Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Tokio kyk glo na ander datums, sê bron
Daar is groot onsekerheid oor die Tokio Spele, maar ’n bron sê Sondag ander datums vir die uitstel van die skouspel word tans oorweeg.Foto: Getty Images

’n Organiseerder van die Olimpiese Spele in Tokio is volgens twee betroubare bronne besig om agter die skerms ander planne te beraam vir die uitstel van dié sportskouspel.

Dis is in skerp kontras met die Japannese regering se volharding dat die uitstel van die Spele weens die wêreldwye koronavirus, nie ’n opsie is nie.

Ondanks die Covid-19-pandemie het Japan koppig volstaan met sy besluit dat die Spele soos beplan sal voortgaan.

’n Regeringswoordvoerder het vandeesweek weer bevestig Tokio beraam geen planne om die Spele uit te stel nie.

Meer as $3 miljard se borgskappe is op die spel – ’n Olimpiese rekord – en die Japannese regering het reeds nagenoeg $12 miljard aan voorbereidings bestee.

Ons is uiteindelik gevra om met scenario’s vorendag te kom indien die Spele wel uitgestel word.

“Ons is uiteindelik gevra om met scenario’s vorendag te kom indien die Spele wel uitgestel word,” het een van die bronne na aan die Tokio-reëlingskomitee bevestig.

’n Tweede bron, wat ook by die optrek van scenario’s betrokke is, het dit bevestig. Albei het gepraat op voorwaarde dat hul identiteit beskerm word.

“Ons is besig om ander planne te beraam – plan B, C, D – en kyk na verskillende tydlyne vir die uitstel van die Spele,” het die beamptes Sondag bevestig.

“Die scenario’s ontleed ook die koste betrokke vir die verskillende uitsteldatums.”

Spele se voorland? Die 2020 Olimpiese vlam word in Athene, Griekeland voor ’n dolleë stadion aangesteek.

Nie die Tokio-reëlingskomitee of die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) wou reageer op dié bewerings dat daar wel ander planne ondersoek word nie.

Volgens een bron gaan die reëlingskomitee einde Maart vergader om te debatteer oor die moontlike afskaal van die Spele of die moontlikheid dat die skouspel agter geslote hekke gehou kan word.

Die tweede bron, ook in die binnekring van die reëlingskomitee, het bevestig dat die uitstel van die Spele reeds bespreek word, insluitende moontlike scenario’s vir ’n uitsteldatum in 2021 en 2022.

“Van die lede reken egter ’n uitsteltydperk van ’n maand of 45 dae is waarvoor daar gemik moet word,” het die bron bygevoeg.

Die finale besluit oor die uitstel moet van die IOK kom, maar Japan se siening oor die saak het ook ’n invloed.

Die IOK het by monde van sy magtige uitvoerende hoof, Thomas Bach, volhard dat die Tokio Spele sal voortgaan soos geskeduleer.

Thomas Bach, die president van die Internasionale Olimpiese Komitee. Foto: Getty Images

Dit het groot kritiek uit die geledere van atlete ontlok, wat meen hul gesondheid word nie behoorlik in ag geneem nie.

’n Lid in die reëlingskomitee het vroeër gesê die besluit oor die uitstel moet vinnig geneem word.

“Hoe langer daar getalm word om die besluit te neem, hoe meer geld word aan voorbereidings bestee. Dit sal uiteindelik kansellasiegeld die hoogte laat inskiet.”

Bach het vroeër vandeesweek ’n ander deuntjie begin sing en gesê die IOK “oorweeg verskillende scenario’s”.

Die bron wat betrek is om scenario’s vir ’n uitsteldatum op te trek, het gesê hoe langer daar gewag word, hoe meer druk is daar op atlete om borge aan boord te hou. Japannese borge is tans erg senuagtig, het ’n verteenwoordiger van een van die groot maatskappye bevestig.

Van die groot borge, sluit in Toyota Panasonic.

“Maatskappye bespreek tans intern wat die toekoms vir hulle inhou. Niemand wil die eerste een wees wat amptelik iets oor ’n moontlike uitsteldatum sê nie,” het die senior werknemer gesê.

Niemand wil die eerste een wees wat amptelik iets oor ’n moontlike uitsteldatum sê nie.

In Tokio is die algemene gevoel dat die uitstel onafwendbaar is.

Die minister van finansies, Taro Aso, het Tokio 2020 met 1940 se Spele, wat weens die Tweede Wêreldoorlog uitgestel is, en die boikot van die Moskou-Spele in 1980 vergelyk.

“Dis skynbaar ’n probleem wat elke veertig jaar kop uitsteek. Dis ’n vervloekte Spele – dis ’n feit,” het hy gesê. - Sportredaksie

Meer oor:  Thomas Bach  |  Japan  |  Tokio  |  Uitstel  |  Iok  |  Olimpiese Spele  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.