Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Todt bied vars hoop oor Schumacher

Michael Schumacher se goeie vriend en voormalige Ferrari-baas, Jean Todt, het die hoop laat opvlam dat die wêreld weer die Formule Een-legende sal sien.

Jean Todt (regs) en Michael Schumacher behou kontak. Foto: Getty Images

Schumacher (51), wenner van sewe F1-wêreldtitels, het in Desember 2013 ernstige breinbeserings in ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen. Baie min inligting is sedertdien oor sy gesondheid bekend, maar hy kan glo nie loop of staan nie.

Die Duitser sou in Junie stamselchirurgie ontvang deur ’n wêreldbekende dokter, die Franse professor en kardioloog Philippe Menasché, in ’n poging om sy senuweestelsel te regenereer.

Die Daily Mail berig Todt bly in kontak met Schumacher en het aangedui daar word vordering gemaak.

“Ek het Michael verlede week gesien,” sê hy.

“Hy veg voort. Ek hoop die wêreld sal hom weer kan sien. Dit is sy en sy familie se doelwit en waarnatoe hulle werk.”

Todt, wat Sondag op die Hungaroring naby Boedapest die Hongaarse Grand Prix bygewoon het, wou hom nie uitlaat oor vergelykings tussen die Britse ster Lewis Hamilton (86 oorwinnings en ses wêreldtitels) wat al hoe nader kom aan Schumacher se rekord van 91 oorwinnings en sewe wêreldtitels nie.

“Jy kan slegs dink in terme van wie die beste is in ’n bepaalde generasie,” sê hy.

“Maak dit saak of Lewis meer wen ná ’n ongeluk soos wat Michael gehad het? Dit is ’n kwessie van proporsie.”

Todt voel daar is ander renjaers wat verdien om genoem te word wanneer ’n mens die beste van alle tye bespreek.

“Ek is lief vir Michael, maar dit is onmoontlik om te sê wie is die beste tot nog toe. Daar is Juan Manuel Fangio, Jim Clark, Ayrton Senna en Michael.”

Hamilton het die Hongaarse Grand Prix vir die agtste keer gewen om Schumacher se rekord van oorwinnings by ’n enkele byeenkoms te ewenaar. Schumacher het die Franse Grand Prix op agt geleenthede gewen toe dit destyds by Magny-Cours aangebied is.

Hamilton het die eerste keer in 2007 in Boedapest gewen en sy eerste sukses in ’n Mercedes-motor ook op die Hungaroring-renbaan in 2013 behaal, ’n jaar nadat hy Schumacher by die Silver Arrows-span vervang het. – Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Formule Een  |  Motorsport  |  Jean Todt  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.