Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Toe fietse te groot vir Tour-wenner was
Tadej Pogacar (middel) Sondag op die podium as die wenner in die Tour de France. Links staan Primož Roglic (tweede) en regs is Richie Porte (derde). Foto: AP

Tot voor Saterdag was die algemene gevoel in fietsrykringe dat die Sloween Tadej Pogacar trots kan voel op sy vertoning in die Tour de France en dat glorie in die wêreld se prestigerykste fietswedren in die afsienbare toekoms op hom wag.

Met reg ook, want voor die 20ste skof was hy algeheel in die tweede plek en die meeste kenners het dit as ’n gegewe beskou dat hy sy landgenoot Primož Roglic (Jumbo-Visma) sou wen.

Maar toe herskryf Pogacar (UAE) as’t ware die draaiboek van die Tour deur met ’n oorheersende vertoning in voorlaaste skof, ’n tydtoets, die algehele voortou te neem. Dit het verseker dat hy Sondag die Tour gewen het, die eerste ryer van sy land om die prestasie te vermag en die jongste wenner in 116 jaar.

Seker nie te sleg vir iemand wat vanjaar die eerste keer in die Tour aangetree en Maandag sy 22ste verjaardag gevier het nie.

Tog sou om algeheel tweede te eindig nie vir Pogacar sleg gewees het nie.

“Dit sou wonderlik gewees het om tweede in Parys te eindig, maar om hier in die geeltrui te wees, is die beste waarvoor ek kon vra,” het Pogacar ná sy sege gesê in ’n verklaring wat sy span uitgereik het.

“Vandag (Sondag) was ’n spesiale dag, dit was vir my moontlik om rustig met die ander ryers te gesels terwyl ons gery het (die 21ste skof). Dit was opwindend om komplimente van soveel ryers te ontvang. Fietsry is ’n mooi sport.

“Dit was ’n lang pad, iets wat baie lank begin het voordat ons in Nice weggespring (vir die eerste skof) het en dit het op ’n wonderlike noot geëindig.

“Van die begin van die jaar af was my fokus op die Tour de France, die voorbereiding was perfek en goed beplan – wat oefenkampe en oefenplanne tydens die inperking (weens Covid-19) ingesluit het,” het hy gesê.

“Ek was altyd gefokus, selfs in die moeilike tye toe wedrenne vroeër vanjaar gestaak is. Pogacar is ’n boorling van die dorpie Komenda in Slowenië, ’n land met net ’n rapsie meer as 2 miljoen inwoners.

Daar was ’n tyd enkele jare gelede toe al die beskikbare fietse te groot vir Tadej Pogacar was. Foto: Reuters

Sy eerste liefde as jongeling was sokker, maar toe sy ouer broer, Tilen, by ’n klub begin fietsry het, wou Pogacar ook. Daar was net een probleem: Al die fietse was te groot vir hom. So hy moes eers wag.

’n Paar maande later, toe Pogacar nege was, is ’n fiets gevind waarop hy kon ry. En net ’n bietjie meer as ’n dekade later het hy die Tour gewen.

Die UAE-span het Pogacar in 2018 gekontrakteer en het vroeg die volgende jaar by die span ingeval. Hy het vinnig sy merk gemaak. In 2019 het hy die Kaliforniese Toer gewen en derde in die Vuelta a España geëindig.

Dit moes ’n aanduiding wees dat die jong Pogacar nie net Tour-glorie in sy visier het nie, maar dat dit binne sy bereik is.

Bronne: tadej-pogacar.com, procyclingstats.com

Meer oor:  Tadej Pogacar  |  Tour De France  |  Fietsren  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.