Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Topswemmer Minke verbeter wêreldrekords

Minke Janse van Rensburg, ’n 14-jarige swemmer van George, het twee wêreldrekords vir mense met Downsindroom verbeter en ’n Bokkie-prys ontvang vir beste junior sportster van die jaar.

Minke Janse van Rensburg is uitgeput ná die 200 m-vryslag, waarin sy die Afrika-Downsindroom-rekord verbeter het.

Minke is ’n leerling aan die Carpe Diem-skool vir leerlinge met spesiale behoeftes in George. Sy was vroeër vanjaar in die Suid-Afrikaanse span wat in Kanada aan die wêreldkampioenskap vir swemmers met Downsindroom deelgeneem het. Daar het sy verskeie medaljes gewen.

Verlede week het sy Downsindroom-wêreldrekords in die 100 m-vryslag en 50 m-vryslag vir juniors op die Aquabear-gala in Port-Elizabeth verbeter, sê haar pa, Hennie Janse van Rensburg. Haar tyd in die 50 m-vryslag vir juniors (39,20 sekondes) oortref die vorige wêreldrekord vir juniors (40,19 sekondes) en die Afrika-rekord vir alle ouderdomme (39,38 sekondes).

Minke het ook vir die eerste keer in die 200 m-vryslag op ’n gala geswem. “Ten spyte daarvan dat sy die eerste 50 m bietjie vinnig geswem het, het sy ’n nuwe Afrika-rekord vir juniors opgestel.”

Die vorige wêreldrekord in die 100 m-vryslag vir juniors was 1:31.97. Minke se nuwe rekordtyd is 1:30.04. Sy verbeter hiermee ook die junior Afrika-rekord van 1:43.15.

Hoewel Minke hoogs in haar noppies is met haar goue medaljes, is sy spyt dat sy nie verlede Sondag die oorhandigingseremonie kon bywoon nie, sê Jansen van Rensburg. Sy was Sondag in Kaapstad by die Bokkie-toekennings waar sy aangewys is as die Junior Bokkie-Sportster van die Jaar.

Minke Janse van Rensburg op die Bokkie-toekennings in Kaapstad.

Van die ses finaliste was sy die enigste gestremde. “Sy was aangenaam verras toe sy Sondag voor 5 500 toeskouers hierdie gesogte prys ontvang het. Ons is baie trots op haar.”

Hy sê Minke hou tans drie wêreldrekords, ses junior Afrikarekords, twee ope Afrikarekords en twee ope Afrikarekords as deel van ’n aflosspan.

Meer oor:  George  |  Downsindroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.