
Terri Harper (links) verdedig Vrydagaand in Essex die WBR-titel wat sy verlede jaar in Sheffield by Eva Wahlström (regs) afgeneem het. Foto: Getty Images
Twee vroue-boksers kan Vrydagaand die kollig in ’n toernooi in Essex in Engeland steel.
Daar heers taamlike groot belangstelling in die kragmeting tussen Terri Harper en Natasha Jonas.
Harper sal haar super-veergewigtitels van die Wêreldboksraad (WBR) en die Internasionale Boksorganisasie (IBO) teen Jonas op die spel plaas.
Die 23-jarige Harper het verlede jaar vir ’n groot verrassing gesorg toe sy die WBR-titel by Eva Wahlström afgeneem het.
Hoewel Wahlström se loopbaan einde se kant toe staan, was dit steeds ’n uitsonderlike prestasie.
Die 39-jarige Wahlström is Finland se mees suksesvolle bokser nog. Sy is die enigste Fin wat nog daarin kon slaag om wêreldtitels van vier Wêreldboksbeheerliggame (die WBR, IBO, Wêreldboksvereniging en die Internasionale Boksfederasie) te wen.
Harper het die vakante IBO-titel in Julie verlede jaar gewen toe sy met Nozipho Bell van Suid-Afrika afgereken het.
“Ons gaan nie enigiets simpels doen nie. Ons fokus nie op ’n uitklophou nie. Ek gaan my enjin gebruik en Natasha afbreek,” het Harper aan Boxing News 24 gesê.
Jonas, wat in 2012 die eerste Britse vrouebokser geword het om aan ’n Olimpiese Spele deel te neem, dink sy kan met ’n uitklophou wen.
In een van die voorgevegte verdedig Chris Billam-Smith sy Statebond junior swaargewigtitel teen Nathan Thorley.

Chris Billam-Smith (regs) het Craig Glover (links) in November verlede jaar in Liverpool met ’n tegniese uitklophou in die vyfde ronde verslaan om die Statebond se junior swaargewigkampioen te word. Foto: Getty Images
Billam-Smith het aan DAZN News US gesê die tyd wat hy ’n paar maande gelede saam met die gewese WBR-, IBO- en Wêreldboksorganisasie-kampioen Mairis Briedis van Litaue deurgebring het, was uiters waardevol.
Billam-Smith was twee weke lank Briedis se hoof-skermmaat in Riga voordat die Covid-19-pandemie uitgebreek het.
“Toe ek teen Briedis geskerm het, het ek geleer om meer in die kryt te dink. Hy het my kwaai laat deurloop vir elke fout wat ek gemaak,” het Billam-Smith gesê.
Saterdag word ’n toernooi ook in die Microsoft-teater in Los Angeles, Amerika, gehou.

Die knap weltergewig Thomas Dulorme (regs) boks Saterdag in Los Angeles teen Jamal James. Hier is Dulorme in ’n vorige geveg teen Hank Lundy in aksie. Foto: Getty Images
Twee top-weltergewigte, Jamal James van Amerika en Thomas Dulorme van Puerto Rico, sal mekaar in die hoofgeveg die stryd aansê.
James spog reeds met ’n oorwinning oor die hoog aangeskrewe Antonio DeMarco van Mexiko, terwyl Dulorme al gelykop teen die gedugte Jessie Vargas van Amerika geboks het.
Kyk hier na Terri Harper se geveg teen Eva Wahlström: