.

Tatjana Schoenmaker het Woensdag in die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap in Gqeberha haar eie Afrika-rekord in die 50 m-borsslag oortref. Foto: Anton Geyser/Gallo Images

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van dié byeenkoms dat al die swemmers vir die duur van die kampioenskap onder dieselfde dak bly en dat ’n bioborrel geskep is om die swemmers teen moontlike Covid-19-infeksies te beskerm.

Schoenmaker was duidelik uitgehonger om weer in die swembad te klim.

Dié eerste Suid-Afrikaanse vrou wat ’n medalje in die Wêreldkampioenskap verower het, het reeds in die uitdunne van die 50 m-borsslag haar eie Afrika-rekord oortref.

Schoenmaker het die vorige rekord in 2018 op die Statebondspele aan Australië se Goudkus in 30.82 sekondes opgestel, maar in die uitdunne onder haar teenstanders uitgeswem en die voorste tyd van 30.42 sek. aangeteken.

In die eindronde het sy selfs nóg beter gevaar en uiteindelik in 30.32 sek. ’n halwe sekonde van haar ou rekord geknip.

Chad le Clos het sy eerste goue medalje van die byeenkoms in die 50 m-vlinderslag verower. Foto: Anton Geyser/ Gallo Images

“Hopelik kan ek dié momentum behou. Ek dink dis ongelooflik om sulke spoed ten toon te stel, so hopelik kan ek nog heelwat vinniger in die 200 en die 100 swem,” het sy ná afloop van haar goue vertoning gesê.

“Hierdie was net om selfvertroue op te bou.”

Lara van Niekerk het in 31.03 silwer verower, met Caitlin de Lange wat in 31.87 brons verwerf het.

Chad le Clos se nasionale aanslag het self op die perfekte noot begin toe hy goud in die mans se 50 m-vlinderslag gewen het.

Hy was die enigste swemmer wat in dié ronde onder 24 sekondes kon vermag nadat hy die muur in 23.72 geraak het, maar die tieners wat saam met hom in aksie was, hoef beslis nie sleg te voel oor hul vertonings nie.

Die 17-jarige Matthew Sates was naasbeste in 24.06 en die belowende 16-jarige Pieter Coetzé het in 24.14 brons verdien.

Le Clos was reeds in die uitdunne die vinnigste in 24.14, met Coetzé, wat in dieselfde uitdun as Le Clos was, wat ook toe alreeds geen teken van knaende senuwees gewys het in 24.29 nie, terwyl Sates met een plek in die eindronde verbeter het nadat hy in 24.35 die derde vinnigste in sy uitdun was.

“Ek’s baie gelukkig met die vertoning vanaand. Die twee jongelinge het my al die pad gedruk. Geluk ook aan hulle,” het Le Clos ná sy oorwinning gesê.

Coetzé het wel glorie geproe in die 50 m-rugslag, waar hy op ’n manjifieke wyse sy teenstanders ore in 25.02 aangesit het. Hier kon Ian Venter in 26.58 die naaste aan hom kom.

Erin Gallagher is in 26.50 as die kampioen in die 50 m-vlinderslag bekroon en het haar eie nasionale rekord van 26.24, wat in 2019 opgestel is, gemis. Inge Weidemann het in 26.87 silwer gewen. terwyl Tayla Lovemore in 27.01 derde was.

Die twee Nel-sussies, Olivia en Georgia, was onderskeidelik baas in die A- en B-eindrondes van die 50 m-borsslag.

Olivia het haar wedloop in 29.13 gewen, met Georgia bo in haar wedloop in 30.28 geëindig het.

Die enigste Olimpiese nommer vir die vroue op die eerste dag was die 800 m-vryslag, waarin Leigh McMorran gemaklik in 8:54.65 gewen het.

Ongelukkig was dit nie goed genoeg om die A-standaard van die Tokio-Spele, wat ’n tyd van 8:33.36 vereis, te haal nie.

Die mans se enigste Olimpiese nommer was die 1 500 m-vryslag wat Roberto Gomes in 15:49.01 gewen het. Ook in hierdie nommer vereis die internasionale beheerliggaam vir swem en watersport (Fina) ’n tyd van 15:00.99.

Meer oor:  Swem  |  Nasionale Byeenkoms  |  Tatjana Schoenmaker  |  Gqeberha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.