Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Netbal: Topspelers se lyf ‘vat slae’

Taaier as ’n Wêreldbeker-toernooi.

Dit is waaraan Suid-Afrika se topnetbalspelers blootgestel word in die Nasionale Liga, wat tot Dinsdag in Bloemfontein beslis word.

Léfebre Rademan van die Crinums lê Dinsdag aan na die doelnet in die Vrystaters se wedstryd teen die Stings in Bloemfontein. Dié Protea-doel is ’n sleutelspeler vir haar span en het nog feitlik elke wedstryd gespeel. Sy is ook die kaptein. Foto: Verskaf

Die ses spanne in Afdeling A speel 13 harde wedstryde in 13 dae, terwyl ’n span wat ’n WB-eindstryd haal agt wedstryde sou speel.

Spelers het verlede week ’n rusdag gehad, maar van Dinsdag, toe die tweede ronde begin het, is dit volstoom vorentoe.

Jenny van Dyk, afrigter van die Noord-Gautengse Jaguars, sê dit is die topspelers wat die swaarste las dra.

“Al kan elke span 14 spelers hê, is dit jou voorste spelers wat nie baie ruskans kry nie. Ja, daar is vars bene op die bank, maar jy kan nie sommer enigeen vervang nie.”

Met dag sewe wat Dinsdag afgehandel is, is daar al hoe meer vrae oor die formaat van ’n dubbelronde, plus ’n halfeindronde en eindstryd, sonder genoegsame rusdae tussenin.

Die halfeindronde sal Sondagmiddag beslis word met die spelers wat Maandag ’n bietjie sou rus.

Nou is daar sprake dat die nasionale keurders Maandag proewe wil speel.

Al is die wedstryde nie ’n uur lank nie, word dit steeds teen ’n hoë intensiteit gespeel én was daar weens Covid-19 geen wedstryde nie.

Van Dyk sê daar is geen maklike wedstryd nie.

“Almal speel hard om die halfeindronde te haal.”

Jenny van Dyk, afrigter van die Jaguars, sê die bestuur van jou spelers se herstel en welstand is baie belangrik. Foto: Verskaf

Die afrigters se insette is glo gevra voordat oor die toernooi besluit is. Van Dyk sê baie van hulle sou nie omgegee het om dit in Januarie of Februarie te speel nie.

Sy sê daar is ’n groot verskil tussen baan- en gimnasiumsessies en wedstrydfiksheid.

Daar is vars bene op die bank, maar jy kan nie sommer enigeen vervang nie.

“Toe ons kon begin oefen, het almal hul werklading in oefeninge opgeskerp. Maar die houe wat jou lyf in ’n taai wedstryd vat, is iets anders,” sê die Pretorianer.

Intussen het haar Jaguars Dinsdag hul onoorwonne status behou. Hulle het hul vyfde oorwinning behaal toe hulle die KwaZulu-Natalse Stars met 39-27 geklop het.

Daar was groot vreugde in die Crinums-kamp toe hulle Dinsdagmiddag met 46-43 die bordjies teen die Southern Stings kon verhang.

Die Vrystaters het die afgelope Sondag met ’n enkele doel teen die Kapenaars vasgeval, en Maandag met drie teen die Jaguars.

Hulle het Dinsdag in hul herontmoeting vanuit die staanspoor druk op die Stings geplaas en was nie van plan om weer te verloor nie.

Dit was weer eens ’n strawwe wedstryd met niemand wat bes gegee het nie.

Die Crinums het puik begin en ná die eerste kwart met 14-9 voorgeloop en rustyd met 25-20 asem gaan skep ná ’n gelykop-kwart van 11 doele elk.

In die derde kwart het die Kapenaars die botoon gevoer, maar hulle kon eers in die laaste kwart die eerste keer die leiding neem.

Met enkele minute oor, het die Crinums die uitklophou geplant danksy strategiese skuiwe.

Woensdag se program: 09:00: Baobabs t. Diamonds; 11:00: Sunbirds t. Tornados; 13:00: Crinums t. Jaguars; 15:00: Stings t. Flames; 17:00: Aloes t. Queens; 19:00: Fireballs t. Stars.

TV: Van 15:00 op Variety 4 (209).

Meer oor:  Netbal  |  Nasionale Netballiga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.