Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Tequila, Chávez bly koning in Mexiko!
Julio César Chávez vat ’n blaaskans gedurende een van sy baie gevegte. Foto: Getty Images

Een tequila, twee tequilas, drie tequilas, vloer!

Daardie ou liedjie van Treiber & Robinson (One Tequila, Two Tequila, Three Tequila, Floor) bly maar ’n gewilde een wanneer daar oor tequila gesels word.

Vir boksliefhebbers klink dit ook amper soos een van die legendariese Mexikaanse bokser Julio César Chávez se gevegte: een hou, twee houe, drie houe, vloer!

En die vergelyking tussen tequila en Chávez is nogal gepas. Tequila is die gewildste drankie in Mexiko en Chávez is die gewildste bokser wat Mexiko tot nog toe opgelewer het.

Canelo Álvarez, wat hierdie naweek teen Avni Yildirim boks, is deesdae die gewildste bokser in Mexiko.

Maar dit kan dalk ’n tydjie duur voordat sy gesig, soos Chavez s’n, op ’n tequilabottel pryk.

Julio César Chávez-tequila is nou al jare lank een van die grootste verkopers in Mexiko. Dis ook nie sommer ’n tweederangse tequila nie. Dis tequila wat vyf jaar lank in eikehoutvaatjies verouder word voordat dit gebottel word.

Nie sleg vir ’n outjie wat eens op ’n tyd saam met sy pa, ma, vyf susters en vier broers in ’n ou treinwa gewoon het nie.

Julio César Chávez en Meldrick Taylor het mekaar twee keer gepak. Die eerste keer het Chávez met ’n uitklophou in die 12de ronde gewen en die tweede keer was hy met ’n tegniese uitklophou in die agtste ronde baas. Hierdie is ’n toneel uit die tweede geveg in 1990. Foto: Getty Images
Frankie Randall (links) het in 1994 ’n verrassende oorwinning oor Julio César Chávez behaal. Foto: Getty Images

Toe hy 17 jaar oud was, het Chávez vir geld begin boks. Dit het aanvanklik goed gegaan totdat hy in 1981 vir Miguel Ruiz in sy 12de geveg uitgeslaan het.

Die probleem was dat hy Ruiz getref het op die presiese oomblik toe die klok vir die einde van die eerste ronde gelui het.

Chávez is summier gediskwalifiseer, maar die volgende dag het Ramon Felix, sy bestuurder, die Mexikaanse boksowershede oortuig om die uitslag na ’n uitklop-oorwinning vir Chávez te verander.

Jare lank het dit gelyk asof Chávez onoorwinlik was. Hy het topvegters soos Héctor Camacho, Rocky Lockridge, Edwin Rosario en Greg Haugen gemiddeld laat lyk.

Frankie Randall en Julio César Chávez het vriende gebly ná hulle dae as beroepsboksers verby was. Randall is in Desember verlede jaar aan demensie dood. Foto: AP

Meldrick Taylor het in Maart 1990 beter gevaar. Hy was voor op punte, maar toe slaan Chávez hom twee sekondes voor die einde van die geveg uit.

Chávez was ongelooflik gewild in Mexiko. Ná sy geveg teen Camacho in 1992 het die destydse Mexikaanse president Carlos Salinas de Gortari hom in ’n luukse motor by die lughawe laat oplaai sodat hy eers by hom in die presidentswoning kon kuier.

“Ek was nie ’n boksondersteuner nie, ek was ’n Julio César Chávez-ondersteuner. Mexiko het tot stilstand gekom om na sy gevegte te kyk,” het die Mexikaanse akteur en regisseur Diego Luna op ’n keer gesê.

Dis hoe dit gelyk het wanneer Julio César Chávez in sy gloriedae ’n openbare oefensessie in Mexiko gehou het. Foto: Getty Images

In sy 88ste beroepsgeveg gebeur dit toe sowaar – Chávez wen nie. Hy boks gelykop teen die Amerikaner Pernell (Sweet Pea) Whitaker.

Drie gevegte later het Chávez teen nog ’n Amerikaner, Frankie Randall, verloor.

Chávez het daardie aand in die MGM Grand-arena in Las Vegas die verkeerde teiken getref.

Die bloed het gevloei die aand toe Julio César Chávez teen Oscar de la Hoya geboks het. Foto: Getty Images

Daar is twee keer ’n punt by hom afgetrek omdat hy Randall tussen die bene geslaan het.

In die jare daarná het Chávez vir sy nederlaag teen Randall wraak geneem deur hom twee keer te verslaan.

Ongelukkig het Chávez, soos soveel ander boksers, nie geweet wanneer om die bokshandskoene weg te pak nie.

Hy het ook aan drank en dwelms verslaaf geraak, wat sy loopbaan effens laat ontspoor het.

In 1996 het hy teen Oscar de la Hoya, op sy dag ook een van boks se goue seuns, te staan gekom.

Tom Friend van The New York Times het die geveg treffend beskryf:

“He had better not find a mirror. One lousy minute into the 100th fight of his career, Julio César Chávez had a gash over his left eye and no windshield wipers readily available.

“By the 4th round, the stream of blood had stained his trunks, his chest, his navel, his armpits and his dimples, and the referee Joe Cortez stopped the WBC superlightweight championship bout before anyone at Caesars Palace drowned.”

Julio César Chávez in 2019 by die bekendstelling van sy outobiografie in Mexikostad. Foto: Getty Images

Daai bietjie bloed het Chávez nie laat skrik nie. Hy het aanhou baklei tot in September 2005.

Hy het in sy loopbaan 107 gevegte gewen en net ses keer verloor. Twee van sy gevegte het gelykop geëindig.

Hy het ses wêreldtitels in drie verskillende gewigsafdelings gewen. Hy het sy wêreldtitels 27 keer suksesvol verdedig en was 13 jaar lank onoorwonne.

“Chávez wasn’t a one punch knockout artist, but he was a destroyer who could chase down almost any opponent, as his 87 KO’s illustrate. He could box, he could punch (oh, those midsections he pulverized) and he might have had the greatest chin in the history of the sport,” het die bokstydskrif The Ring Chávez beskryf.

• Dié 58-jarige is deesdae ’n boksontleder en kommentator. Sy twee seuns, Julio César jr. en Omar, was albei skaflike boksers.

Bronne: The Ring; The New York Times; thefamouspeople.com; talksport.com; usatoday.com; jcchaveztequila.com.

* Luister hier na Treiber & Robinson se liedjie “One Tequila, Two Tequila, Three Tequila, Floor”

Meer oor:  Mexiko  |  Boks  |  Canelo Alvarez  |  Tequila
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.