Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Te min, te laat vir Nasser én Giniel

Terwyl Toyota se SA geboude bakkies die sneltrajekoorwinnings in die doodsnikke van die Dakar-veldtydren inryg, was dit Donderdag in die voorlaaste en langste sneltrajek van die wedren in Saoedi-Arabië te min en te laat.

Stéphane Peterhansel (Mini) jaag Donderdag onder die wakende oog van ’n helikopter. Hy het tweede geëindig, maar is steeds die voorloper. Die veldtydren eindig Vrydag in Jeddah. Foto: Reuters

Nasser Al-Attiyah (Toyota Gazoo Racing-Hilux) het sy sesde en Toyota se negende sneltrajekoorwinning behaal.

Mini het die ander drie gewen.

Al-Attiyah se wentyd oor die 598 km was 4 uur 34 minute 24 sekondes.

Stéphane Peterhansel, wat los voor was totdat hy ’n pap band moes ruil, het amper twee minute agter Al-Attiya geëindig. Die stilhouery het die Fransman van ’n besliste tweede sneltrajekoorwinning beroof aangesien hy van vroeg in dié langste sneltrajek voor gejaag het. Hy is egter algeheel steeds los voor nadat hy vanaf die tweede sneltrajek die voortou geneem het. Sy naaste teenstander vanaf die derde sneltrajek is steeds Al-Attiyah.

Carlos Sainz (Mini) het die eerste sneltrajek gewen.

Peterhansel en Al-Attiyah het sedertdien hul voorsprong gerek en was aan die einde van Donderdag se sneltrajek meer as ’n uur voor die res van die renveld met Sainz die vinnigste van die res.

Die beste van die Suid-Afrikaanse jaers is Giniel de Villiers en sy Spaanse navigator, Alex Haro, wat Donderdag Donderdag ten spyte van twee pap bande sewende oor die wenstreep gejaag het en steeds algeheel agtste is. Hul spanmaats Shameer Variawa en Dennis Murphy, in die derde van die vier Gazoo-Hilux’e, het drie pap bande gehad en tot 21ste algeheel opgeskuif nadat hulle die sneltrajek in die 18de vinnigste tyd kafgedraf het.

Die Suid-Afrikaner Brian Baragwanath en sy navigator, Taye Perry, wat met hul Century CR6 in die 22ste plek oor die eindpunt gejaag het, is nou 24ste algeheel.

Vrydag se laaste sneltrajek van Yanbu na Djedda is net 225 km lank, wat beteken tensy iets vreeslik erg met Peterhansel of sy motor gebeur, Al-Attiyah hom gewis nie sal kan inhaal nie.

Die Brit Sam Sunderland Donderdag op pad na ’n eerste oorwinning vir KTM. Foto: dakar.com

• Intussen het die afdeling vir motorfietse ’n sensasionele voorlaaste dag opgelewer.

Die dag het begin met die Argentynse Honda-jaer Kevin Benavides die algehele voorloper met meer as ’n minuut in die sakkie. Sy Kaliforniese spanmaat Ricky Brabec het eerste weggespring met die Spaanse jaer Joan Barreda tien minute agter hom op die derde Honda.

KTM se hoop was op die Britse jaer Sam Sunderland wat 15 minute agter die voorste jaer was, maar in ’n beter posisie op die roete was aangesien hy in die agtste plek weggespring het.

Brabec en Benavides is deur Daniel Sanders (KTM) en Pablo Quintanilla (Husqvarna) op hul tone gehou. Barreda het ’n skitterende wedren gehad totdat hy verdwaal en sonder petrol gaan staan het. Dit het hom sy ren gekos en hy het alleen agtergebly.

Sunderland het in 4:35:12 sy eerste sneltrajekoorwinning vir vanjaar se ren vir KTM aangeteken, met Quintanilla tweede en Benavides derde.

Benavides is egter steeds die algehele voorloper en is nou vier minute en 12 sekondes voor Sunderland, met Brabec, wat Donderdag sesde was, nou derde algeheel.

Dié topdrie jaers is ver voor die res van die renveld met Sanders 33 minute en vyf sekondes later in die algehele vierde plek.

• Giovanni Enrico was die wenner in die afdeling vir vierwielmotorfietse met Manuel Andujar tweede en Pablo Copetti derde. Andujar is egter steeds algeheel los voor – 25 minute en 52 sekondes voor Enrico, en Copetti derde algeheel.

• Seth Quintero het die afdeling vir ligte motors gewen, met die algehele voorloper, Francisco Contardo, tweede. Quintero is steeds tweede algeheel.

• Vrydag 11:55 (SS 215).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.